Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nuwe R350-toelae goeie nuus vir arm ma’s

Duisende ma’s in arm huishoudings wat weens die Covid-19-pandemie sukkel om werk te kry, sal nou vir die eerste keer vir die spesiale noodverligtingstoelaag van R350 per maand aansoek kan doen.

Sassa grants
Sassa waarsku mense teen bedrog. Aansoeke vir die R350-toelaag sal nie telefonies of per e-pos gedoen kan word nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat dié toelaag heringestel word en tot Maart 2022 toegeken gaan word.

Primêre versorgers wat reeds kindertoelae vir hul minderjarige kinders ontvang, sal vir die eerste keer ook daarvoor kwalifiseer indien hulle persoonlik geen ander staatshulp ontvang nie en werkloos is.

Die R350-toelaag is van Mei 2020 tot Januarie 2021 aan tussen 2,25 miljoen en 6,5 miljoen mense per maand toegeken. Mense wat enige ander vorm van staatshulp ontvang, insluitend toelae vir kinders, is egter uitgesluit.

Navorsers wat aan die Nids-Cram-projek deelgeneem het, het daarop gewys dat dit vroue benadeel omdat hulle gewoonlik die primêre versorgers is en dus die kindertoelae namens hul kinders ontvang.

Baie meer vroue het hul werk tydens die inperkings verloor omdat baie meer vroue as mans werk in die sektore, waaronder toerisme, gasvryheid, kleinhandel en private huishoudings, wat die ergste geraak is.

Dit is sektore wat dikwels die minimum loon betaal en waar stukwerk of deeltydse werk algemeen is en vroue dus steeds vir kindertoelae gekwalifiseer het. Dié toelaag kan toegeken word aan enigeen wat minder as R4 000 per maand verdien.

Daar was wel ses maande lank, van Mei tot Oktober 2020, ’n toelaag van R500 per maand per versorger as deel van die spesiale maatreëls wat vir die Covid-19-krisis ingestel is.

Volgens een van die studies in die Nids-Cram-projek deur Daniela Casale van die Universiteit van die Witwatersrand en Debra Shepherd van die Universiteit Stellenbosch was net 39% van die ontvangers van die Werkloosheidsversekeringsfonds se tydelike hulpskema (Covid-19-Ters) in Oktober 2020 vroue. Daarby was net 37% van die ontvangers van die R350-toelaag vroue.

Nic Spaull, sameroeper van die Nids-Cram-navorsing, het dit verwelkom dat werklose versorgers nou die R350-toelaag mag ontvang.

Aansoeke vir die toelaag het nog nie geopen nie.

Die agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), wat toelae administreer, het mense Maandag gewaarsku teen ’n bedrogspul wat die ronde doen.

“Geen aansoeke vir die spesiale Covid-19-noodverligtingstoelaag sal per telefoon, e-pos of USSD gedoen word nie. Besonderhede en die datum waarop die aansoekstelsel heropen, sal binnekort aangekondig word.”

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het aan eNCA gesê haar departement is bly oor die herinstelling van die toelae omdat Covid-19 steeds ’n impak het op mense se vermoë om werk te kry.

Zulu sê mense op die databasis wat voorheen die toelae ontvang het, gaan nie outomaties weer die toelae ontvang nie. Mense sal weer van voor af moet aansoek doen omdat hulle dalk intussen werk of ander toelae gekry het.

Zulu sê die departement het self voorheen gepleit dat die R350-toelaag verleng word omdat dit uit navorsing duidelik is dat dit wel ’n impak gehad het om te verseker armoede vererger nie.

Zulu beskryf dit as ’n tree in die rigting van ’n basiese inkomstetoelaag, waarvoor baie organisasies pleit. Sy sê die meeste politieke partye ondersteun so ’n toelaag en die regering se beleidsproses daaroor is “aan die gang”.

Op die vraag hoe die departement die toelae gaan bekostig, het Zulu gesê die tesourie sal meer geld moet bewillig.

Tito Mboweni, minister van finansies, hou Woensdag ’n nuuskonferensie oor al die nuwe hulpmaatreëls wat Ramaphosa aangekondig het.

Die Nids-Cram studies was vyf reekse navorsing oor die uitwerking van die Covid-19-pandemie op onder meer werkloosheid, honger, geslagsgelykheid en opvoeding. Die laaste reeks studies is begin Julie uitgereik en wys min of meer dieselfde aantal mans het nou werk as voor die pandemie, maar 8% minder vroue het nou werk.

LEES OOK: Goeie én slegte nuus oor werkloosheid

Vroue met werk kry ook minder ure werk (en dus minder betaling vir mense wat per uur betaal word), terwyl mans s’n gestyg het.

Meer oor:  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Sassa  |  Toelae  |  Inperking  |  Armoede  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.