Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Skuld voor skei - wat jy moet weet

Ek kyk vandag na ’n leser se vraag oor die huweliksaanwas na aanleiding van verlede Sondag se rubriek Só werk aanwas vir geld oorsee.

Foto:

Haar feitestel is kortliks: Sy en haar man, getroud ingevolge die aanwasbedeling, is prakties uitmekaar, maar nie geskei nie. Daar is ook nie duidelike planne vir ’n egskeiding nie. Hy het sy intrek geneem by iemand anders – en het intussen ook heelwat skuld gemaak, verneem sy.

Hoe raak dit haar aanwas-eis?

Net kortliks weer oor hoe aanwas werk. Twee mense trou, in werklikheid buite gemeenskap van goedere, maar met die ooreenkoms dat by beëindiging van die huwelik, hetsy deur egskeiding of dood, het die een met die kleinste netto groei in sy of haar boedel tydens die bestaan van die huwelik, ’n eis teen die een met die grootste boedel vir die helfte van die verskil in groeiwaardes tussen die twee boedels. (Ek het al meer kere geskryf oor presies hoe dit werk, gaan soek gerus op Netwerk24.)

Wat mense soms nie verstaan nie, en dit geld ook die leser in dié geval, is dat tydens die huwelik kan jy met jou bates doen soos jy wil. Julle is buite gemeenskap van goedere getroud.

Tydens die huwelik kan jy met jou bates doen soos jy wil. Julle is buite gemeenskap van goedere getroud. Dis eers by die beëindiging van die huwelik waar die aanwas ter sprake kom.

Dis eers by die beëindiging van die huwelik waar die aanwas ter sprake kom.

Eers dan, sê die Huweliksgoederewet (Wet 88 van 1984), ontstaan die eis, soos ek hierbo noem. Vroeër is elkeen geregtig om te maak met sy goed soos hy of sy wil.

Maar, en hierin lê die sleutel vir die leser, die wet maak tog ook voorsiening vir die beskerming van so ’n eis teen kwaadwillige optrede.

Jy kan ’n hof nader. As jy die hof kan oortuig dat jy ’n eis teen jou man se boedel sou hê as die huwelik beëindig word en dat jou eis ernstig benadeel word deur sy optrede, of beoogde optrede, kan die hof ’n onmiddellike verdeling van die bates beveel.

Kom vroeër eerder as later tot skei as daar geen kans op versoening is nie. Dit maak finansieel sin.

Die hof sal in ag neem wat billik is en of derde partye soos skuldeisers nie benadeel sal word nie. Die hof kan selfs gelas dat die huweliksvorm gewysig word om die aanwas te verwyder.

My voorstel sou wees om hierdie huwelik te beëindig.

Hy het reeds by die nuwe liefde ingetrek en as hy skuld maak, beïnvloed dit jou eis. Red dus wat jy kan red as jy nie ’n hof wil nader soos ek hierbo noem nie.

Neem ook kennis van die ander risiko. Sou hy sy bates verkwansel en jy stop hom nie, terwyl joune toeneem, gaan hy, as julle wel skei, of een van julle sterf, ’n eis teen jóú boedel kan instel as joune dan die meeste groei gehad het.

Kyk altyd na dinge uit twee hoeke.

As jy nou skei – al is daar nie veel van ’n aanwaseis oor nie – het jy minstens nog die opsie om onderhoud te eis. My voorstel sal wees om ’n prokureur te gaan spreek oor óf die egskeiding óf die beskerming van die aanwaseis, of albei.

Net ’n verdere interessante punt: Beteken dit dat ’n party in so ’n huwelik nie sy of haar bates aan ’n trust kan oordra as deel van ’n omvattende boedelplan nie?

Ek meen solank daar opregte bedoelinge is en dit nie kwaadwillig is nie, is daar geen probleem daarmee nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Skei  |  Huwelik  |  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.