Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Pak taks-bul vanjaar só by horings

Die belastingseisoen begin op 1 September, maar sommige belastingbetalers kan reeds in Augustus hul opgawes outomaties indien met die outomatiese assesseringstelsel.

  

Onthou om alle inkomste te verklaar, ook dít was belastingvry is. Foto: iStock

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal jou per SMS in kennis stel as jy kwalifiseer vir outomatiese assessering. As jy ’n “eenvoudige” opgawe het (IRP5, mediesefondsinligting en uittreeannuïteitsertifikate), kan die outomatiese assessering-proses goed werk.

Wees versigtig met hierdie proses as jou belastingkennis beperk is of as eFiling vir jou nuut is. Selfs al voltooi die SAID die meeste van die inligting (wat hulle doen met behulp van derde partye soos werkgewers, banke, versekeraars, batebestuursmaatskappye, finansieringshuise en die akteskantoor), is dit nie te sê dit is korrek of volledig nie.

Jy moet steeds jou belastingsertifikate aanvra (ook vir oudits) en vergelyk met die inligting op die opgawe. As iets moet verander, volg die gewone eFiling-indieningsproses, naamlik, jy dien die opgawe (of ITR12-vorm vir individue) in, die SAID verwerk dit en reik ’n aanslag (ITA34) uit.

Of jy hierdie outomatiese assessering-proses gebruik of nie, maak seker jou kontakbesonderhede by die SAID is korrek. Sien inligting die hieronder.

  

Wat jy op eFiling moet kan doen

  • State trek
  • ’n Afskrif van jou opgawe wat ingedien is, uitdruk of stoor
  • ’n Aanslag wat die SAID uitgereik het, oopmaak en stoor
  • Oudit-dokumente op eFiling laai (die brief wat sê daar is ’n oudit, moet ook gelaai word)

Voor die koronaviruspandemie kon net belastingpraktisyns afsprake by SAID-takke maak. Nou het alle belastingbetalers hierdie geleentheid as hulle nie aanlyn opgawes kan indien nie. Besoek www.sars.gov.za en klik op die blok “Book an appointment”. Jy moet geregistreer wees vir belasting (anders moet jy eers die registrasie op eFiling doen) en jou selnommer moet korrek wees (die SAID kommunikeer per SMS).

My raad is: Wees dapper, kry hulp en gebruik eFiling.

  

Onthou hiervan

Ek sien gereeld dat belastingbetalers vergeet om die volgende te verklaar:

  • Rente wat hulle verdien anders as by ’n bank (soos rente op jou mediesefonds-spaarrekening, rente op jou vorige SAID-opgawe, rente op leningsrekeninge, rente op geld wat in ’n trustrekening namens jou gehou word of rente op polisse wat lank geneem het om uit te betaal).
  • Ekstra inkomste wat nie op ’n gereelde basis verdien word nie.
  • Belastingvrye inkomste (erflatings, onderhoud kragtens ’n egskeidingsbevel, uitbetalings van die Werkloosheidsversekeringsfonds of die Vergoedingsfonds, korttermynversekeringseise of verkope van private besittings wat substansieel van aard is en uitbetalings van uitkeer- of ongeskiktheidspolisse waar daar nie ’n belastingsertifikaat is nie).

  

Meer oor KWB

In ’n vorige rubriek het ek geskryf oor toelaatbare aftrekkings by die bepaling van die kapitaalwinsbelasting (KWB) by die verkoop van ’n erf. Ek het geskryf dat jy die uitgawes wat jy ten opsigte van die erf aangegaan het, vir die berekening van KWB kan aftrek.

’n Leser vra dat ek die gesag van my stelling verduidelik asook die tydperk(e) wat van toepassing is by inagneming van sodanige koste.

Dit sal eerstens afhang of jy die erf voor, op of ná 1 Oktober 2001 gekoop het. Indien die erf op of ná hierdie datum gekoop is, sal daardie waarde die basisprys vorm. As jy ’n erf voor 1 Oktober 2001 gekoop het, moes jy ’n waardasie op daardie datum van die erf gekry het, wat jy gebruik as die begin van jou basisprys se berekening.

Uitgawes wat jy by die basisprys kan voeg, is byvoorbeeld uitgawes om die erf te kon verkry (soos oordragskoste en hereregte), uitgawes terwyl jy die eienaar was (soos rekenmeester- en waardasiegelde) en koste as jy die erf verkoop (agentekommissie of advertensiekoste).

