Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Mens hóéf nie erfgoed te aanvaar

Ek wil vandag wys op ’n eenvoudige bepaling in ’n testament wat, as dit misgekyk word, groot ontsteltenis kan veroorsaak.

Nico van Gijsen

’n Leser, A, skryf dat hy en sy twee susters, B en C, van hul ma moet erf. A en B erf ’n huis in gelyke dele en C ’n habitatio (woonreg) oor die huis, tesame met die restant van die boedel.

Hy en suster B wil nou afstand doen van hul reg as begunstigdes sodat suster C die huis ook kan erf. Die eksekuteur meen geskenkbelasting of selfs kapitaalwinsbelasting (KWB) is betaalbaar as hulle dit doen.

Belasting is egter die minste van die probleem.

’n Testamentêre bemaking gee vir jou as erfgenaam ’n reg om te kan erf (ek gebruik maar “erf” en sy verbuigings generies om minder tegnies te wees).

Maar dié reg verplig jou nie om te erf nie. Jy kan dit van die hand wys.

Byvoorbeeld, in die saak Wessels NO vs. De Jager e.a. het ’n insolvente erf­genaam geweier om sy erfenis te aanvaar.

Die hof het beslis dat geen reg op die erfbate bestaan voordat die erfgenaam dit aanvaar het nie.

Daar is dus nie sprake van geskenkbelasting nie, want jy het nog niks, nie eens ’n reg op iets, wat jy kan skenk nie. KWB geld nog minder, want KWB word deur die boedel betaal.

Die probleem lê elders. En hierin lê my raad vandag.

graf, doodskis
Dit kan eindelose probleme veroorsaak as jou testament swak opgestel is. Foto: Unsplash

Eerstens is daar nie in die testament ter sprake plaasvervangende erfgename aangewys sou die oorspronklike erfgename nie kan of wil erf nie. Jou erfgenaam kan voor jou doodgaan, of om ’n ander rede nie kan of wil erf nie. Dit is belangrik om altyd ’n plaasvervangende erfgenaam aan te wys.

Tweedens, omdat daar nie plaasvervangende erfgename aangewys is nie, val die erfbate terug in die restant van die boedel. In ons voorbeeld-geval dus, omdat A en B nie hul erfenis aanvaar nie, gaan dit outomaties oor op C, wat die restant-erfgenaam is.

Nou sou ’n mens kon sê ondanks die gebrekkige testament – daar is nie plaasvervangende erfgename aangewys nie – kan die doel tog bereik word, en dit is om die huis onbeswaard aan C oor te dra. Einde van storie.

Nee. Daar is ’n derde punt. Die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953) het ’n vangplek. As jy spesifiek aan ’n afstammeling bemaak (soos in ons voorbeeld) en daardie afstammeling aanvaar nie die erflating nie, gaan die erflating outomaties oor op die afstammeling van die erfgenaam (in dié geval die oorledene se kleinkind) en nie aan die restant-erfgenaam (C) nie.

Die kleinkind kan natuurlik ook die erfenis van die hand wys, maar in hierdie geval het hy ’n eie minderjarige kind (die agterkleinkind van die oorledene).

En net hier eindig alles. Jy moet altyd in die belang van ’n minderjarige optree en jy kan dus nie sy erfenis, hoe skeef en krom ook al verkry, van die hand wys nie.

’n Herverdelingsooreenkoms tussen erfgename sou ’n oplossing kon bied, mits daar ander bates is wat verruil kan word, sodat suster C die huis onbeswaard kan erf.

Kry tog kundige finansiële raad met die opstel van jou testament.

Om die regter in die appèlhofsaak Raubenheimer vs. Raubenheimer aan te haal: Dis een van die belangrikste dokumente wat jy in jou lewe sal onderteken.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak­tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@ finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Erflating  |  Testament  |  Erf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.