Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Watter annuïteit vir jou?

Ons kyk vandag kortliks na die verskillende annuïteite wat beskikbaar is. Dit is duidelik dat dit by baie mense groot verwarring skep.

Eers net, wat is ’n annuïteit? Eenvoudig gestel, dit is ’n bedrag geld wat gereeld, byvoorbeeld maandeliks of jaarliks, betaal word aan iemand van ’n belegging van die een of ander aard.

Uittreeannuïteit

Maar hier is nou die verwarring. Jy kry ’n uittreeannuïteit (UA) wat eintlik met ’n annuïteit – die bedrag geld wat uitbetaal word soos hierbo genoem – net mooi niks uit te waai het nie. Inteendeel, daar is geen sprake van ’n annuïteit (bedrag geld wat uitbetaal word) met ’n uittreeannuïteit nie.

’n UA is bloot die produk waarin jy spaar om eendag te kan gebruik om ’n ander produk mee aan te koop wat vir jou ’n werklike annuïteitsinkomste sal bied. Net soos met jou pensioenfonds of voorsorgfonds. Jy koop ’n pensioen (annuïteit) met jou aftreegeld, of dit uit ’n pensioen-, voorsorg-, UA- of bewaringsfonds kom.

Jy koop óf ’n lewende annuïteit (jou eie pensioen, waar jy die beleggingsbesluite neem en besluit hoeveel jy per jaar wil onttrek binne die grense van 2,5% en 17,5% van die kapitaal) óf ’n lewensannuïteit, waar die versekeraar vir jou ’n gewaarborgde inkomste gee in ruil vir jou geld, maar wat baie meer gemoedsrus bied. En vir die meeste mense die sinvoller opsie is, al wil baie nie luister na dié goeie raad nie.

Ek vertrou ek het hierdie stukkie verwarring uit die weg geruim. Ten minste tot hierdie punt.

Vrywillige annuïteit

Daar is nog ’n annuïteit, ons noem hom ’n vrywillige (of tradisionele) annuïteit.

Om hom te verstaan moet ons kyk na die bron van die geld waarmee die annuïteite aangekoop word. Ons praat in die bedryf van “verpligte” teenoor “vrywillige” geld.

Verpligte geld is geld wat uit ’n aftreefonds kom, soos jou uittreeannuïteit, pensioenfonds, voorsorgfonds of bewaringsfonds. Jy is verplig om by aftrede met minstens twee derdes van hierdie geld ’n annuïteit, soos ’n lewende annuïteit of lewensannuïteit, aan te koop. Dis die wet.

Vrywillige geld, daarenteen, is geld wat jy gespaar het, buite ’n aftreefonds, deur die jare. Jy kan daarmee maak nes jy wil.

Jy kan alles onttrek en ’n vakansie oorsee gaan hou of ’n blink vuurwa koop. Of jy kan dit gebruik om vir jou ’n lewenslange, gewaarborgde inkomste te koop, ’n annuïteit. Dis jou vrywillige annuïteit. (Daar is natuurlik niks wat jou keer om ’n inkomste uit jou vrywillige spaargeld te onttrek nie; ons praat hier net van as jy kies om ’n gewaarborgde annuïteitsinkomste te koop.)

Jy kan nie vrywillige geld en verpligte geld saamvoeg in een produk vir ’n groter annuïteitsinkomste nie. As jy jou gewone spaargeld (vrywillige geld) en jou uittreeannuïteit of pensioenfondsgeld sáám wil gebruik vir ’n gewaarborgde inkomste, moet jy die produkte onderskeidelik aankoop soos hierbo genoem.

Wat is die verskil?

Belasting. As jy met jou verpligte geld (uit ’n UA of pensioenfonds) ’n annuïteit, lewende annuïteit of lewensannuïteit koop, word jy belas op die volle bedrag en volgens die belastingskaal van toepassing. Dis soos ’n salaris. Aftrekkings is erg beperk. Jy kan wel verdere bydraes tot ’n UA-fonds aftrek, of art. 18A-skenkings, maar daar is nie juis geleentheid vir ander aftrekkings nie.

Die rede daarvoor is dat jy – toe jy gespaar het in die pensioen- of UA-fonds – ’n belastingaftrekking gehad het van jou bydraes. Jy kan tot R350 000 of 27,5% van jou inkomste in ’n jaar aftrek vir belasting. Jou groei in die fonds is eweneens belastingvry. Dis ’n reuse-belastingbesparing oor die verloop van ’n mens se werkende lewe.

Vrywillige geld, dit wat jy nie in ’n aftreefonds spaar nie, is nie belastingaftrekbaar nie. Jy betaal inkomstebelasting daarop. En jy betaal belasting op jou groei in die belegging. Inkomstebelasting op die rente- en huurinkomste wat in jou belegging verdien word, en kapitaalwinsbelasting as jy aandele verkoop in die belegging.

Maar wanneer jy die dag ’n inkomste wil onttrek uit hierdie (jou vrywillige) belegging is daar geen verdere belasting nie. Al jou belasting op die belegging is reeds betaal. Uiteraard sal jy voortgaan om belasting te betaal op die verdere groei in die geld wat jy nie onttrek nie.

Maar wat as jy kies om daarmee ’n gewaarborgde annuïteit (vrywillig) aan te koop? En hoekom sal jy?

Jy gee daarmee jou kommer oor jou beleggingsopbrengs oor aan die versekeraar. Jy koop gemoedsrus. Jou inkomste is gewaarborg (daar is ’n aantal waarborg-opsies waarop ek nie nou kan ingaan nie). Jou inkomste (of annuïteit) is gewoonlik heelwat meer as wat jy met sekerheid uit ’n gewone eie belegging kan kry (wat in elk geval nie gewaarborg is nie).

Jy betaal belasting op die inkomste (annuïteit), maar die verskil met die verpligte annuïteit in dié verband is dat jy hier net inkomstebelasting op ’n deel van jou inkomste betaal en nie op die volle inkomstebedrag nie. Dit kan in sekere gevalle selfs beter wees om by aftrede jou een derde van die verpligte geld in ’n aftreefonds te neem en daarmee ’n vrywillige annuïteit aan te koop ter wille van die belastingvoordeel.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Annuïteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.