Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Oorsese werkers pleit; tesourie sê hy sal luister
Barry Pretorius, ’n Suid-Afrikaanse ingenieur wat in Abu Dhabi werk.

Die nasionale tesourie is gewillig om te konsulteer en sy belastingvoorstelle aan te pas waar nodig, het Chris Axelson, die tesourie se direkteur vir persoonlike inkomstebelasting, Dinsdag voor die staande komitee oor finansies in die parlement gesê.

Dit het gevolg op ’n ernstige pleidooi deur Barry Pretorius, ’n Suid-Afrikaanse ingenieur wat in Abu Dhabi werk, dat die tesourie sy voorstel terugtrek om die belastingkwytskelding vir Suid-Afrikaners wat langer as 183 dae in die buiteland werk, af te skaf.

Pretorius sê toe Suid-Afrikaners in die buiteland vir die eerste keer van die tesourie se planne gehoor het om die belastingkwytskelding af te skaf, het dit ontsettende stres en onsekerheid wêreldwyd onder hulle veroorsaak.

“Ons kon nie glo dat sulke onbillike wetgewing voorgestel kan word nie. Indië het onlangs soortgelyke wetgewing voorgestel en ná die reaksie van Indiese werkers in die buiteland het die Indiese regering besef hy het ’n groot fout begaan.”

Ek het vanoggend 03:30 nog met ’n enkelma in Dubai gepraat. Haar stres was baie hoog. Sy het ’n outistiese kind en ondersteun steeds haar ouers wat in Suid-Afrika woon.
Barry Pretorius

Pretorius sê die Suid-Afrikaners oorsee is gemiddelde werkersklasmense wat probeer om ’n eerlike salaris te verdien.

“Jong Suid-Afrikaners twyfel nou of hulle oorsee moet gaan. Ek het vanoggend 03:30 nog met ’n enkelma in Dubai gepraat. Haar stres was baie hoog. Sy het ’n outistiese kind en ondersteun steeds haar ouers wat in Suid-Afrika woon.”

Pretorius sê die Facebook-blad wat hy begin het om teen die wysiging te protesteer, het al meer as 14 000 lede en meer as 12 000 mense het die versoekskrif onderteken.

Tot 1 384 individuele voorleggings is aan die tesourie gedoen.

Pretorius sê Suid-Afrikaners wat oorsee werk, is ’n waardevolle hulpbron. Hulle kan wêreldklasdienste lewer, maar as die belastingkwytskelding weggeneem word, sal dit hul vermoë om dié bydrae te lewer, verswak.

In die Verenigde Arabiese Emirate word buitelanders nie toegelaat om hul kinders na staatskole te stuur nie, hulle moet duur private skole gebruik. Verblyfkoste is baie duur.

Al dié ekstra koste word in hul vergoedingspakkette ingesluit, maar hulle kan dit nie as uitgawes van belasting aftrek nie. Dit plaas hulle in die hoogste Suid-Afrikaanse belastingkerwe, terwyl hulle in die Midde-Ooste eintlik in die laer- tot middelklas-inkomstegroepe val.

Pretorius sê die onsekerheid en stres wat die voorstelle veroorsaak, het baie Suid-Afrikaners reeds oortuig om met emigrasie-prosesse te begin wat volgens hom in baie gevalle onnodig is.

Chris Axelson, direkteur vir persoonlike inkomstebelasting by die tesourie.

Situasie in ander lande

Axelson sê hy verskil sterk dat daar nie in ander lande soortgelyke belastingregulasies is as wat die tesourie nou wil instel nie. Dis dieselfde regulasies wat in Australië, Nieu-Seeland en Kanada geld.

Axelson sê hulle werk wel deur elk van die 1 384 voorleggings wat deur Pretorius se versoekskrif-groep ingedien is. “Baie daarvan is in dieselfde formaat, maar baie is van mense wat moeite gedoen het om hul eie omstandighede te verduidelik.”

Hy het erken die impak van die voorstel is omvangryk. Iemand wat R1 miljoen in die VAE verdien, sal nou R350 000 se ekstra belasting moet betaal.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sal egter vir mense wat sou kies om nie meer ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner te wees nie, daarop wys dat hulle dan kapitaalwinsbelasting op al hul internasionale bates moet betaal.

Axelson gee toe dat as die kwytskelding afgeskaf word, dit die mededingendheid van Suid-Afrikaanse werkers oorsee sal raak.

Pretorius het daarop gewys hy maak uit sy eie sak vir sy aftrede voorsiening. As hy nou meer belasting moet betaal, beteken dit hy sal nou minder vir aftrede kan spaar.

Hy sê die duisende Suid-Afrikaners wat oorsee werk, is nie belastingontduikers nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2185,94 (918)
  • Top 40 50077,78 (-5644)
  • All Share 56123,83 (-9658)
  • Resource 10 43758,63 (-5410)
  • Financial and Industrial 30 76079,11 (-10135)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.