Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Oorleef só met koepons

Die enigste troos vir vuisvoos verbruikers is dat winkelgroepe onder net soveel druk is om klante te lok. Die meeste handelaars eksperimenteer met tegnologie om verbruikers te lok. Herman Scholtz skryf oor sy gunsteling-inkopie-apps om geld te spaar.

  

Herman Scholtz

Ek verstaan mense se frustrasie wanneer finansiële ghoeroes sê “jy moet eenvoudig ’n paar rand afknyp om te spaar”. Want sal jy nou ophou skoolgeld betaal, die hond voer of die laaste week van die maand “kampeer-kampeer” in die huis speel sonder elektrisiteit?

Die een uitgawe wat almal het en waar almal kan probeer spaar, is algemene inkopies. Dis egter makliker gesê as gedaan. Die meeste mense wat ek ken, koop reeds minder, No Name- of Housebrand-handelsmerke en raak kreatief met wat en hoeveel hulle verbruik.

Wat oorbly, is letterlik sente omdraai en dís harde werk, maar ook verbasend belonend en verslawend as jy eers agter die kap van die byl is.

Hier is hoe jy die sente tel:

  

Snap-n-Save

  

Snap-n-Save

Dit is ’n elektroniese koepon-app wat nie aan enige winkelgroep verbind is nie. Snap-n-Save se sakemodel is om eerder met handelsmerke direk te beding om hul spesifieke handelsmerk te koop – ongeag of jy dit by Spar, Pick n Pay of ’n Engen-winkel doen.

Hoe dit werk:

Elke week is daar nuwe produkte. Jy blaai daardeur en bespreek ’n koepon indien jy beplan om dit te koop. Wanneer jy dit in ’n winkel gekoop het, neem jy ’n foto van die strokie en laai dit op. Dit neem ’n dag of drie om te verifieer. Jou koeponwaarde word in die “bank” gesit. Jy kan die kontantbedrag onttrek wanneer jy wil in die formaat van ’n wiCode – ’n digitale koopbewys – wat jy by verskeie winkels soos kontant kan gebruik.

Voordele:

  • Jy kan by amper enige winkel inkopies doen en steeds baat vind.
  • Dit is nie gekoppel aan spesiale aanbiedinge van winkels nie. Jy kan dus iets op uitverkoping koop én steeds jou koeponafslag kry. Wanneer handelsmerke aggressief bemark, is die produkte op Snap-n-Save boonop op afslag in verskeie winkels.
  • Dit kos niks buiten datakoste nie.
  • Die produkte is meestal alledaagse produkte wat jy in elk geval sou koop, soos kaas, brood, koeldrank, skoonmaakmiddels, vleis en souse.

Nadele

  • Die koepon is net vir 48 uur geldig. Dit verg ekstra beplanning.
  • Die koeponwaardes is relatief klein, maar hou moed. Vir elke paar koepons wat jy gebruik, gee Snap-n-Save ’n “trofee-bonus”. Ná drie maande se gemiddelde inkopies vir net twee mense kon ek meer as R200 bymekaarmaak.

  

Pick n Pay

  

Persoonlike afslagkoepons van Pick n Pay.

Dié winkelgroep se app is geïntegreer met hul eie Smart Shopper-beloningsprogram.

Hoe dit werk:

Met Smart Shopper kry jy basies 1 sent (1 punt) vir elke R2 wat jy bestee. Die eintlike waarde lê in die afslagkoepons wat deur die app beskikbaar is. Dit word weekliks bygewerk. Jy laai die koepons op jou Smart Shopper-kaart, wat outomaties die afslag sal deurgee wanneer jy jou Smart Shopper-kaart gebruik.

Met Pick n Pay is dit moontlik om nogal ’n goeie winskoop te kry as jy obsessief begin raak.

Eerstens koop ek net gesonde kos by Pick n Pay vir 25% afslag deur die Vitality-program.

Tweedens het ek ’n spesiale TymeBank-rekening (daar is byna geen diensgeld nie) nét vir Pick n Pay-inkopies, want jy verdien dubbel Smart Shopper-punte as jy met jou TymeBank-kaart betaal.

Derdens kry jy by my plaaslike Pick n Pay ’n R100-geskenkbewys by ’n bekende pizzawinkel as jy vir meer as R500 koop.

En laastens is die Pick n Pay-app in my ervaring die vrygewigste.

