Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico Van Gijsen: Só werk die huweliksaanwas

Een van die baie dinge wat ek geleer het vandat ons kleinkinders het, is dat die Paashaas ’n werklikheid is. Hy het ’n grys baard.

Vanoggend vroegdag al word daar ook in en om en langs die Van Gijsen-huishouding gesoek na versteekte Paaseiers. Vier klein kaboutertjies soek en versamel, elk toegerus met ’n spe­siale ouma-gemaakte Paaseier-skouersak.

Om seker te maak een eindig nie met meer as die ander nie, het Ouma Paashaas die reël ingestel dat almal ná die soektog hul sakke uitskud in ’n gemeenskaplike “skatkis”, waaruit dan ’n gelyke verdeling sal plaasvind.

So werk die huweliksaanwas ook. Alles wat in die huwelik bymekaar gemaak is, word by huweliksbeëindiging gelykop verdeel. Maar in dié geval is daar ’n paar dinge wat jy moet verstaan voordat jy die huweliksvoorwaardekontrak teken. Ek kyk na enkeles.

aanwasbedeling

Eers net dit: Elke huwelik buite gemeenskap van goed is outomaties volgens die Huweliksgoederewet (Wet 88 van 1984) onderhewig aan die aanwasbedeling. Jy kies nie om volgens die aanwas te trou nie. Jy moet dit spesifiek uitsluit as jy dit nie van toepassing wil maak nie.

Die aanwasbedeling werk kortliks so: By die beëindiging van die huwelik (dood of egskeiding) het die gade wie se boedel tydens die huwelik geen aanwas, of ’n kleiner aanwas, gehad het, ’n eis teen die ander gade vir ’n bedrag gelyk aan die helfte van die verskil in aanwas tussen die twee boedels.

Baie mense dink daar word ’n gemeenskaplike boedel geskep (uitgesluit die bates wat in die voorhuwelikse kontrak uitgesluit is), wat by die beëindiging van die huwelik dan in twee verdeel word.

Dit werk nie so nie. Dit bly twee afsonderlike boedels sonder gemeenskaplikheid van goed.

Die bygaande grafiek van my kollega adv. Louis van Vuren, ook uitvoerende hoof van Fisa, toon hoe die aanwas werk. Hier het ons Pieter en Marie, wat ’n huweliksvoorwaardekontrak aangegaan het.

Vier elemente is ter sake. Elkeen het ’n beginwaarde by die ontstaan van die huwelik. Dit is uitgesluit van die aanwas en die waarde word volgens VPI (inflasie) aangepas oor die bestaan van die huwelik. Ons sien dat Pieter se boedel die een met grootste aanvangswaarde is.

Dan is daar goed wat spesifiek uitgesluit is in die kontrak en nie deel sal vorm van die aanwas nie. En dan is daar erfbates, wat volgens wet uitgesluit is van die aanwasbedeling.

Ons sien ook dat Pieter se boedel die sterkste groei (aanwas) gehad het tydens die bestaan van die huwelik. Maar ná toepassing van die aanwas-eis is hulle op gelyke vlak wat dit betref, hoewel Pieter steeds die grootste boedel het. My voorstel sou wees om met ’n kundige finansiële beplanner te gesels voordat jy ’n huweliksvoorwaardekontrak onderteken. Dit gaan om meer as die kontrak.

Byvoorbeeld, as jy ’n belegging wil uitsluit, maak seker dat jy hierdie belegging afsonderlik hanteer en dat jy nie geld wat normaalweg deel van jou aanwas sou gewees het daarby voeg nie.

Dit gaan ’n nagmerrie wees om later te ontsyfer wat hoort waar.

En dan is daar lewenspolisse op jou of op mekaar se lewe wat ongelukkig danksy, na my mening, die hardkoppigheid van sommige akademici en die gebrek aan spesifieke regspraak ’n tameletjie op sy eie is.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Bates  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.