Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Wenke oor BTW, ander belastings
Nico van Gijsen

In die begrotingsrede is drie belastingverhogings aangekondig waarby ek vandag wil stilstaan.

BTW (belasting op toegevoegde waarde) verhoog van 14% na 15%, terwyl boedelbelasting en geskenkebelasting van 20% na 25% verhoog op bedrae bo R30 miljoen (onder dit bly die koers 20%).

Laat ek begin deur te sê, jy maak ’n fout as jy jou finansiële beplanning rondom belasting alleen doen. Mense fokus myns insiens glad te veel op maniere om inkomstebelasting te vermy en onderskat dan die gevolge van ander finansiële faktore.

Maar belasting is ’n faktor, so kom ons kyk.

Die werklike invloed van die BTW-verhoging is ’n skamele 0,88%-verhoging in prys op belasbare goedere of dienste. Die ding met BTW is dat jy in ’n groot mate beheer daaroor het. Dis ’n kinderlik logiese ding: Jy kan bespaar op BTW deur eenvoudig minder te koop. Ek dink die meeste mense koop te graag, pleks dat hulle meer spaar.

Dis ’n kinderlik logiese ding: Jy kan bespaar op BTW deur eenvoudig minder te koop.
Nico van Gijsen

Gaan kyk gerus na hoe min van jou uitgawes in ’n maand, kos en klere, die basiese goed uitgesluit, bydra tot die skep van welvaart en die verbetering van jou lewe.

Welvaart belas

Boedelbelasting is ’n welvaartbelasting. Die belasting word gehef op die netto waarde (ná alle aftrekkings) van jou boedel by dood en ná die R3 500 000-vrystelling.

Vir die nuwe 25%-koers om te geld, pleks van die bestaande 20%-koers, moet jou boedel ná aftrekkings en ná die vrystelling meer as R30 miljoen beloop.

Mense met dié klas van bates moes lankal deeglike finansiële beplanning gedoen het. En hierin sou ’n korrek opgestelde en goed geadministreerde trust ’n reuse-bydrae kon lewer.

Vir dié wat nie het nie, wat anders?

Koop minder - en jy sal minder BTW betaal. Foto: iStock

Jy kan bates skenk aan ’n gade, sodat julle onderskeie boedels onder die perk van die verhoogde koers is. Daar is geen geskenkebelasting tussen gades nie.

Ja, bemakings aan gades is ook aftrekbaar vir boedelbelasting, maar dan verhoog jy net die langslewende gade se boedel en ons wil juis elkeen se boedel onder die perk kry, nie waar nie?

Skenkings goedkoper

Geskenkebelasting is myns insiens ’n belasting om boedelbelasting te beskerm. Ek is nie seker of die wetgewer die verhoging wil koppel aan ’n leeftydkoers nie, maar andersins hoef jy bloot net onder die R30 miljoen te skenk – byvoorbeeld aan ’n familietrust – as jy wil en dit oor meer jare doen.

As ek moet kies tussen die twee sou ek liewer geskenkebelasting betaal as boedelbelasting, omdat dit goedkoper is, al is die koers dieselfde. Dis die manier waarop die som gemaak word wat die verskil bring.

As ek R10 miljoen (aan byvoorbeeld ’n familietrust) skenk, is my geskenkebelasting R2 miljoen. Daar is dan R12 miljoen uit my boedel waarop nie boedelbelasting gehef kan word nie. Boedelbelasting op R12 miljoen is R2,4 miljoen, teenoor die R2 miljoen se geskenkebelasting.

Om die volle R10 miljoen (aan die familietrust) te bemaak, is my boedelbelasting R2,5 miljoen. Uiteraard sal ’n mens die R3,5 miljoen-vrystelling reeds in ag geneem het by die berekeninge.

Wat die syfers en my argumente wys, is dat jy jou langtermynfinansies moet beplan met ’n baie breë uitkyk op die werklikheid waarbinne ons leef.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Begroting 2018  |  Btw  |  Boedelbeplanning  |  Boedelbelasting  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.