Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Loop lig vir ‘skeermes-polisse’

Ek vra my vrou so ’n ruk gelede om vir my ’n nuwe skeermes te koop. Een met ’n doodgewone, outydse lemmetjie in. Nie ’n elektriese ding nie.

Nico van Gijsen

En wat kry ek? Een met vyf lemme. En ’n ingeboude vyfspoed-vibrator. Verbaas wou ek weet: Waar wil jy hê moet ek skeer met dié ding?

Sy skuld my nog ’n antwoord. My vriend, wat meer weet van die fyner goedjies vir mans, sê die vibrasies is goed vir ’n ou se vel. Maar al wat ek wil doen, is om dag oue stoppels weg te skeer.

Nou wonder lesers seker wat het ’n skeermes te doen met geldsake, dit waaroor ek veronderstel is om te skryf. Dis vir my analogies aan sommige lewenspolisse – daardie soort polisse wat allerhande snert as byvoordele aan jou probeer af­smeer.

Hulle doen dit om geen ander rede nie, glo ek, as dat jy nie te veel aandag aan die kontrak moet gee nie. Fokus op die kortings op vliegkaartjies, fliekkaartjies en ander kaarte, probeer hulle vir jou sê.

Die waarheid is dat as jy nie voldoen aan hul vereistes nie, styg jou premies. Sommiges styg jaarliks met inflasie plus ’n paar persentasiepunte bó inflasie. En jou salaris wat die polis moet betaal, styg selde meer as inflasie, of dalk ’n persentasiepunt meer.

Glo my, dit gaan nie lank duur voor jou gebrekkige oordeel of liggelowige vertroue in ’n verkoopsagent jou inhaal nie. En dit kan dan te laat wees om die polis te vervang met ’n ander een, hetsy weens gesondheidsredes of bloot omdat jy op ’n ouer ouderdom duurder moet betaal vir dieselfde dekking.

Ons kan skerts oor goed soos skeermesse met fieterjasies, maar polisse is ernstige goed. En duurder. Polisse moet vir jou gemoedsrus gee as die noodlot ’n ander pad met jou stap as wat jy beplan. Dan wil jy nie in finansiële ellende ook nog beland nie.

Dit het alles te doen met jou geldwaarde as mens. Jou geldwaarde oor tyd, nie jou bates vandag nie. ’n Versekeraar met wie ek nou saamwerk, raam dat iemand van 25 jaar wat nou so R30 000 per maand verdien ’n hele R80 miljoen werd sal wees met sy aftrede op 65 jaar oud. Dis nie kleingeld nie.

Dit is jou verdienvermoë wat jy beskerm met risikopolisse, lewens-, ongeskiktheid- en gevreesdesiekte-dekking. Die polis moet geld voorsien as daardie vermoë om te verdien van jou weggevat word. Foto: iStock

En dit het spesifiek te doen met jou verdienvermoë oor jou werkende lewe.

Dit is jou verdienvermoë wat jy beskerm met risikopolisse, lewens-, ongeskiktheid- en gevreesdesiekte-dekking. Die polis moet geld voorsien as daardie vermoë om te verdien van jou weggevat word. Vergeet dus van foefies. Kry ’n eenvoudige polis met vaste premies.

Byvoorbeeld, op 25 jaar oud met dié salaris kyk jy na lewensdekking van so R8 miljoen (afhangend van jou huislike verpligtinge en skuld), ongeskiktheidsdekking van so R800 000 (kontantbedrag) en R27 000 maandelikse inkomste. En sowat R800 000 vir gevreesdesiekte-dekking.

Jongmense behoort so vroeg as moontlik risikopolisse uit te neem. Só sorg jy dat sou iets jou tref jy nie van jou ouers se aftreegeld afhanklik gaan wees om jou te onderhou nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.