Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Rente, belastings en braaiplekke
Nico van Gijsen

Kyk, ek is nogal lief vir braai. My suster se kinders het my nie jare gelede al sonder rede oom Tjoppie genoem nie. Lesers sal my dus verskoon as ek vlugtig gedink het dalk moet ek die finan­siële praktyk groet en skiet vir ’n ministerspos. Ai, as ek maar net nie so wit en so manlik was nie. Of so eerlik.

Dit moet darem ’n grênd affêre wees: ’n Braaiplek van R166 666,67 (dis mos R500 000 vir drie braaiplekke vir drie ministers). Met belastingbetalers se geld. Dus gratis en verniet. En dit terwyl ons arme drommels wat werk vir ons geldjies en ons belasting getrou betaal, nie eens toegelaat word om die koste van ons beskeie braaiplekkies selfs net af te trek vir belasting nie.

Dat die ouens nog ’n vleisie kan bekostig om op die kole te gooi, is ’n ander storie. Of dalk braai hulle net kreef en perlemoen, want met al die stropery hier aan ons kus, helder oordag en in volle sig van almal, word daar vir al wat jy weet ’n deel boontoe afgelewer vir ’n “wegkyk”.

En dit terwyl kinders verstik in puttoilette, miljoene mense elke aand honger gaan slaap en baie van die “bevoorregtes” wurg aan hul skuldverpligtinge om kop bo water te probeer hou.

Belastingbetalers vorm die ruggraat van die land. Foto: iStock

Nietemin, ek betaal my belasting; betaal jy joune. Dis ons wat die ruggraat van die land vorm. As ons knak, knak die hele land en is ons almal in ons moer.

Van skuld gepraat. Ek sien ekonome verwag ’n rentekoersstyging teen Januarie. Op sigself is dit ook ’n beskuldiging teen die vet katte wat harder aan hul eie luukse gerief werk as aan werkskepping en armoedeverligting.

Vir mense met skuld is ’n styging in die rentekoers bykomende slegte nuus, want skielik betaal jy meer vir dieselfde geld wat jy geleen het. In afwagting van ’n moontlike rentekoersstyging sal ek aanbeveel dat jy so gou moontlik van soveel skuld moontlik ontslae raak.

As jy by verskeie instansies skuld het, betaal dié met die hoogste rentekoerse eerste. Al beteken dit jy spaar net sente, onthou, genoeg sente gespaar word rande. En as jy klaar is met die een stuk skuld, gebruik die ekstra geld om die volgende stuk aan te pak.

Aftrede

Diegene wat op die punt staan om af te tree, moet ook kennis neem, veral as jy ’n gewaarborgde pensioen wil koop. Die pensioen wat jy aankoop, is gekoppel aan die rentekoers op die tyd dat jy dit aankoop. Dit kan dalk ’n goeie ding wees om eers jou geld te belê in ’n lewende annuïteit, wat ’n buigsame beleggingsopsie bied.

As die rentekoers hoër is en die gewaarborgde inkomste beter, kan jy omskakel na ’n gewaarborgde lewensannuïteit. So om kan jy dit doen, andersom nie.

Moet ook nie te lank wag nie. Versekeraars verreken gewoonlik rentekoersverhogings lank voor die werklike styging en ook lank voor ’n rentekoersdaling.

Dis ook nie nou die tyd om braaiplekke te bou nie. As jy die geld moet leen, gaan dit duurder kos. En as jy die geld het, belê dit eerder. Die opbrengs is beter as die genot van braai.

Op beleggingsopbrengste is belastingvoordele vir jou en my, op ’n nuwe braaiplek is daar nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.