Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Só raak korona jou polisse

Ek het verlede week hier raad gegee oor wat om met jou spaargeld te doen of liewer nie te doen nie. Vandag kyk ek na die gevolge van die koronavirus vir jou polisse, sou die virus jou siek maak, of as jy sou sterf daarvan.

Jou risikodekking is net so ’n belangrike deel van jou totale finansiële beplanning as jou spaargeld. Foto: iStock

Jou risikodekking is net so ’n belangrike deel van jou totale finansiële beplanning as jou spaargeld. As jy nie kan geld verdien nie weens siekte, ongeskiktheid of dood, is nie net jy nie, maar ook jou geliefdes in finansiële ellende.

En anders as met beleggingsgeld wat ons weet weer gaan groei, is daar met ’n gebrek aan risikodekking, of polisse wat nie uitbetaal nie, geen omdraai nie. Jou geld-turf sit.

Ek dink vergeet van premievakansies. Ons is nie daar nie. Dalk kan die Old Mutuals en Sanlams van die lewe nog hier en daar iemand help met ’n kort premievakansie, maar ek sien dit nie vir die afsienbare toekoms nie.

Goed, die risikovoordele. Dood is die maklikste, daarom eerste. As jy gedek is teen dood (en dis nie ’n beperkte doodsvoordeel soos met ongeluksdekking nie) sal die polis uitbetaal. Dis minstens waar van die groot erkende versekeraars met wie ek kontak het. Ek is nie bewus van enige ander versekeraar wat dit uitsluit nie.

Jou ongeskiktheidsdekking (kontantbedrag) sal uitbetaal, maar slegs as jy permament ongeskik raak vir werk weens die virus, net soos met enige ander oorsaak van jou ongeskiktheid. En weer eens, kyk na jou definisies en voordele. Dit verskil van polis tot polis.

Jou inkomste-ongeskiktheidsdekking is ’n perd van ’n ander kleur. Dit behoort aan jou ’n inkomste te betaal vir solank as wat jy ongeskik is. Ook hier is daar verskeie definisies wat in ag geneem moet word oor wat ongeskiktheid is.

En daar is gewoonlik ook ’n wagtydperk van byvoorbeeld sewe dae of ’n maand.

Foto:

Ek weet ook dat Momentum se Myriad reeds die siekte as ’n ongeskiktheidsgebeure gedefinieer het, weens die verpligte afsondering, en sal dus uitbetaal as jy inkomstebeskerming by hulle het. Maar natuurlik met inagneming van die wagtydperk.

Jou polis vir gevreesdesiektedekking sal nie siekte weens die koronavirus dek nie. Maar dit kan dalk onder die subvoordele van die polis wel ’n bedrag aan jou uitbetaal, afhangend van die gevolge van die siekte.

En hier moet ek ongelukkig sê, mense wat die top-produk by hul versekeraar het, sal gemakliker kan slaap, want hulle het ’n baie beter kans om iets te kry as dié wat die goedkoop opsie geneem het.

Kortom, jou polisse behoort uit te betaal soos voorheen – volgens kontrak. Korona behoort nie daaraan te verander nie.

Net ’n laaste punt ook oor jou beleggingsgeld. My standpunt, en dit word ondersteun deur al die finansiële raadgewers met wie ek kontak het, is om nie te verander aan jou portefeulje nie. Die mark gáán kop optel en dan hardloop soos ’n renperd uit sy blokke, dit belowe ek.

Maar wat as jy werklik so benoud is dat jy voel jy moet liewer nou beskerm wat jy het? (Ek het begrip hiervoor, al voel ekself anders).

Jy hoef nie jou geld te onttrek en in ’n bank te gaan bêre nie. Jy kan bloot binne jou belegging van fondse verander en na ’n geldmarkfonds omskakel. Dit behoort gratis te wees en jy behoort beter te doen as in ’n bankrekening, met min of meer soortgelyke risiko.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.