Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Wat jy oor polis, boedel moet weet

Hoe gemaak in jou testament met ’n lewenspolis? Ek kyk vandag na dié vraag ná ’n aantal opmerkings in die verband deur lesers.

Nico van Gijsen

Die eerste en belangrikste punt om te onthou, is dat ’n polis ’n kontrak is tussen jou en die versekeraar. Jy betaal ’n bedrag geld (die premie) sodat die versekeraar by ’n sekere gebeurtenis (jou dood) ’n bedrag geld uitbetaal aan ’n derde party (die begunstigde). Nie jouself nie, jy is dood.

Die derde party kan óf ’n identifiseerbare begunstigde, byvoorbeeld ’n naasbestaande, wees vir wie jy ’n bedrag geld wil nalaat, óf as jy nie ’n beguns­tigde aangewys het nie, jou boedel.

En dit bring my by die belangrike punt vandag. Die versekeraar betaal uit volgens kontrak en nie volgens wat in jou testament staan nie. Die poliskontrak oorheers die testamentêre bemaking. Baie mense mis hierdie punt, selfs mense wat finansiële raad aan ander moet gee.

Die versekeraar betaal uit volgens kontrak en nie volgens wat in jou testament staan nie. Die poliskontrak oorheers die testamentêre bemaking.

Begunstig jy dus ’n naasbestaande, betaal die polis direk aan die naasbestaande uit. Pasop hiervoor, want bemaak jy in jou testament ook ’n bedrag geld aan dieselfde begunstigde met die bedoeling dat dit die polisgeld is, kan jou ander naasbestaandes ernstig aan die kortste geldspeen trek, want die polisbegunstigde kan dan maklik dubbel kry wat jy beoog het.

Hou jou polisse waarop jy ’n begunstigde aangewys het uit jou testament, die twee het met mekaar niks te make nie.

’n Polis wat aan jou boedel uitbetaal, verskaf die kontant vir ander bemakings wat jy testamentêr kan bepaal. Dit verskaf ook kontant vir sterfbedkoste, meesters- en eksekuteurskoste, skuld en belastings.

So, doen deeglike beplanning, sodat naasbestaandes nie afgeskeep word nie, want hierdie ander uitgawes kry voorrang bo enige testamentêre bemaking.

Lewensversekering is die sambreel wat jou naasbestaandes teen finansiële nood beskerm. Dit moet egter ook behoorlik deel uitmaak van jou boedelbeplanning. Foto: iStock

Pasop ook net dat jy nie al jou polisse gaan begunstig en dink jy doen jou naasbestaandes ’n guns nie. As daar nie geld in die boedel is om hierdie uitgawes te dek nie, sal van jou bates waarskynlik verkoop moet word en kan ander begunstigdes weer daaronder ly.

’n Polis wat begunstig is aan iemand spesifiek – nie jou boedel nie – is uitgesluit van eksekuteurskoste. Ek noem dit meer ter interessantheid, nie as ’n doelwit nie.

Die oorweging wat die swaarste moet weeg, is die versorging van jou naasbestaandes op die beste moontlike manier en die doeltreffende afhandeling van die boedel, nie waar jy ’n paar rand kan afsny nie.

Of jy dit begunstig aan ’n naasbestaande en of dit aan die boedel uitbetaal, maak geen verskil aan die boedelbelastinggevolge nie. Alle polisse op jou lewe word opgeneem vir die berekening van boedelbelasting, ongeag aan wie dit uitbetaal.

Hierna geld sekere aftrekkings, byvoorbeeld ’n polis aan ’n langslewende gade (ingesluit ’n lewensmaat in ’n verhouding wat bedoel is om langtermyn te wees), of aan ’n sakevennoot in ’n koop-en-verkoop-ooreenkoms.

’n Laaste punt, een van die baie redes waarom ek lesers altyd aanraai om behoorlike boedelbeplanning te laat doen, is dat ’n polis wat begunstig is buite die boedel, soos genoem, ook onderhewig is aan boedelbelasting. Maar ’n deel van die boedelbelasting wat getrek word deur die polis is betaalbaar uit die restant van die boedel (geld wat in boedel oor is).

Dit kan tot gevolg hê dat restant-erfgename minder bevoordeel word as polisbegunstigdes.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Lewenspolis  |  Testament  |  Boedelbeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.