Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Slaggat van voorlopige belasting

Ek weet die jaar begin vir die meeste mense eers dié week, maar laat ek wegval met ’n belasting-slagyster wat kan lê en wag. Sy naam is voorlopige belasting.

belasting
Verklaar al jou inkomste en registreer as voorlopige belastingbetaler of boetes is jou voorland. Foto: Unsplash

Voordat ek by die meer tegniese deel uitkom, laat ek net eers dié punt maak: As jy enige inkomste verdien anders as ’n salaris waar daar belasting afgetrek word, is die kans goed dat jy verplig is om as ’n voorlopige belastingbetaler te registreer.

Doen jy dit nie, gaan jy beboet word. Hier is ’n voorbeeld van hoe maklik dit is om in daardie slagyster te trap, selfs al is jy eerlik met Jan Taks.

’n Kliënt van my wie se belastingsake ek hanteer, het met sy 2019-belastingopgawe geopenbaar dat hy deur die jaar sy huis verhuur het toe hy met verlof gegaan het (deur Airbnb, en ek weet daar is baie mense wat dit doen).

Hy het deur die jaar nooit daaraan gedink om my daarvan in te lig nie en dis verstaanbaar: Ek is sy raadgewer, nie sy finansiële bestuurder nie. Maar hy was eerlik en ek doen in elk geval nie sake met leuenaars en belastingontduikers nie.

Kortom, ons verklaar toe die inkomste uit die Airbnb en sowaar slaan Jan Taks hom met ’n boete. En dit omdat hy nie sy belasting hierop vooruit betaal het nie. Hy was heeltemal bereid om dit met die indien van sy opgawe te doen. Hy wou nie verneuk nie, maar Jan Taks wil sy geld vooruit hê.

As jy te min of glad nie die ekstra inkomste verklaar het nie, is ’n boete jou voorland.

As jy dus jou huis uitverhuur het oor die vakansietyd, of ander inkomste verdien het vir meer as R30 000 – byvoorbeeld rente wat meer is as die vrygestelde bedrag – is jy verplig om te registreer as voorlopige belastingbetaler. Ek kan nie hier te diep in die definisies ingaan nie. Praat met jou finansiële beplanner. Kyk my tweede paragraaf hier bo en doen die regte ding.

Voorlopige belasting is nie ’n afsonderlike belasting nie. Dit is doodgewone inkomstebelasting. Al verskil is dat omdat dit nie ’n salaris of pensioen is waar belasting afgetrek en oorbetaal word nie, moet jy dit self verklaar en oorbetaal. Dit gebeur by twee geleenthede per jaar.

Nico van Gijsen

Eers moet jy registreer en dan in Augustus (as jou belastingjaar van Maart tot Februarie loop, wat maar die geval is vir individue) ’n opgawe indien. Daarin verklaar jy die helfte van jou verwagte inkomste vir die belastingjaar uit alle bronne: salaris, pensioen, rente en daardie ekstra inkomste uit die Airbnb, of waaruit ook al jy ’n ekstra geldjie verdien.

Met inagneming van belasting reeds betaal (byvoorbeeld uit jou salaris) bereken die Ontvanger dan die bykomende belasting uit jou inkomste waarvoor daar nie belasting afgetrek word nie.

Die volgende datum is einde Februarie en dan doen jy dieselfde, maar verklaar die volle bedrag van inkomste vir die jaar en betaal belasting soos hier bo. (Daar is ’n derde vrywillige geleentheid ingeval jy ’n blaps met jou berekeninge gemaak het.)

Met die finale jaarliks opgawe word alles saamgevat en bereken. As jy te min of glad nie die ekstra inkomste verklaar het nie, is ’n boete jou voorland.

Hoekom is dit alles nou belangrik? As jy in 2019 inkomste verdien het waarop nie voorlopige belasting betaal is nie, is daar nog tyd. Registreer nou en kry jou belastingsake in orde. Anders kan jy later in hierdie jaar beboet word vir eerlikheid wat te laat is.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.