Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nuwe, strenger regulasies vir vakansieklubs
Vakansieklubs gaan eersdaags aan baie strenger reëls moet voldoen. Foto: TripAdvisor

Tyddeelskemas en vakansieklubs sal binnekort nie meer “wegkruipertjie” kan speel om te verhinder dat mense binne die afkoeltydperk hul kontrakte kanselleer nie.

Klubs sal deur regulasies verplig word om ’n e-posadres te verskaf waardeur mense kontrakte binne die vyf dae ná ondertekening kan kanselleer. Dit sal nie meer aanvaarbaar wees om te vereis dat kansellasie slegs per geregistreerde pos geskied nie – veral gegewe dat dit dikwels onmoontlik is om binne vyf dae posstukke van Johannesburg na Kaapstad gestuur te kry.

Daar word ook voorsien dat lewenslange kontrakte verbied gaan word en dat vastetermynkontrakte van so kort as twee jaar ingestel gaan word wat dan slegs deur ’n wedersydse ooreenkoms hernieu sal kan word.

Daarby gaan tussengangers – die agente wat verbruikers met glansryke voorleggings druk om onmiddellik kontrakte te onderteken – vasgevat word. Daar sal ’n lys wees van minimum inligting wat hulle aan verbruikers sal móét gee ten einde wanvoorstellings stop te sit.

Dit is onder die omvattende aanbevelings in die verslag wat die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) ná ’n ondersoek van meer as 18 maande Donderdag in Pretoria uitgereik het.

Ebrahim Mohamed, kommissaris van die NVK, sê dit was dikwels baie “ontstellend” om in voorleggings na verbruikers se frustrasies en woede te luister. Een bejaarde vrou in die Vrystaat het byvoorbeeld getuig hoe sy beplan het om haarself om die lewe te bring net om aan haar lewenslange tyddeelkontrak te ontsnap.

“Dis geen geheim nie dat die bedryf enorm tot die land se bruto binnelandse produk bydra.“Van meet af aan was ons doelwit nooit om die bedryf te straf nie. Ons doelwit was om die bedryf van sy probleme te suiwer en te verseker dat verbruikerstransaksies billik is en aan wetgewing voldoen.”

Dis geen geheim dat die bedryf enorm tot die land se bruto binnelandse produk bydra nie. Van die begin af was dit nooit ons bedoeling om die bedryf te vernietig nie.
Ebrahim Mohamed

Hy sê die Vacation Ownership Association of South Africa (Voasa), die bedryfsliggaam vir die tyddeelbedryf, het gunstig op die verslag gereageer en hom daartoe verbind om met die NVK en ander reguleerder saam te werk om die probleme op te los.

Die bevindings bring geen onmiddellike verligting nie vir die honderde verbruikers wat voor die ondersoekpaneel onder leiding van Diane Terblanche getuig het dat hulle sukkel om aan langtermyn- en selfs lewenslange kontrakte te ontsnap.

Die nuwe wetgewing en regulasies kan jare duur voordat dit in werking gestel word. Wetgewing kan nie terugwerkend geld nie, het Thezi Mabuza, adjunkkommissaris van die NVK, gesê.

Mabuza het egter gesê hulle staan verbruikers steeds met hul individuele klagtes by.

Wanneer die Wet op Verbruikersbeskerming oortree is, soos deur wanvoorstellings, druk die NVK vir die kansellasie van kontrakte sonder enige boetes.

Die NVK gaan ook met die bedryf onderhandel om kwesbare verbruikers – veral pensioentrekkers wat nie meer hul lewenslange kontrakte kan bekostig nie – van hul kontrakte vry te stel sonder enige boetes.

Verbruikers wat nié as kwesbaar beskou word nie, sal steeds onderhewig wees aan die boetes vir kansellasie wat die bedryf hef.

Volgens Mabuza het hulle duisende klagtes ontvang. 54% daarvan is reeds in die guns van verbruikers beslis. 68% van die klagtes handel oor die probleme met die kansellasie van kontrakte.

Wat betref die NVK se ondersoek na Vacation Hub International (VHI), ’n sogenaamde reisklub wat ook in die spervuur is, het Mohamed gesê die ondersoek duur voort.

Verlede week het Trevor Hattingh, woordvoerder van die NVK, aan Netwerk24 gesê ’n afsonderlike ondersoek is na VHI gedoen. Die grootste klagte is dat die vir mense baie moeilik gemaak word om hul kontrakte binne die afkoelperiode van vyf dae te kanselleer.

Mabuza het gesê hulle het 120 klagtes oor VHI ontvang deur die loop van die ondersoek. VHI “het nie gereageer” op enigeen van dié klagtes nadat die NVK die maatskappy genader het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1201,12 (-10)
  • Top 40 45005,3 (22655)
  • All Share 51037,69 (23164)
  • Resource 10 38001,56 (28524)
  • Financial and Industrial 30 67986,06 (28353)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.