Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Wat vroue vóór trou moet weet

Wanneer jy die jawoord gee of vra, verander jou finansiële beplanning dadelik.

Nico van Gijsen

Daarom wil ek vandag kyk na die besluit oor jou huweliksvoorwaardes.

Die huweliksvoorwaardes waarop julle besluit, het ’n regstreekse finansiële gevolg tydens die huwelik, maar ook veral indien julle dalk deur ’n hof eerder as die dood geskei word: ’n Pad wat baie ongelukkig stap, soms met bitter en duur gevolge.

Net in breë trekke: Jy trou óf binne gemeenskap van goed óf buite gemeenskap van goed. Indien dit laasgenoemde is, kies jy ook of jy die aanwas wil laat geld of nie.

Eers terug by my rubriek van twee Sondae gelede, Pensioen en huweliksaanwas. Ek kry dié week ’n e-pos van ’n prokureur (ons los maar sy naam en spaar hom die verleentheid) wat sê ek is verkeerd.

Ek staan daarby: Jou pensioenbelang vorm nie deel van die huweliksaanwas nie. Jou pensioen kan ’n geagte bate in ’n egskeidingsgeding wees as die hof so reken, maar dit vorm nie deel van die aanwas nie.

Ek het die prokureur per e-pos laat weet dat hy gerus die artikel weer kan lees. En dan sommer ook die stukke wetgewing wat ek daarin aanhaal. Dis tot sy kliënte se voordeel dat hy hierdie insigte kry.

Ek het op hierdie onderwerp vandag besluit omdat ek sien wat in die werklike lewe aangaan. En ek wil veral met vroue praat, want dis ongelukkig hulle wat in die meeste gevalle aan die kortste ent trek.

unsplash
Jy kan binne gemeenskap van goedere of met die aanwasbedeling trou, maar sekere bates uitsluit. Foto: Unsplash

Voordat julle besluit oor huweliksvoorwaardes, moet jy, juffrou, besluit oor hoe jy jou lewe gaan lei ná jou troue. Gaan jy ’n loopbaan volg? Gaan jy vir ’n rukkie werk en dan kinders grootmaak? Gaan jy, veral as jy met ’n boer trou, ’n huisvrou wees?

As jou held jou voete onder jou uitslaan en belowe om die broodwinner te wees terwyl jy by die huis bly, weet dan dat net één van julle rykdom gaan skep.

Weet ook dat as julle paadjies skei, hy nie maklik gaan deel nie. Dit gebeur.

Dan is dit beter om te trou binne gemeenskap van goedere sodat julle gelykop deel in alles. Dis die sekerste manier wat jy kan deel in die welvaart, tensy jy dink ’n huisvrou het nie waarde nie en dra nie by tot die gesin se welvaart nie.

En as dit gaan om ’n plaas of iets anders wat sy familie nie graag wil hê jy moet ’n halwe aandeel in kry nie, kan dit maklik in ’n voorhuwelikse kontrak van die gemeenskaplike boedel uitgesluit word.

Of in so ’n geval, as jou ridder – gewoonlik die familie – nie gemaklik is met so ’n reëling nie, trou dan met die huweliksaanwas.

Dan kan julle bates uitsluit en wanneer die huwelik eindig (dood of egskeiding), kry die een met die kleinste groei in sy of haar boedel ’n eis om die helfte van die verskil in groei tydens die huwelik.

My prokureursvriende voel almal baie sterk oor die uitsluit van die gemeenskaplikheid van goed en ek weet hoekom. Dit maak sin ook. Elkeen werk dan aan ’n eie boedel enersyds en deel andersyds nie in die finansiële risiko van die ander party sou hy of sy dalk in eie naam ’n onderneming bedryf nie.

Maar ek sien ook hoe vroue sleg kan tweede kom.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Huwelik  |  Trou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.