Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Só word oorsese inkomste belas

Ek word oorval met navrae oor belasting op inkomste wat in die buiteland verdien word.

Nico van Gijsen

Ek meen dis omdat mense om die bos gelei word deur vreesaanjaery en halwe waarhede. En dan word “oplossings” voorgestel, wat weinig sin het anders as om kommissie te verdien.

Ek fokus op individue wat in die buiteland werk. Maatskappye met buitelandse belange se ouditeure behoort hulle te kan bystaan.

Die groot bohaai gaan oor die vrystellingsklousule in art. 10(1)(o)(ii) van die Inkomstebelastingwet (58 van 1962) wat geld wat in die buiteland verdien word, vrystel van inkomstebelasting. Kragtens ’n beoogde wysiging wat op 1 Maart 2020 in werking tree, sal net die eerste R1 miljoen se verdienste vrygestel wees. Die res sal hier belas word.

Nou hoor ek terme soos “emigrasie” en “finansiële emigrasie” as ’n belastingvermydingstrategie. Regtig? Om ’n bietjie minder belasting te betaal?

Kom ons kyk na die feite. Die vrystellingsklousule waarna ek hierbo verwys, het te doen met vergoeding verdien vir werk in die buiteland as werknemer. ’n Salaris dus, maar heelwat wyer in die praktyk omdat dit ook bonusse, kommissie, byvoordele en so meer insluit.

Dit is vrygestel as aan sekere voorwaardes voldoen word. As jy kontrakwerk doen in die buiteland, of jou eie saak daar bedryf, is jou vergoeding nie vrygestel nie.

So ook nie jou beleggings daarbuite nie, al is dit gedoen met geld wat jy belastingvry as vergoeding gekry het – ongeag al die twakstories wat ek hoor smouse aan oningeligte en liggelowiges verkondig.

Dit is bloot nie waar dat as jy in die buiteland woon en werk, jy nie meer in Suid-Afrika verblyfstatus het nie.

Suid-Afrika het ’n belastingstelsel gegrond op verblyf. (Daar is ook ’n fisieke teenwoordigheidsomskrywing, waarop ek nie hier sal ingaan nie.) Omdat jy hier woonagtig is, word jy hier belas. Die vrystelling is ’n taks-vergunning op vergoeding verdien, mits aan die voorwaardes voldoen word (dat jy 183 dae per jaar en 60 dae aaneen in die buiteland was).

Die toets vir verblyfstatus is kwalitatief. Kortom: Waarheen beoog jy om terug te keer ná al jou omswerwinge? As dit Suid-Afrika is, is jy hier woonagtig en hier belastingpligtig. So eenvoudig is dit.

Dit is bloot nie waar dat as jy in die buiteland woon en werk, jy nie meer hier verblyfstatus het nie.

Die enigste manier om rondom die beoogde wysiging te kom om inkomstebelasting op vergoeding bó R1 miljoen vry te spring, is om jou verblyfstatus hier te kanselleer. Dit kan jy net doen deur formeel verblyfstatus in ’n ander land aan te neem en, belangrik, ook daar as belastingbetaler te registreer.

Dit, kortliks, is die uitwerking van “finansiële emigrasie”. Dis nie ’n stap wat jy ligtelik moet oorweeg nie. Jy breek al jou bande met Suid-Afrika.

Maar daar is ook ander gevolge. Onder meer, al jou bates hier, uitgesonderd vaste eiendom, is onmiddellik onderhewig aan ’n geagte kapitaalwinsbelasting (KWB) soos op die dag voor jou vertrek. Vaste eiendom is uitgesluit van die geagte KWB, want dit maak in elk geval nie saak waar in die wêreld jy verblyfstatus het nie, vaste eiendom in Suid-Afrika is onderhewig aan KWB – vir sowel inwoners as nie-inwoners.

Jy moet ook kyk na dubbel-belastingooreenkomste tussen Suid-Afrika en die land waarin jy jou bevind vir werk. Sou jy daar belas word, sal jy hier net belas word op die verskil.

Die storie dat jy hier belas gaan word teen 45% is twak; die normale inkomstebelastingskaal geld.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.