Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Maak só met korona-testament

Ek is regtig bang vir wat kan volg nadat die virus-oorlog gewen is. Veral as ek sien hoe Bheki Cele, minister van polisie, met die korona-maskertjie onder die ken op televisie, hom daarin verlustig om ons te hiet en gebied.

Nico van Gijsen

Die regulasies sal toegepas word soos hy sê. Geen dop, geen dampie. Punt.

Basiese menseregte, soos vryheid van beweging, wat eers aan ’n staat verbeurd verklaar is, word nie altyd teruggewen nie.

Kom ons los eers die politiek en gesels oor die onderwerp vandag, jou testament in die tyd van inperking. Die vrees vir die korona-siekte het ook baie mense aan hul verganklikheid herinner en hulle wil hul testamente opdateer. Ander besef skielik dat hulle nie testamente het nie.

Die probleem is net dat hoewel die inperkingsmaatreëls goed bedoel is (en ek ondersteun dit in letter en gees, ondanks Cele se TV-manewales) hou goeie bedoelings soms ook onvoorsiene negatiewe gevolge in. Soos die vryhede wat eers prysgegee word waarvan ek hierbo geskryf het.

Art. 2 van die wet op testamente (wet 7 van 1953) vereis dat ’n testament onderteken moet word in die teenwoordigheid van twee getuies, of jy moet teenoor hulle bevestig dat dit jou handtekening is.

Maar hoe nou gemaak? Die inperking verhoed ons om bymekaar te kom.

Hier is die probleem: ’n Getuie moet 14 jaar of ouer wees. Boonop bepaal art. 4 van die wet dat enigeen wat ’n testament as ’n getuie onderteken, nie uit daardie testament mag erf nie. Waar so ’n getuie ’n intestate erfgenaam sou wees (dit is as daar nie ’n testament was nie), sal sy erfenis beperk wees tot die intestate deel wat hom sou toekom.

Die enigste oplossing vir die probleem waarmee ek en my kollegas die afgelope week (telefonies!) vorendag kon kom, is dat jy jou testament opstel en onderteken (in oorleg met jou fidusiêre of finansiële beplanner, of prokureur).

Jou testeervryheid is ’n reg wat ingevolge die Grondwet gewaarborg word

Dan bel jy jou bure en vra hulle moet buite toe kom. Terwyl julle jul afstand handhaaf, druk jy jou testament deur die heining en terwyl julle mekaar kan sien, bevestig jy dis jou handtekening daarop, waarop hulle dan as getuies teken. Kom ons hoop dit reën nie.

Of die staat kan die opstel en ondertekening van testamente as ’n noodsaaklike diens verklaar, sodat jy ander, meer beskaafde, reëlings kan tref.

Jou testeervryheid is immers ’n reg wat ingevolge die Grondwet gewaarborg word, soos bevind deur die appèlhof in die saak BoE Trust NO en andere (2012). Dis onlosmaaklik gekoppel aan die beginsel van menswaardigheid in art. 1 van die Grondwet.

As ek sien met watter bekwame spoed die regulasies gewysig is toe die taxi-organisasies hul rug styf maak, behoort hierdie ’n vulletjie te wees. Selfs komiese katjie-van-die-baan-ministers is tog seker onderhewig aan die Grondwet en appèlhofuitsprake?

Intussen, sorg dat jou testament in orde is, al beteken dit jy moet vriende maak met die bure.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.