Die hofuitspraak verlede week wat kredietverskaffers en invorderingsagente verhoed om uitbuitende skuldinvorderingspraktyke te gebruik, het die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) ontbloot as ’n liggaam wat nie in die verbruiker se beste belange optree nie, sê Clark Gardner, uitvoerende hoof van Summit Financial Partners.

Clark Gardner, uitvoerende hoof van Summit, langs Wendy Appelbaum, by 'n vorige hofsaak oor loonbeslagleggingsbevele. Foto: Deon Raath
Dit het ook die banksektor en Regspraktykraad ontbloot as entiteite wat bloot hul eie lede se belange beskerm.
Boonop is Bayport Financial Services, die enkele grootste diensfirma wat salarisbeslagleggings hanteer op die staat se betaalstaat, een van die ongenoteerde maatskappye waarin die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) die staatspensioenfonds se geld belê, sê Gardner, wie se maatskappy saam met die Universiteit Stellenbosch Regskliniek die hofsaak saam met tien verbruikers aangepak het.
Hy wys op die ironie dat die aftreegeld van staatsdienswerkers wat slagoffers is van die uitbuiting deur skuldinvorderaars, juis belê word in ’n firma wat deelneem aan hul uitbuiting.
Die OBK het in November 2017 meer as R2,487 miljard in Bayport Financial Services belê, blyk uit dokumente wat die OBK in 2018 gebruik het in ’n voorlegging aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge. Die staatspensioenfonds, namens wie die OBK bates bestuur, het ’n meerderheidsbelang van 51% in Bayport Financial Services.
Mervin Muller, wat die OBK se hoof van private ekwiteit en gestruktureerde beleggingsprodukte was, was die OBK se genomineerde nie-uitvoerende direkteur in Bayport Management, wat ’n 49%-belang in Bayport Financial Services besit. Muller het in Maart vanjaar by die OBK bedank, blyk uit die OBK se 2019-jaarverslag.
Die aansoek om meer duidelikheid te kry oor die interpretasie van dele van die nasionale kredietwet oor invorderingskoste, is onder andere deur die NRK teengestaan, asook deur die Regspraktykraad, die Bankvereniging van Suid-Afrika wat die groot banke verteenwoordig, en Bayport Financial Services self.

Die embleem van die Openbare Beleggingskorporasie by sy kantoor in Menlyn, Pretoria. Die loonbeslagleggingsfirma Bayport Financial Services is een van die OBK se ongenoteerde beleggings.
Jason Wood
Die reguleerder het duidelik daarin misluk om in die beste belang van verbruikers op te tree, deurdat hy nie verbruikers teen misbruikende praktyke beskerm het en nie die finansiële uitbuiting van kwesbare en grootliks voorheen benadeelde Suid-Afrikaners verhoed het nie, sê Gardner.
Die NKR het volgens Gardner juis ’n plig om die nasionale kredietwet toe te pas en in die beste belang van verbruikers op te tree om die finansiële welstand van miljoene Suid-Afrikaners te verbeter.
Die NKR was inteendeel gekant teen die aansoek om die misbruik van salarisbeslagleggingsbevele te stop. Dit blyk die NKR het teen sy eie mandaat opgetree en was aan die kant van Bayport, die banke en die Regspraktykraad. Gardner meen die banke het meer as genoeg geld om hul saak in die hof te kon verdedig, maar dieselfde kan nie gesê word van die verbruikers wat Summit verteenwoordig het nie.
Die Regspraktykraad reguleer die sake van alle regspraktisyns en een van sy doelwitte is om seker te maak regsgelde is billik, maar Gardner meen die feit dat die raad teen die aansoek was, dui aan die raad het die persoonlike belange van skuldinvorderingsprokureurs voorop gestel.
Waarnemende regter Bryan Jack het verlede week beslis dat die invorderingskoste, rente, regskoste en enige ander koste om agterstallige skuld in te vorder nie dubbel soveel mag wees as die oorspronklike leningsbedrag nie.
Die regsgelde mag ook nie gehef word voordat daaroor ooreengekom is met die skuldkliënt en dit getakseer is om vas te stel of dit billik is nie.
Die uitspraak plaas Suid-Afrika internasionaal op die voorpunt van verbruikersbeskerming, het Stephan van der Merwe, senior prokureur by die Universiteit Stellenbosch se regskliniek, gesê.
“Die uitspraak dui op ons howe se toewyding om gewetenlose invorderingsagente te ontmagtig om gewetenlose invorderingsmetodes en - strategieë te gebruik. Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan om verbruikers se basiese menseregte te beskerm, insluitend die reg op menswaardigheid en die reg om nie arbitrêr van hul eiendom ontneem te word nie.”