Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Loop lig vir die ‘ouma-woonstel’

Liewe ouma . . . maar pasop – die een of ander tyd raak sy dalk ’n las wat jou leefruimte begin inkort. Foto: istock
’n
Leser wil die week weet oor ’n kind wat die huis wil oorneem en dan vir ma ’n woonstel agter aanbou. Ma (80) kan in die woonstel woon, die kind betrek die huis en sal vir ma sorg, sodat sy “nie ouetehuis toe hoef te gaan nie”.

Voor ek by die finansiële argumente kom, iets oor ouetehuise en versorging van bejaardes. Ek verstaan nie mense se vrese vir – of kinders se subtiele dreigemente met – ouetehuise nie. Die inwoners wat daar sit en oud en swak lyk, is oud en swak. Dis die ouderdom wat hulle so maak, nie die ouetehuis nie. Die ouetehuis bied versorging, juis omdat hulle verswak is.

Kinders wat werk en eie kinders het, moenie opgesaal sit met die versorging van oumense ook nog nie. Ouers moet dit nie van hul kinders verwag nie. Dis onbillik. En kinders moet dit nie aanbied nie. Die een of ander tyd raak daardie oumens ’n las wat jou leefruimte begin inkort. Dit veroorsaak wrywing wat almal op die ou end ongelukkig het.

Die ouma-woonstel aan ma se huis vir ma en die kind wat dan die huis betrek, het na my mening in elk geval meer van ’n finansiële motief as ’n versorgingsmotief. My baard is grys genoeg om te kan sê, ek het oor jare genoeg voorbeelde gesien om dié stelling te kan maak.

My raad aan die leser vandeesweek was, hou jou huis. As jy besluit jy raak te swak, gaan dan gerus na ’n goeie ouetehuis waar jy professionele mense het wat jou kan versorg. Jy kan dan die huis verhuur en die inkomste gebruik om jou tehuis se huur en versorging deur profes­sionele mense te kan betaal.

Om die huis nou aan die kind oor te dra, gaan hereregte betaalbaar maak. Jy gaan ook geskenkbelasting moet betaal teen 20% van die markwaarde van die huis as jy dit net “gee”. En jy is ’n bate kwyt.

Hou jy die huis in jou naam, maar woon in die woonstel, terwyl die kind en gade in die huis woon, gee jy ook ’n groot deel van jou primêre woningkorting op kapitaalwinsbelasting (KWB) by dood prys.

As jy regtig dié pad wil loop, hou die huis in jou naam en laat die kind vir jou ’n woonstel aanbou op sy of haar koste. Jy sal steeds met ’n moontlike KWB-probleem by dood sit, maar jy hou beheer van jou bate.

En as dit die dag vir die kind nie meer so gerieflik is om vir ma te versorg nie, kan jy terugval daarop. Moenie die waarde van finansiële onafhanklikheid, veral in ’n mens se oudag, onderskat nie. Dis al hoe jy jou selfrespek behou.

By dood sal die huis in jou boedel val vir boedelbelasting, maar as aan drie voorwaardes voldoen is, kan die waarde van die woonstel (geld vir enige verbeteringe) afgetrek word. Die woonstel moes aangebou gewees het terwyl ma nog lewe, met ma se toestemming en dan moet die huis na daardie kind vererf. Kry tog maar die dinge op skrif.

Maak net seker dat die woonstel se aanbou nie ’n voorwaarde is vir die bemaking van die huis nie. Enige ooreenkoms wat testamentêre bemakings probeer reël, is ongeldig in ons reg. Die reg tot testeervryheid oor jou bates behou jy tot die dag dat jy sterf.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Ouma-Woonstel  |  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.