Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Pandemie kan selfdood, verslawing laat styg

Die koronaviruspandemie veroorsaak baie onsekerhede vir langtermynversekeraars.

Die versekeraar Liberty sê hy verwag ’n toename in eise weens die koronaviruspandemie. Foto: Unsplash

“Die pandemie gaan ’n regstreekse en onregstreekse invloed op die bedryf hê,” sê dr. Dominique Stott, hoof- mediese beampte van die versekeraar Liberty.

Sy het Dinsdag deelgeneem aan ’n aanlyn bespreking van Liberty oor die invloed van die pandemie op langtermynversekering.

Eise wat regstreeks met die pandemie verband hou, sluit in lewensdekking waar iemand aan Covid-19 dood is of eise vir tydelike ongeskiktheid weens die siekte.

David Jewell, Liberty se hoof van kleinhandelprodukte, sê die versekeraar het ruim voorsiening vir dié tipe eise gemaak toe hy onlangs R3 miljard in ’n reserwefonds hiervoor opsy gesit het.

LEES OOK: Liberty verwag 54 000 kan in SA aan Covid-19 sterf

  

Kommer oor geestesgesondheid

Stott sê daar word egter ook verwag dat daar ’n toename gaan wees in eise wat nie regstreeks met die pandemie verband hou nie.

Navorsing wêreldwyd wys dat die onsekerheid oor die pandemie en die gepaardgaande inperking ’n groot invloed het op mense se geestesgesondheid.

Bronwyn Williams van die navorsingsmaatskappy Flux Trends sê van die tendense wat toenemend waargeneem word, is ’n toename in depressie, verslawing aan verskillende soorte middels, en selfs selfdood, omdat mense vasgevang voel in die onseker wêreld wat deur die pandemie geskep is.

Dit alles lei tot ’n toename in eise. Liberty se polisse dek selfdood.

Kommer oor uitstel van behandeling

Stott sê daar is ook kommer dat baie mense weens die pandemie nie dokters of hospitale wil besoek nie, selfs nie vir ernstige toestande soos kanker of kardiovaskulêre siektes nie. Gevolglik kry hulle nie die nodige behandeling nie, wat hul gesondheid negatief beïnvloed en selfs tot hul dood kan lei.

Verreweg die meeste eise wat Liberty in vorige jare ontvang het, was juis vir kanker en kardiovaskulêre siektes.

“Ons is ook bekommerd oor die getal operasies wat weens die pandemie uitgestel word. ’n Operasie sou nooit geskeduleer gewees het as dit onnodig was nie.

“Hoe beïnvloed dit die gesondheid van die pasiënt as hierdie operasie nou vir ’n lang, of onbepaalde tydperk uitgestel word?” vra sy. “Wat gaan die langtermyngevolge hiervan wees?”

Stott sê Liberty assesseer alle eise soos voorheen, en betaal alle geldige eise uit.

Sy sê Liberty ervaar ook tans ’n toename in aansoeke om nuwe polisse, juis nadat mense die virus onder lede gehad het. “Mense besef dat hulle voorsorg moet tref vir hul geliefdes,” sê sy.

Etienne Rossouw, hoof van lewensversekering by die herversekeraar Munich-Re, sê daar is beslis ruimte vir ’n beter digitale aanbod ten opsigte van aansoeke om nuwe polisse en selfs vir eise.

Daar moet ook ander planne beraam word om die nodige mediese ondersoeke te laat doen om enige bestaande toestande te bevestig.

“Ons verwag dat daar in die toekoms ’n groter tendens gaan wees dat mense aanlyn aansoek doen om nuwe polisse, en ook eise aanlyn indien. Ons verwag ook dat al hoe meer assesserings aanlyn of via die foon gedoen gaan word,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.