Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Ombud onkundig oor dié eise, sê hoof
Edite Teixeira-Mckinon, uitvoerende hoof van die kantoor van die korttermynversekeringsombud.

Die ombud vir korttermynversekering het nie die nodige kundigheid om klagtes te hanteer van polishouers wie se eise om inkomsteverlies afgekeur is nie, het Edite Teixeira-Mckinon, uitvoerende hoof, gesê.

Dit beteken gegriefde kleinsake-eienaars wie se Covid-19-verwante versekeringseise afgewys is, het geen ander keuse as om hulle op regshulp te beroep nie.

Rapport het vroeër berig die meeste ondernemings in die gasvryheidsbedryf wat uitgebreide versekering vir bedryfsonderbreking het, se eise word deur versekeraars afgewys. Hulle voer aan die eise is ongeldig omdat die inkomsteverlies verband hou met die inperking en nie sodanig met ’n aansteeklike siekte, soos die polis voorskryf, nie.

Die meerderheid van dié soort eise word óf afgekeur óf polishouers word gevra om bewys te lewer dat Covid-19 op die sakeperseel voorgekom het.

Teixeira-Mckinon het in ’n onderhoud aan Rapport gesê die ombud sal polishouers se klagtes wat met bedryfsonderbreking weens Covid-19 verband hou individueel beoordeel.Dit is egter onwaarskynlik dat die kantoor klagtes sal besleg wat verband hou met die afwys van inkomsteverlies-eise.

Dié saak is kompleks en behels berekeninge deur geoktrooieerde rekenmeesters. Die ombud beskik nie oor die nodige kundigheid om dit te kan doen nie, het Teixeira-Mckinon gesê.

Intussen het die 115 jaar oue regsfirma Weavind & Weavind aangebied om op te tree namens sowat 250 hotel- en gastehuiseienaars wie se eise deur Santam afgewys is.

Nic Viviers, versekeringspesialis en direkteur van litigasie by Weavind, het aan Rapport gesê die firma praat reeds met die versekeraars om te kyk of ’n skikking bereik kan word.

“ ’n Individuele polishouer sal nie ’n oor kry (by die versekeraars) nie, maar as ’n groot klomp mense optree, sal hulle móét luister,” sê hy.

As ’n skikking nie bereik kan word nie, sal die firma litigeer.

“Die eise van die polishouers beloop miljoene rande en dit is baie moeilik vir mense om in hierdie stadium individueel ’n regsgeding te finansier.”

Brent Snyman, eienaar van Amazian Mountain River Lodge in die Drakensberg onder wie se aanvoering die drukgroep tot stand gekom het, het gesê dit is duidelik versekeraars manipuleer die bewoording in polisse om ’n uitweg te probeer vind om nié uit te betaal nie.

Die Franse versekeraar Axa het bloedneus gekry in ’n hofsaak wat deur ’n restauranteienaar teen hom aanhangig gemaak is en wat met inkomsteverlies weens Covid-19 verband gehou.

Axa sal na berig word die meerderheid van die restauranteienaar se eise eerbiedig.

Meer oor:  Maatskappye  |  Korttermynversekering  |  Versekering  |  Eise  |  Rampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.