Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Weet wat jou siekte-polis dek

’n Navraag van ’n makelaarsvriend oor ongeskiktheidspolisse het my laat wonder oor finansiële risikodekking: Weet jy wat jy gekoop het?

’n Ongeskiktheidspolis betaal uit as jy nie meer kan werk nie - maar jy moet die fynskrif lees.

Ongeskiktheidsdekking is nodige finansiëlerisiko-voorsiening, en nie ’n luukse nie. Kom ons begin dus by waar dit inpas.

Jou finansiële beplanning deur jou lewe, lyk – eenvoudig gestel – só: Jy begin werk en verdien ’n salaris. Daarvan moet jy spaar vir aftrede, want die tyd gaan kom dat jy geld gaan nodig hê om van te leef, maar nie meer ’n inkomste verdien nie.

Tussen die begin van jou werkslewe en aftrede kan dinge met jou gebeur wat jy nie voorsien het nie, maar wat ons uit ervaring weet, kán gebeur. Daarom vra ons die “wat as . . .?”-vrae. Wat as ek doodgaan? Wat as ek ongeskik raak? En so meer.

Lewensdekking help om seker te maak jy kan jou verpligtinge teenoor familie, skuldeisers en die belastinggaarder nakom wanneer jy sterf.

Ongeskiktheidsdekking beskerm jou sou jy weens die een of ander gebeure of siekte nie langer in staat wees om inkomste te kan verdien nie – hetsy permanent of tydelik.

Met lewensdekking is daar nie onsekerheid nie. Mense gaan nie half-dood nie. Maar met ongeskiktheid is dinge nie so klokhelder soos met die dood nie. Byvoorbeeld, jou werkgewer en selfs jou dokter kan jou as ongeskik beskou om te werk, maar die versekeraar kan ’n ander mening hê.

Nico van Gijsen

Ek het talle sulke gevalle gesien.

Ek noem kortliks ’n paar relevante feite oor ongeskiktheidsdekking.

Die term ongeskiktheid word soms los en vas gebruik. Daar is byvoorbeeld ongeskiktheid en funksionele inkorting. Weet jy wat jy het?

Daar is breedweg ook twee soorte ongeskiktheidsdekking. Die een betaal ’n kapitaalbedrag uit sou jy ongeskik raak. Die ander is die inkomstebeskermer-tipe-polis wat by ongeskiktheid vir jou ’n maandelikse inkomste betaal.

In die eerste geval moet jy bewys dat jy ongeskik is om te werk. As jy aan die versekeraar se definisie voldoen, word die versekerde kontantbedrag uitbetaal.

Met die tweede moet jy bykomend ook bewys van inkomsteverlies lewer. Veral belangrik met die kapitaalbedrag-versekering, is of jy gedek is teen algehele ongeskiktheid, of net vir jou eie of soortgelyke beroep.

Met die inkomstebeskermer-polis kan jy gedek wees teen permanente of tydelike ongeskiktheid. En daar is gewoonlik ook wagtydperke voordat die polis in werking tree. Daar kan ook ’n tydperk aan gekoppel wees, gewoonlik tot 24 maande en dan staak die inkomste uit die polis.

Met die inkomstebeskermer-polis kan jy maklik oorverseker wees. Jy het dalk ’n polis by jou versekeraar terwyl soortgelyke dekking deur jou werkgewer verskaf word. Sou jy wel eis, word al die inkomste bymekaar getel en as dit meer is as die verlies aan inkomste wat jy kan bewys, sal die uitbetalings dienooreenkomstig verminder.

Maak seker jy weet wat jy het, anders kan jy jou geld mors.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.