Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Vruggebruik vir húlle ’n probleem
Vruggebruik word geskep by wyse van 'n testament. Foto: iSTOCK

Ek het die afgelope twee weke drie navrae gehad oor die verpligtinge van ’n vruggebruiker. Oor maande baie meer. En elkeen van hulle het gehandel oor ’n ongelukkigheid tussen die vruggebruiker, gewoonlik ’n gade of liefling, en die kinders van die oorledene.

Ek bepaal my vandag by vruggebruik wat geskep is by wyse van ’n testament. Die man sterf en sy testament bepaal dat die vrou lewenslange vruggebruik kry oor die woonhuis, plaas, of wat ook al.

Die eiendom vererf na ’n kind. En as jy regtig twis wil hê, na die stiefkind van die vrou wat die vruggebruik erf.

Deur ’n vruggebruik oor eiendom aan iemand te bemaak, behels kortliks die volgende. A bemaak in sy testament eiendom aan sy seun (of dogter) B. Maar hy bemaak die vruggebruik oor dieselfde eiendom aan sy vrou, of sy liefling (mos nie noodwendig dieselfde mens nie) C.

Die gevolg hiervan is kortliks die volgende: B erf eiendom waarmee hy of sy prakties niks kan doen nie, want C besit die vruggebruik. Dit behels dat C die volle waarde van die eiendom (opbrengs) vir haarself het. Sy kan daarin woon, sy kan dit selfs verhuur en al die geld in haar sak steek. B moet wag totdat C dood is voordat hy of sy die eiendom ten volle kan besit.

Dit is ’n resep vir huismoles. Veral as die ma, stiefma of pa se loslappie besluit dis ’n lekker lewe dié, ek gaan lank daaraan klou. Die erfgenaam stap ook aan in jare en moet sit en toekyk hoe sy of haar erfenis deur iemand anders benut word.

Op sy ergste kan dit selfs sy of haar eie boedel- en kapitaalwinsbelastingplig eendag opjaag, sonder ’n dag se lekkerte van die pa se erfenis.

Daarom die twis. En daarom die vrae wat ek kry.

Kom ons kyk nou na die regte en pligte van ’n vruggebruiker.

Soos hierbo genoem, het die vruggebruiker die alleenreg op die volle opbrengs (genietinge) van die bate. Die spreekwoordelike vrugte aan die boom is alles syne.

Die kind besit die boom, maar hy of sy kan basies boggerol daarmee doen.

Die vruggebruiker moet die eiendom met sorg gebruik, soortgelyk aan ’n (goeie) pa wat vir sy familie sorg (bonus paterfamilias). Daar is nie eenstemmigheid oor of die vruggebruiker die eiendom moet verseker nie. Die gevoel onder gesaghebbende skrywers is dat in die moderne lewe daar so ’n plig behoort te wees.

Die vruggebruiker moet die eiendom in stand hou in dieselfde toestand as waarin dit verkry is. Sy (in ons voorbeeld) hoef nie verbeteringe aan te bring nie.

Nico van Gijsen

Eweneens, as die eiendom uitmekaar val weens ouderdom, kan daar nie van die vruggebruiker verwag word om dit te herbou nie.

En die een vraag wat die grootste twis veroorsaak? Ja, die vruggebruiker is wel verantwoordelik vir die erf- en munisipale belasting.

Goed. Hoe hou jy jou geliefdes uit mekaar se hare as jy die emmer skop?

Eerstens, vruggebruik is nie die beste manier om voorsiening te maak nie. Jy kan as daar nie anders voorsien is nie, die vruggebruiker in jou testament vrystel van al of sommige van die verpligtinge genoem.

Maar dit help nog nie die uiteindelike erfgenaam nie.

Deur bloot genoeg lewensdekking uit te neem, kan jy behoorlik vir naasbestaandes sorg, sonder om hulle met vruggebruik op te saal.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Erflating  |  Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2101,05 (1523)
  • Top 40 51801,53 (65598)
  • All Share 57853,9 (73012)
  • Resource 10 44319,86 (18680)
  • Financial and Industrial 30 79247,89 (123696)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.