Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Skenk of bemaak? Só sal staat vat

’n Vraag wat gereeld in boedelbeplanning opduik, is of dit beter is om bates nou aan kinders te gee as om dit testamentêr te bemaak.

Boedelbeplanning is 'n móét.

Gewoonlik gaan dit om belasting. Maar daar is meer.

Kom ons begin met belasting.

Om te “gee” bring geskenk-belasting (20%) ter sprake en as jy bemaak, moet boedelbelasting (20%) in berekening gebring word. Hier is die eenvoudige antwoord: As dit gaan om die bedrag geld wat jy aan jou kind wil skenk of bemaak, kan dit goedkoper wees om te skenk as om te bemaak.

Die rede daarvoor is dat jy net 20% geskenkbelasting sal betaal op ’n skenking, terwyl jy uiteindelik 25% belasting betaal op die bedrag wat jy bemaak.

Só werk die berekening:

Om aan jou kind R1 miljoen te skenk moet jy R1 200 000 hê, want jy gaan vir Jan Taks R200 000 (of 20%) aan geskenkbelasting betaal (ons neem aan jy het reeds jou R100 000-vrystelling in daardie jaar gebruik, om dinge eenvoudig te hou). Maar om vir jou kind R1 miljoen by sterfte na te laat moet jy R1 250 000 in jou boedel hê, want jy gaan eers R250 000 (of 25%) aan boedelbelasting afstaan.

Die rede daarvoor is dat geskenkbelasting gehef word op die skenkingswaarde, terwyl boedelbelasting gehef word op die boedelwaarde voor die bemakingsbedrag. Terloops, op boedels van meer as R30 miljoen is die boedelbelasting sedert Maart 2018 verhoog tot 25% op die bedrag bó R30 miljoen.

Nico van Gijsen

Baie belangrik hier: Op geskenkbelasting is daar ’n jaarlikse vrystelling van R100 000, terwyl daar ’n korting van R3,5 miljoen op boedelbelasting is. Solank as die bemaking dus binne die kortingsbedrag val, is geen boedelbelasting betaalbaar nie.

Die volgende belangrike punt is dat bates aan ’n kind geskenk in lewe beteken dis nie meer joune nie. Dit val nou in die kind se boedel. En dit kan ter sprake kom in ’n egskeiding – jou skoondogter of -seun kan met ’n groot deel van jou geld sit as hulle skei. Of jou kind kan voor jou sterf en dan sit jou skoondogter/seun dalk met alles.

En jy? Jy kan baie oud word en onvoorsien geld vir onderhoud of mediese sorg nodig hê.

En dan gaan jy dalk leepoog na jou kind (as hy of sy nog die geld het) moet kyk vir oorlewing. Of erger nog, noodgedwonge moet uitreik na ’n voormalige skoondogter of -seun, wat intussen al aanbeweeg het met iemand anders.

Laastens, ’n testamentêre klousule wat die lot van ’n skenking kan bepaal. Ons noem dit “inbring”, die deftige woord is “collatio”. Dit behels dat die reg aanvaar ’n ouer wil sy kinders regverdig behandel en daarom kan geskenke wat tydens jou lewe aan hulle gegee is, ter sprake kom by die verdeling van bates ná dood.

As jy jou kinders uit mekaar se hare en uit die hof wil hou, is dit goed om in jou testament te bepaal dat die inbringreël nie geld nie, of wél.

Dit is maar enkele haakplekke in boedelbeplanning.

Daar is ’n menigte. Dit is net deur tydige en omvattende boedelbeplanning te doen dat jy antwoorde op dié vrae kan kry – vrae wat jyself dalk nie eens kan voorsien nie. 

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Aftrede  |  Boedelbeplanning  |  Boedelbelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.