Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Pensioen en huweliksaanwas
oud, bejaarde, pensioen
Is jou pensioen deel van 'n huweliksaanwas?

’n Leser wil weet waarom vorm ’n pensioenbelang deel van ’n aanwas-eis by egskeiding en nie by dood nie.

En toe ek hom antwoord – hy werk vir ’n bekende makelary – stry hy met my op grond van handboeke en menings van prokureurs.

So, ingeval lesers ander menings hieroor kry, maak ek eers die stelling en dan verduidelik ek. Jou pensioenbelang is nie deel van die aanwas-bedeling nie. Nie by egskeiding nie en nie by die dood nie.

Net eers weer kortliks oor die aanwas-bedeling. By die beëindiging van huwelike met aanwas-bedeling – hetsy weens egskeiding of dood – word die onderskeie netto batewaardes in die twee partye se boedels bepaal.

Die een met die kleinste groei (tydens die bestaan van die huwelik) in netto boedelwaarde het ’n eis teen die ander party om die helfte van die verskil.

Die sleutel hier is boedelbates. Net dit wat in jou boedel val, is tersaaklik. Byvoorbeeld, geskenke en erflatings is uitgesluit uit jou boedel. So ook bates in ’n diskresionêre trust. En ook jou pensioenbelang.

Jou pensioenbelang word beskerm deur art. 37A en 37B van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956), onder meer teen skuldeisers.

Dit val nie in jou boedel nie en daarom vorm dit nie deel van die aanwas-eis by egskeiding of dood nie. Punt.

Dít is waarom die wet spesifiek bepaal hoe ’n pensioenbelang hanteer sal word by dood of egskeiding.

Art. 37C gee aan die trustees van die pensioenfonds die finale sê oor hoe jou pensioenbelang sal verdeel by dood.

Dis veral by egskeiding waar mense verkeerde afleidings maak. In 2007 is die wet gewysig om die “skoonbreuk”-beginsel by egskeiding in te bring.

Art. 37D(1)(d) magtig nou ’n hof om in sekere omstandighede ’n bedrag uit ’n pensioenfonds toe te ken aan ’n gade of ’n ander persoon wat nie self ’n lid van die fonds is nie. Dit het met die aanwas niks te doen nie.

Nou moet ons kyk na die Egskeidingswet (Wet 70 van 1979) en veral art. 7(7)(a) wat ’n hof die mag gee om ’n party in ’n egskeidingsgeding se pensioenbelang as “geagte bate” deel van sy of haar bates te maak vir die doeleindes van verdeling of onderhoudsbevel.

Dit is nie die intrek van ’n pensioenbelang om die aanwas te bepaal nie. Die aanwas-eis gaan om die verskil in die netto groei in boedelwaarde en word gereël deur die Huweliksgoederewet (Wet 88 van 1984).

Nico van Gijsen

Om ’n verdeling van ’n pensioenbelang te maak, of ’n onderhoudsbevel, vereis ’n hofbevel, wat gereël word deur die Egskeidingswet en die Pensioenfondswet soos hier bo bespreek.

Dit wat betref die pensioenbelang en die aanwas.

Maar wat as jy reeds ’n lewende annuïteit (pensioen) aangekoop het? Dis nie meer ’n “pensioenbelang” soos gedefinieer in die Egskeidingswet nie.

Dit word steeds ingevolge die Pensioenfondswet beskerm deurdat dit nie in jou boedel val nie.

Dis byvoorbeeld ook uitgesluit van boedelbelasting. Dit val ook nie in vir ’n aanwas-eis nie.

Hier is regspraak: In die saak M vs. M (2016) het die hooggeregshof in Johannesburg beslis aangesien die persoon nie die reg op toegang tot die kapitaal het terwyl hy leef nie, vorm die kapitaal nie deel van sy boedel nie en kan dit dus nie in berekening gebring word vir die berekening van ’n aanwas-eis ingevolge die Huweliksgoederewet nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom rig by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijse.

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Huweliksaanwas  |  Geldsake  |  Pensioen  |  Boedelbeplanning  |  Belasting  |  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.