Jy kan uitgawes slegs eis terwyl jy wettig die eienaar van die erf was, of as dit te doen het met die koop of verkoop van ’n erf wat in jou naam geregistreer was.

Aangesien die erf nie verhuur is nie en die uitgawes wat jy daarop gehad het nie reeds vir inkomstebelastingdoeleindes geëis is nie, sluit ek dit wel in by my basiskoste.

Ek maak seker dat daar bewyse is dat die belastingbetaler die uitgawes self betaal het, dat daar ’n faktuur is vir elke uitgawe en heg ook gewoonlik bewyse aan van die aanslae gedurende daardie jare dat die belastingbetaler nie die uitgawes reeds geëis het nie. Uitgawes word verdeel tussen regstreekse koste (byvoorbeeld, jy bou ’n struktuur op die erf) en onregstreekse koste (soos bemarking en onderhoud). Ek glo as jy aan die SAID kan bewys dat dié koste noodsaaklik was om die erf in stand te hou kragtens munisipale regulasies en veral sodat dit teen markwaarde kan verkoop, sal jy nie ’n probleem hê met die eis nie.

Uitgawes wat moontlik deur versekering of ander persone aan jou terugbetaal is, mag nie geëis word nie.

Vir diegene wat meer wil lees oor KWB, soek op www.sars.gov.za onder “Comprehensive Guide to Capital Gains Tax” en daar sal jy die jongste weergawe (Uitgawe 8) sien wat op 4 Mei 2020 uitgereik is.

Dit is (onder meer) waarom jy jou bankstate (insluitende kredietkaartstate) vir baie langer as net vyf jaar moet hou.

As jy ’n eiendom ná tien of 15 jaar verkoop, is bankstate die maklikste vorm van bewys van betaling aan die SAID op ’n KWB-oudit.

Verander kontakbesonderhede só:
  • Teken aan op eFiling en klik op “Home” (een van die opsies op die horisontale blou lyn, regs bo). 
  • Heel links is daar opsies om uit te kies. Die eerste een wys “User”, maar klik op die tweede opsie naamlik “SARS Registered Details”. Daarna is daar weer opsies; klik dan op “Maintain SARS Registered Details”.
  • Lees die verklaring deur, verander die opsie na “I agree” en klik op die blokkie “Continue”.
  • As jou rekenaar nie “Flash Player” geïnstalleer het nie, sal hy vir jou die opsie gee om dit te installeer. Klik “Allow”. 
  • Die bladsy wat voor jou oopmaak, wys ’n vorm en ’n inhoudsopgawe links van die vorm. As jy vinnig kyk, kan dit deurmekaar lyk, maar lees dit rustig deur. As jy te lank neem, sal die stelsel aan jou die opsie gee om die eFiling-sessie te verleng.
  • Die inhoudsopgawe links van die vorm wys wat jy alles kan verander by die SAID: adresse, bankinligting en ander kontakbesonderhede. As jy jou adres en kontakbesonderhede wil verander, gebruik jy die vorm wat voor jou oopgemaak het. 
  • Regs bo (net bokant dié vorm), is daar opsies naamlik “Edit”, “Save”, “File” en “Cancel”. Die vorm het twee bladsye en die adresse wys op bladsy 2. Druk “Edit” om albei bladsye te sien, al is al jou inligting korrek. Verwyder byvoorbeeld ou Telkom- werktelefoonnommers. Jy druk op daardie nommer en om dit uit te haal en druk net “OK” sonder om ’n nuwe landlynnommer in te voeg.
  • Gaan oor na bladsy 2 en hersien die adresse en klik regs bo op die “Done”-knoppie. Die vorm sal lyk of hy herlaai en sodra dit gedoen is, klik jy (ook regs bo van die vorm) die “File”-knoppie. 
  • Jy sal bevestiging kry dat dit gedoen is. Klik op die blokkie “Continue”. Daar sal ’n lys van hierdie en alle vorige veranderings wees. Klik op “Open” (heel regs) langs die datum van jou laaste wysiging as jy die vorm wil uitdruk.
  • Bel die SAID sowat ’n week later om seker te maak dat die korreksies vasgelê is. Kry altyd ’n saaknommer as jy inskakel en hou ’n afsonderlike rekord van die datum elke keer dat jy die SAID telefonies kontak.

  • Charné van der Walt (bekend as The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Lesers kan ’n e-pos stuur aan info@lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke, maar een-tot-een-advies is ongelukkig nie beskikbaar nie. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.


    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.