Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Só werk UA as jy skei
Wat gebeur met jou uittree-annuïteit (UA) as jy sou skei?

Wat gebeur met jou uittree-annuïteit (UA) as jy sou skei? Ek kyk na dié vraag na aanleiding van kommentaar op my rubriek van verlede Sondag waarin ek onder meer noem dat dit belastingvoordele ná aftrede kan inhou om ’n UA in die vrou se naam uit te neem (as sy ’n “tuisteskepper” is, terwyl die man werk). Die argument ter ondersteuning hiervan is die laer inkomstebelastingkoerse omdat die inkomste verdeel is.

Uiteraard, soos wat ek verlede week uitgewys het, sal ’n mens die aftrekbaarheid van premies op ’n UA tydens die spaartermyn ook in ag moet neem voordat jy tot dié stap oorgaan. Maar dat dit ’n wesenlike belastingverskil ná aftrede kan maak, is gewis.

Die kommentaar waarop ek vandag wil antwoord, is: Ja, maar wat as hulle skei, dan loop sy weg met die voordele (omdat dit in haar naam is)?

Ek dink dit is ’n aanduiding van sommige makelaars se skewe benadering tot finansiële beplanning vir ’n gesin. Dit sê ook vir my die man word belangriker geag as die vrou en die beplanning word só gedoen dat die vrou met die minste uit die huwelik stap in geval van ’n egskeiding.

Daarom het ek al so dikwels geskryf vroue moet hul eie finansiële beplanning doen. Veral as jou man te veel hand op die blaas met sy makelaar sit.

Wat die regsargument betref, laat art. 37D van die Pensioenfondswet (24 van 1956) toe dat die pensioenvoordele van ’n gade (ingesluit UA-voordele) as ’n geagte bate in berekening gebring kan word by egskeiding. En met die skoonbreukbeginsel wat sedert 2007 geld, is die bedrag wat toegeken word uit die pensioenvoordele onmiddellik betaalbaar.

Nico van Gijsen

Die vrou sal dus in elk geval teen sy pensioenfonds of UA kan eis sou hulle skei (en andersom). Die beskerming wat ’n UA in die man se naam veronderstel, soos blyk uit die kommentaar waarna ek hierbo verwys, is dus ook maar beperk.

Kom ons sê die egpaar kom wel tot skei, dan sal dit mos ’n goeie argument wees as die man byvoorbeeld in die hof kan sê sy het genoeg geld in haar UA-fonds, los myne uit. Want net soos syne, sal haar pensioenfondsvoordele ook ter sprake kan kom.

Onthou, jou pensioenvoordele (ook UA) is by jou dood onderhewig aan die besluit van die trustees van die fonds. Oorlewende gades en minderjarige kinders kry voorkeur, ongeag wat jou wense is.

Ek wil mense nie help om ander te verneuk nie, maar as jy wel voel jy wil jou UA-geldjies beskerm, is die enigste uitweg om uit te tree en ’n lewensannuïteit (of ’n lewende annuïteit) daarmee aan te koop mits jy ouer as 55 is.

Dit sal nie vatbaar wees vir verdeling deur ’n hof nie. In die saak M vs. M in die hooggeregshof in Johannesburg, waar dit gegaan het om ’n lewende annuïteit en ’n eis ingevolge die aanwasbedeling, het die hof beslis net die inkomste uit die annuïteit kan in berekening gebring word.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Pensioenfonds  |  Uittreeannuïteite  |  Aftrede  |  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.