Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Spaar vir ’n jaar help skaars

Die dag voor Kersfees kry ek ’n oproep van iemand wat vra of ek hom kan help. Hy en sy vriendin het besluit om te begin spaar, R1 000 per maand.

Nico van Gijsen

Beleggings is wat ek doen, so hoe moeilik kan dit tog nou wees?

Moeiliker as wat jy dink.

My eerste vraag is altyd, vir hoe lank wil jy spaar? Dit sal bepaal hoeveel beleggingsrisiko ons kan aanneem en dus watter fondse ons gaan gebruik.

Vir so ’n jaar, antwoord hy op dié vraag. Hy wil toe dadelik weet hoeveel ek dink hy só bymekaar sal kan maak.

’n Jaar, veral as jy maandeliks spaar, is te kort vir ’n belegging as jou doelwit kapitaalgroei is. Om ordentlike groei te kry, moet jy in aandele belê. En die markrisiko is te hoog om in aandele te belê as jy net vir ’n jaar kan spaar. Jy het minstens so vyf jaar nodig.

Spaar oor ’n tydperk van net ’n jaar is bloot om geldjies bymekaar te maak vir ’n spesifieke doelwit. Byvoorbeeld om te gaan vakansie hou of so iets.

Om jou risiko te beperk, moet jy liefs in kontant spaar – in ’n geldmarkfonds of in die bank.

Terug by sy vraag oor hoeveel hy kan verwag. Kom ons sê jy kan 6% rente kry op jou geld.

Baie mense meen dat as jy R12 000 oor ’n jaar gespaar het – R1 000 per maand – plus die 6% rente daarop, dan moet hulle mos R12 720 terugkry.

En dan is hulle ongelukkig as hulle net (in ons voorbeeld van R1 000 per maand teen 6% rente) R12 397,24 uitkry, met ander woorde effektief net sowat 3% op die totale bedrag gespaar.

Dis altyd ’n goeie plan om te spaar, maar vasbyt lewer die beste resultate op. Foto: iStock

Die antwoord hierop is heel eenvoudig. Dit is net die eerste maand se R1 000-premie wat die volle 6% groei vir die jaar kry. Die tweede maand se premie deel net in 11 maande se groei en so aan tot met die laaste premie, wat net vir ’n maand groei kan kry.

Spaar is altyd ’n langtermyndoelwit. Kom ons sê in ons voorbeeld die persoon kon sy R1 000 per maand vyf jaar lank spaar. Ek sou dan beslis nie die geld alles in ’n geldmarkfonds belê het nie, maar ter wille van ’n vergelyking, kom ons hou by die 6% groei per jaar. Ná vyf jaar sal hy R70 119 uitkry.

Dit is ’n saamgestelde opbrengs van sowat 17% op die totale bedrag van R60 000 (R1 000 per maand maandeliks oor vyf jaar) belê. Dit verteenwoordig net ’n raps meer as 3% per jaar gemiddeld op die totale bedrag belê (weens die tydfaktor wat die maandelikse premies aan groei blootgestel is, soos hierbo verduidelik).

Kom ons sê hy belê vir ’n verdere vyf jaar steeds net R1 000 per maand teen dieselfde rente.

Dan sal hy hierop weer R70 119 uitkry, soos hierbo. Dit is egter wat met die eerste vyf jaar se geld, daardie eerste R70 119, gebeur wat belangrik is. Dit alleen sal vir hom R93 835 in die sak bring, ’n samegestelde groei van sowat 34% – en sal hy ná tien jaar kan spog met ’n neseier van (R93 835 + R70 119) R163 954.

En so sal sy geld vermenigvuldig hoe langer hy spaar. Spaar is altyd ’n langtermyn-ding.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2166,42 (6537)
  • Top 40 50873,9 (-92763)
  • All Share 56895,23 (-95867)
  • Resource 10 44008,16 (-31170)
  • Financial and Industrial 30 77574,91 (-167298)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.