Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Spaar vanjaar meer
Beleggers se finansiële kundigheid verskil, maar eindelik moet almal self verantwoordelikheid aanvaar vir hul beleggingsbesluite. Foto: iStock

Kom ons begin met ’n nuwejaarsvoorneme: Ons gaan almal meer spaar. Dit is die enigste seker manier om welvaart te skep.

In die laaste weke van die ou jaar het ek onder die tema van beleggingsmarkte die verskille tussen die kapitaalmark, die geldmark en die aandelemark bespreek. Ek het veral probeer beklemtoon hoe en waar elkeen inpas by jou beleggingsbehoeftes, sowel as die risiko’s en die belastings ter sprake.

Met my eerste rubriek vir hierdie jaar (terloops, ons begin nou die rubriek se 22ste jaar) wil ek alles saamvat met ’n oorsig oor effektetrustfondse – in deftiger taal ook bekend as kollektiewe beleggingskemas. Ek hou van effektetrustfondse, omdat jy spesialis-beleggingskundigheid op ’n skinkbord kry. Meer hieroor later.

Effektetrustfondse is hier rondom 1965 aan Suid-Afrika bekend gestel. Dit het ’n geleentheid gebied vir klein beleggers om in die verskillende beleggingsinstrumente, aandele, effekte en geldmark te belê. Deur eenhede (onderaandele) te koop binne ’n effektetrustfonds kon beleggers met kleiner bedrae geld in byvoorbeeld ’n verskeidenheid aandele belê en só risiko versprei en deel in die groei.

Ek het al dié kritiek gehoor van mense: “Ek glo nie in effektetrusts nie, want ek het al te veel geld daarin verloor.” Nee, dis nie die effektetrusts wat jou geld verloor het nie. Jy het verkeerd belê. Óf in die verkeerde fondse óf jy het nie ’n behoorlik saamgestelde beleggingsportefeulje vir jou spaardoelwit gehad nie óf jy het nie daarby gehou nie.

Effektetrustfondse is baie veilige beleggings. Ek wil drie belangrike punte belig.

Eerstens, die fonds kan nie insolvent verklaar word nie. Dit kan slegs gelikwideer word. Die geld moet dan aan die eenheidhouers uitgekeer word. Daar is nie skuldeisers wat moet deel nie.

Tweedens, die skemas word geadministreer deur trustees wat fidusiêre beheer moet uitoefen. Dit gebeur onder gesag van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA).

Die derde punt is dat ’n bestuursmaatskappy die fonds administreer. Dit is waar die kundigheid lê om beleggingsbesluite te neem en die koop en verkoop van beleggingsinstrumente te beheer.

Nico van Gijsen

Vir ons doel vandag (spaar om welvaart te skep) is die derde punt van meer belang. ’n Effektetrustfonds maak dit moontlik om in ’n verskeidenheid instrumente te belê, soos ek hierbo ook noem. Dink maar aan ’n belegging in effekte waaroor ek vroeër geskryf het. Jy kan self direk daarin belê. Maar hoe besluit jy of dit ’n vyf-jaar-effek, of ’n 20-jaar-effek moet wees? En wil jy al jou geld daarin belê (nooit aan te beveel nie), of watter deel van jou geld?

En aandele? Jy kies nie aandele geblinddoek met ’n potlood in die hand nie. ’n Effektetrustfonds bied jou toegang tot ’n verskeidenheid aandele, uitgesoek deur kundiges wat niks anders doen as om sake en aandele te ontleed en te koop en te verkoop nie.

En dan is daar fondse wat sowel aandele as effekte as kontant in een fonds bied. Bateverspreiding op sy eenvoudigste.

Maar met soveel effektetrustfondse (meer as ’n duisend al), hoe kies jy?

Dit is waar jou finansiële beplanner inkom. Hy of sy moet vir jou kan raad gee oor watter fondse die beste gaan wees vir jou beleggingsdoelwit, jou beleggingstermyn en jou risiko.

Eintlik het mense dit nog nooit so goed gehad nie. Die fondse is daar. Die beskerming is daar. Die kundigheid is daar. Jy moet jou net daartoe verbind om welvaart te skep.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijse

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Beleggings  |  Spaargeld  |  Welvaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.