Vir lesers wat hul inkomste as ’n onafhanklike kontrakteur verdien, of in die toekoms wil verdien, kyk ek vandag na die vereistes wat gestel word en hoe jy daar verby kan kom.

Nico van Gijsen
Met dié dat al hoe meer mense in die land hul eie potjie krap om finansieel kop bo water te hou, vind die gedagte van ’n “onafhanklike kontrakteur” byval. Dit hou selfs belastingvoordele in. En Jan Taks hou nie dáárvan nie.
Kortliks, die Belastingwet bepaal dat jou vergoeding as kontrakteur steeds gesien kan word as ’n salaris. Met verrykende gevolge vir jou vanuit ’n inkomstebelastingoogpunt.
Dit is belangrik om te verstaan, want beskou die Ontvanger van Inkomste jou as ’n werknemer (maak nie saak wat jy jouself noem nie), is die instansie aan wie jy jou dienste lewer verplig om inkomstebelasting af te trek en aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oor te betaal. Jou aftrekkings vir belasting as salaristrekker is ook erg beperk.
In die geval van ’n onafhanklike kontrakteur daarenteen, is daar nie dieselfde plig op die instansie om belasting af te trek nie, en geniet die kontrakteur ook heelwat meer belastingaftrekkings as ’n werknemer.
Ons kyk kortliks wat vereis die wet. Die vierde skedule van die Inkomstebelastingwet (58 van 1962) plaas ’n plig op werkgewers wat vergoeding aan ’n werknemer betaal om inkomstebelasting te verhaal en aan die SAID oor te betaal.

In die geval van ’n onafhanklike kontrakteur hoef die instansie nie belasting af te trek nie.
Al drie dié elemente – werkgewer, vergoeding en werknemer – moet daar wees vir die plig om te realiseer. Is een van die drie nie van toepassing nie, byvoorbeeld as die persoon wat betaal word nie ’n werknemer is nie, val die verpligting weg. Anders gestel, ek maak gebruik van ’n onafhanklike kontrakteur. Hy is nie ’n werknemer nie en ek betaal dus nie vergoeding (salaris) nie, dan hoef ek nie belasting oor te betaal nie.
Omdat misbruik hiervan gemaak is, is daar nou uitdruklike vereistes waaraan voldoen moet word voordat jy as ’n onafhanklike kontrakteur – en nie ’n werknemer nie – beskou sal word.
Daar is twee toetse van toepassing om te bepaal of jy as ’n werknemer beskou word.
Die eerste toets het twee elemente.
- Die eerste is jou dienste of verpligtinge (50% daarvan) word uitgevoer by óf die perseel van die kliënt wat jou betaal óf aan wie die diens gelewer word.
- Die tweede is of iemand anders toesig en beheer het oor hoe jy jou werk doen en die ure wat jy werk. As dit van toepassing is, word jy beskou as ’n werknemer.
Maar daar is die tweede toets wat die eerste kan oorheers. En dit is as jy meer as drie werknemers het wat nie aan jou verbonde is nie en oor die hele belastingjaar in die werk betrokke is. ’n Verbonde persoon verwys na ’n familielid, maar ook ’n begunstigde in ’n trust.
Voldoen jy hieraan, kan jy jouself as ’n onafhanklike kontrakteur beskou. Onthou, jy is dan verplig om as voorlopige belastingbetaler te registreer. Kyk my onlangse rubriek hieroor.
- Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen