Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Moet ek my huis oordra of bemaak?
Is dit beter om jou eiendom nou aan jou kinders oor te dra, of eerder dit in jou testament te bemaak? Foto: iSTOCK

’n Leser wil weet of dit beter is om ’n huis nou aan haar kind oor te dra, eerder as om dit testamentêr te bemaak. Kom ons kyk.

Sy en haar man het ’n huis op ’n gholflandgoed, wat hulle aan hul seun, wat tans in Amerika woon en werk, wil nalaat. Die huis is gekoop vir R1,3 miljoen en is nou so R3 miljoen werd.

“Kan ons dit nou in sy naam registreer, terwyl ons nog leef, om hom te verlig van die kapitaalwins- en erfbelasting (ek vermoed sy verwys na hereregte, nie erfbelasting nie)?

Voordat ek by die belastingkwessie kom, eers iets anders. Mense is geneig om te dink mense gaan in volgorde dood. Gewoonlik eers pa, dan ma, dan kinders. Die lewe werk ongelukkig nie so nie.

Deur die huis nou aan die kind oor te dra, is dit dadelik in sy boedel. Hy kan trou en dan doodgaan, dan is die huis sy vrou s’n, terwyl julle waar woon? En wat van later jare, wanneer julle verswak is? Die huis bied stabiliteit vir julle.

Nou die belasting. As julle die huis nou aan die kind oordra, is julle dadelik aanspreeklik vir geskenkbelasting. Kom ons neem aan julle is binne gemeenskap van goed getroud en besit elkeen dus ’n halwe onverdeelde aandeel in die huis. Dan kan julle altesaam R200 000 van die markwaarde aftrek, waarna geskenkbelasting teen 20% gehef word.

Op ’n huis van R3 miljoen is die bedrag wat julle nou uit jul sak gaan moet haal en net so vir Jan Taks gee R560 000.

Goeie geld vir ons vriend Jan, sonder dat hy iets daarvoor gedoen het. En nie baie geldslim vir julle nie.

Vergelyk dit met ’n testamentêre bemaking, waar julle elkeen ’n korting van R3,5 miljoen het. Geen geskenkbelasting nie en ’n besparing dus van R560 000 se belasting.

En dan die ander belastings. Eers KWB. Ek sien baie mense maak die fout om te dink die erfgenaam betaal die KWB, soos die leser ook hier bo vra. Dit is nie so nie. Die KWB word betaal deur die oorledene, of as jy dit nou oordra, deur jou en jou man.

As ons aanvaar dat die huis tans jul primêre woning is, is daar ’n bedrag van R2 miljoen wat vrygestel is van KWB. Hetsy dit oordrag is by dood, of deur dit nou aan die kind te skenk. So, ek sien nie ’n KWB-probleem vir julle hier nie.

Nico van Gijsen

Maar ter wille van ander lesers, sou daar wel KWB betaalbaar wees ná die primêre-woning-vrystelling, is daar by dood ’n verdere vrystelling van R300 000, terwyl daar in lewe net R40 000 is (vir elkeen van julle as julle binne gemeenskap van goed getroud is). Die geskenkbelasting, sou dit in lewe oorgedra word, soos hier bo genoem, is aftrekbaar wanneer die KWB-som gemaak word.

En hereregte? Hereregte is betaalbaar deur die persoon wat die bate verkry. Deur dit nou aan die seun oor te dra, skep jy eintlik juis vir hom ’n hereregte-probleem. Op R3 miljoen is dit R163 000.

En as hy dit erf? Niks, want die huis is dan vrygestel van hereregte. Kortom: Deur dit nou oor te dra, kry Jan Taks R723 000. As jou seun kan wag tot julle dood is, kry Jan Taks niks.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Eiendom  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.