Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Só werk aanwas vir geld oorsee

Ek kyk vandag na ’n vraag van ’n leser oor die huweliksaanwas en hul beleggings in die buiteland.

Nico van Gijsen

Maar eers wil ek net weer ’n punt maak oor buitelandse beleggings. Ek sien die snaaksste gevolgtrekkings, afleidings en kortom, snert, wat die ronde doen oor buitelandse beleggings.

Weet dit: Jou beleggings in die buiteland is deel van jou boedel vir sowel kapitaalwinsbelasting as boedelbelasting. Jy kan dalk meer aan boedelbelasting betaal met buitelandse beleggings as die 20% of 25% hier.

Die groei in jou buitelandse beleggings is net so vatbaar vir inkomstebelasting hier as enige ander belegging. Waar daar dubbelbelastingooreenkomste is, kan die een teen die ander afgeskryf word, maar belas gaan jy belas word.

Goed, nou die leser se vraag. Sy en haar man staan op egskeiding. Hulle is ingevolge die aanwasbedeling getroud.

Sy vra oor die waarde van buitelandse beleggings wat in ag geneem moet word vir die berekening van die aanwas. En sy wil spesifiek weet oor die rente in euro verdien en inflasie daar teenoor inflasie hier.

Wees gerus en ontspan jou brein, want die antwoord is maklik. Julle is getroud ingevolge die Suid-Afrikaanse Huweliksgoederewet (Wet 88 van 1984) en as die aanwas op julle van toepassing is, raak dit jul albei se boedels in geheel.

Huwelik
Dit maak nie saak waar bates geleë is nie nie, die waarde daarvan by die ontbinding van die huwelik moet bereken word.

En alles wat jy besit vorm deel van jou boedel (uitgesluit vir doeleindes van die aanwas is net dit wat in ’n voorhuwelikse kontrak uitgesluit is, erfbates en skenkings).

Jul buitelandse beleggings is dus deel van jul onderskeie boedels, ongeag hoeveel dit gegroei het, of die impak van inflasie daarop. Dit gaan oor die waarde van die twee boedels (beleggings, of enige ander bate wat onderworpe aan die aanwas is) soos op die dag van die huweliksbeëindiging.

Dan doen jy basies die volgende som. Neem die huidige markwaarde van die onderskeie boedels en trek daarvan af skuldverpligtinge, minus ook die waarde van die bates uitgesluit waarna ek hierbo verwys. Dit gee jou die werklike boedelwaardes.

Trek dan hiervan af die netto waarde van die twee boedels onderskeidelik soos by die sluiting van die huwelik, aangepas met oorkoepelende inflasie (in Suid-Afrika) tot ’n huidige waarde. Dit sal jou dan die aanwaswaardes van die twee boedels gee. Trek die kleinste af van die grootste.

Die verskil is die waarde van die aanwas-eis wat die party met die kleinste boedel het teen die party met die grootste boedel.

Ek herhaal, dit maak nie saak waar die bates geleë is, wat die vorm daarvan is, eiendom of aandelebeleggings, en of die een groei gehad het en die ander ’n verlies gely het nie. Dit gaan slegs om batewaarde by die ontbinding van die huwelik.

Egskeiding is egter nie die enigste vorm van huweliksbeëindiging wat daar is nie. Die dood is ’n sterk ontbinder van huwelike. En dan geld dieselfde reël wat betref die aanwas-eis – met komplikasies as jy nie reg beplan het nie. Lewensversekering kan byvoorbeeld die aanwas-eis van die oorlewende party die hoogte laat inskiet. En dit kan jou erflatings in die wiele ry.

Buitelandse beleggings veral hou ’n groot risiko in met jou testamentêre bemakings. Sekere lande verplig jou om ’n deel aan kinders te bemaak. As daar nog ’n aanwas-eis tussenbeide kom wat jy nie in ag geneem het nie, kan dit jou hele boedelplan in die war stuur.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finan­siële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Aanwasbedeling  |  Skei  |  Egskeiding  |  Aanwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.