Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Só werk skuld in die huwelik
Huwelik
Hoe word skuld hanteer in huwelike binne gemeenskap van goed?

My rubriek verlede Sondag, “Wat vroue moet weet voor hulle trou”, het ’n vraag opgelewer waarby ek vandag wil stilstaan: Hoe word skuld hanteer in huwelike binne gemeenskap van goed?

’n Leser, Paul Botha, wou in kommentaar oor die rubriek op Netwerk24 weet of dit dan nie tot ’n vrou se nadeel is as haar man met wie sy binne gemeenskap van goed getroud is, ’n groot skuldlas het nie. Ek het onder meer genoem dat dit tot ’n vrou se voordeel sal wees as sy binne gemeenskap van goed trou in die geval waar die man broodwinner is en sy huisvrou.

En dan die reaksie op Botha se kommentaar deur Gerrit du Toit dat as die skuldlas so swaar is, het die huwelik ander en groter probleme. Kom ons kyk.

As jy binne gemeenskap van goed trou, besit julle elkeen ’n halwe onverdeelde aandeel in die gemeenskaplike boedel. Alles wat julle gehad het voor die troue en alles wat julle bymekaarmaak gedurende die huwelik, vorm deel van die gemeenskaplike boedel.

(Daar is uitsluitings, soos byvoorbeeld bates wat in ’n voorhuwelikse kontrak uitgesluit is, maar dit raak bietjie tegnies vir vandag se bespreking om hierop uit te brei, so ek hou maar by “alles behoort aan albei”.)

Dit sluit in skuld. Selfs skuld aangegaan voor die huwelik. Maak dus ook seker oor jou nuwe gade se finansiële situasie voordat jy afhaak, want jy gaan ’n halwe aandeel daarin kry ná jou troue.

Nou vir die interessanter een. Julle deel albei in die gemeenskaplike boedel, sowel die bates as die laste, maar wat van daardie bates wat jy in ’n voorhuwelikse kontrak uitgesluit het van die gemeenskaplike boedel? Dit is tog die rede waarom jy dit uitgesluit het, is dit nie? Om dit juis uit die gemeenskaplike boedel te hou.

Die kort antwoord is dat dit wel ingebring kan word om skuld te delg al is dit kontraktueel uitgesluit van die gemeenskaplikheid van goed.

In die saak Du Plessis vs. Pienaar het die appèlhof beslis dat die krediteure van ’n egpaar wat getroud is binne gemeenskap van goed na die totale gemeenskaplike boedel kan kyk vir die vereffening van skuld. As daar nie genoeg bates in die gemeenskaplike boedel is om die skuld te delg nie, dan na bates wat aan enige van die partye behoort wat uitgesluit is van die gemeenskaplike boedel.

Die standpunt van die hof is dat al die bates van albei egpare in die insolvente boedel val as die egpaar gesekwestreer word. Die feit dat die partye bates het wat buite die gemeenskaplike boedel val, het net betrekking tussen hulle onderling oor hoe die bates verdeel sal word by beëindiging van die huwelik. Maar dit raak nie die normale reg van ’n krediteur om na die bates van albei gades te kyk vir skuldvereffening nie.

Uiteraard sal uitgesluite bates eers ter sprake kan kom in gevalle waar die gemeenskaplike boedel insolvent is.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Skuld  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.