Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Mmusi se kar en Jan Taks

Weens Rapport se berigte die afgelope twee weke oor Mmusi Maimane, die Claremont-huis en die Steinhoff-Fortuner bevind die DA-leier homself skielik in die groot geselskap van wêreldpolitiek. Maar om verkeerde redes.

Nico van Gijsen

Soos tans die geval met Donald Trump van die VSA en Boris Johnson van Brittanje, kla die DA ook mos nou van ’n smeerveldtog teen sy leier.

Ai tog, as dit darem die beste is waarmee die DA se beeldpoetsers vorendag kan kom, wel, dan verdien Maimane seker sy posisie tussen daardie twee politieke warkoppe.

Ter wille van die finansiële raadgewing wat hierdie rubriek van my verwag, kom ons kyk liewer na die nuus rondom Maimane en die lesse daarin vir ons almal. Ons kom almal, finansiële raadgewers en ouditeure dalk meer as ander, voor keuses te staan elke keer as ons geldbeplanning doen. Ek wil twee uitlig: etiek en belasting.

Ons kyk eers na etiek. Etiek gaan basies hieroor: Is dit die regte ding om te doen? Nie soseer of dit wettig is, of selfs toelaatbaar is nie. Is dit die regte ding om te doen? As dit nie is, stap weg.

As jy twyfel? My antwoord as ons oor etiek gesels, is voor jy doen, dink eers oor hoe jy gaan voel as jy dit wat jy nou wil doen volgende Sondag op Rapport se voorblad lees. As dit jou skaam en ongemaklik laat voel, is dit oneties. Eenvoudig, nè?

My les dus aan die DA vandag? Moenie die media beskuldig van ’n smeerveldtog nie. Die media kan net smeer met wat jy aan hulle gee om mee te smeer.

Jou leier ‘Mmusi’ daai dêm kar gevat het nie. Klaar. Punt.

Jou leier “Mmusi” daai dêm kar gevat het nie. Klaar. Punt.

Onetiese optrede het dikwels te doen met geld, of met iets wat ’n geldwaarde het. En meer kere as nie is daar ’n belasting-swendel aan gekoppel.

Daar is dus ook nog ’n belastinghoek waaraan joernaliste, sover ek weet, nog nie gekrap het nie. Maar ek meen ons nuwe hoof by die SA Inkomstediens, Edward Kieswetter (jy beter kies om jou belasting te betaal, of ek wetter jou), kan gerus sy “geheime ondersoekeenheid” aansê om ondersoek in te stel.

Voordele en bates, anders as kontant, wat aan werknemers verskaf word, is belasbaar ingevolge par. 1 van die sewende skedule van die Inkomstebelastingwet (58 van 1962). Dit sluit onder meer (par. 2(b)) ’n reg op die gebruik van ’n motor in, en (par. 2(d)) residensiële verblyf.

Die kleinhandel-markwaarde van die motor moet in berekening gebring word as ’n belasbare byvoordeel. Hiervan kan sekere koste en toegewings afgetrek word. In die geval van gratis verblyf is die verhuringswaarde (minus dit wat die werknemer self betaal) die belasbare voordeel.

Maar wat as die motor byvoorbeeld deur ’n weldoener gehuur word, wat dit aan die werkgewer verskaf, wat dit aan die werknemer verskaf? Wel, as ek lid was van Jan Taks se ondersoekeenheid, sou ek begin by die belastingopgawe van die weldoener. Glo my, dit sal daar staan as ’n belastingaftrekking.

En dan volg jy maar die spoor. Of soos hulle sê: “Volg die geld.” En dit kan jou neem na óf die belastingprobleem óf die verwagte teenprestasie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijse

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.