Voordele

  • Die afslag is noemenswaardig. Dit is gereeld 15% van die prys.
  • Die stelsel is heeltemal verpersoonlik. Hoe meer gereeld jy ’n produk koop, hoe meer gereeld gaan Pick n Pay vir jou ’n afslag gee vir daardie spesifieke produk.
  • Deur die app kan jy jou punte gebruik op ’n manier om meer waarde te kry. Die verstandige ding is seker om die punte te gebruik vir inkopies, maar ek gebruik dit as ’n bederf-fonds. Jy kan geskenkbewyse koop van Ster-Kinekor ter waarde van R85 vir net R30. ’n Spur-geskenkbewys van R50 kos net R40 se punte, ’n Steers Original Burger Meal (van R47,90) net R35 en ’n Kauai-smoothie van R56 kry jy met R25 se punte.

Nadele

  • Smart Shopper-punte verval ná 12 maande.
  • Jy moet die verpersoonlikte koepons op jou kaart gaan laai om dit te gebruik en dus elke keer eers die app of ’n Smart Shopper-kiosk in die winkel besoek voordat jy oplui.

  

Checkers

  

Checkers wys aanbiedinge in sy app.

Die nuutste beloningsprogram is Checkers se Xtra Savings-kaart wat jy deur hul app kan aktiveer.

Hoe dit werk:

Daar is geen punte of beloningsvlakke nie. Sekere items word gemerk as Xtra Savings-aanbiedinge wat jy net kry indien jy jou Xtra-kaart toon voordat jy oplui.

Voordele

  • Eenvoudiger is daar nie. Trouens, jy hoef niks te doen nie. Toon in elk geval jou Xtra-kaart by die kasregister vir ingeval van jou produkte dalk kwalifiseer.
  • Die promosie-aanbiedinge om die program te begin is ongelooflik. Net tyd sal leer hoe groot die afslag regtig in die toekoms gaan wees.
  • Dis gratis.

Nadele

  • As jy ernstig is oor die besparings, moet jy soms mooi lees of self die somme maak. Die afslag is dikwels ’n persentasie en albei pryse – voor en ná afslag – is op die etiket, maar effens verwarrend.

  

Woolworths

  

Woolworths se afslag-koepons

As jy ’n gelukkige een is wat by Woolworths kan inkopies doen, is hul app beslis ’n aanwins. Benewens die afslag, is daar ’n fantastiese funksie om die strepieskode van enige produk te skandeer om die prys na te gaan en selfs te kyk of ander takke ’n kledingstuk in jou grootte het. Klik op die “Shop”-knoppie en dan op die strepieskode-knoppie om die item se strepieskode te skandeer.

Hoe dit werk:

Spesiale aanbiedinge word hier gelys en in die WRewards-afdeling is daar dikwels afslagkoepons wat jy by die kasregister kan gebruik.

Voordele

  • Die eenvoud. Nes die Xtra-kaart van Checkers werk die WRewards-kaart ook sonder fieterjasies. Jy kry afslag of nie.
  • Die koepons in die app is ook verpersoonlik volgens jou aankope­geskiedenis.
  • Die koeponafslae is noemenswaardig.

Nadele

  • Miskien is dit omdat ek nie baie daar koop nie, maar die koepon-aanbiedinge is relatief skaars.

  

Tiendeo

  

Tiendeo wys watter aanbiedinge in jou omgewing is.

Winskopie-jagters moet dalk liewer nie hiervan uitvind nie.

Hoe dit werk:

Dis een app met al die spesiale aanbiedinge van alle groot winkels op een plek. Jy kan vinnig die pryse van Checkers, Pick n Pay en Spar vergelyk of ’n winskopie van Game raaksien waarvan jy nie geweet het nie.

Voordele

  • Die app gebruik jou ligging om die aanbiedinge te wys van winkels naby jou, maak nie saak waar jy is nie.
  • Die reeks van winkels is verstommend. Van die groot algemene handelaars tot boumateriaalwinkels en drankwinkels se winskopies is daar.

Nadele

  • Geen. Net dat jy dalk te veel winskopies gaan wil koop.
Meer oor:  Snap-N-Save  |  Pick N Pay  |  Checkers  |  Woolworths  |  Tiendeo  |  Inkopies  |  Geldsake  |  Smart Shopper  |  Spaar  |  Winkels  |  Lojaliteitsprogramme  |  Apps  |  Spaarwenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.