Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Pasop! Skelms gebruik graag dié truuk
Skelms gebruik dikwels nie gesofistikeerde tegnologie om jou geld te bekom nie, maar buit eerder jou menslikheid uit. Foto: Unsplash

Die kans is heelwat groter dat booswigte jou menslikheid sal uitbuit om jou inligting te bekom as wat hulle tegnologie daarvoor sal gebruik, sê Anna Collard, besturende direkteur van KnowBe4 Africa, ’n opleidingsentrum in kuberveiligheid.

Dit is juis daardie inherente feilbaarheid wat in alle waarskynlikheid aanleiding gegee het tot die diefstal van bykans 24 miljoen Suid-Afrikaners se persoonlike inligting van die kredietburo Experian.

Volgens die maatskappy het ’n individu een van sy personeellede gekontak en voorgedoen hy is ’n verteenwoordiger van ’n ander maatskappy met wie Experian werklik sake doen.

Die persoon het glo gesê hy is die direkteur van daardie maatskappy, waarna die kredietburo die inligting wat hy versoek het, aan hom oorhandig het.

LEES OOK: Só is 24 m. se data van banke by Experian gesteel

“Dit was dus nie ’n dramatiese binnedring van stelsels of ’n kuberaanval nie,” sê Collard in ’n onderhoud met Netwerk24.

In dié geval is mense “gekraak”, sê sy.

En dit is nie net groot maatskappye wat die slagoffers kan word van hierdie tipe truuk wat kenners op die gebied van kuberveiligheid as sosiale ingenieurswese beskryf nie.

Wat is sosiale ingenieurswese?

Sosiale ingenieurswese is ’n truuk wat skelms gebruik om slagoffers te oortuig om hul persoonlike inligting, insluitende sensitiewe inligting soos bankbesonderhede of PIN te oorhandig, gewoonlik tydens ’n telefoon- of e-posgesprek.

Die bedrieër gebruik spesifieke tegnieke om slagoffers te oortuig hulle skakel vanaf ’n gerekende onderneming, maar eintlik is hulle blote indringers, sê Collard.

Die skelms sal vooraf soveel inligting as moontlik oor jou insamel om hul storie te versterk. “Hulle kan byvoorbeeld na jou plasings op sosiale media kyk en sien jy was die naweek by ’n restaurant,” sê sy.

As hulle jou dan skakel en voorgee hulle is van jou bank, kan hulle daardie tipe inligting noem wat jou sal laat dink hulle skakel werklik van die bank.

Bedrieërs is ook lief daarvoor om hul slagoffers op hul senuwees te maak, sê Collard.

“Dit trek ons aandag af en onderdruk logiese denke.”

Hoe meer angstig jy word, hoe minder geneig is jy om jou gesonde oordeel te gebruik en die skelm se plan te fnuik.”

Met die koronaviruspandemie is die meeste van ons reeds meer angstig en op hol, “wat dit klaar baie makliker maak om ons in te loop”.

Die probleem is natuurlik dat mense soms werklik deur banke of ander finansiële instansies soos diensverskaffers gekontak word.

Hoe skei mens die koring van die kaf?

“Moenie skaam wees om die persoon wat bel te vra om sy of haar identiteit ook te bevestig nie.

“Net soos wat banke jou vra om jou identiteit te bevestig, kan jy dieselfde van hulle verwag.”

Wees bewus van wat aangaan tydens ’n gesprek met iemand van jou bank of diensverskaffer en let op as hulle probeer om jou aandag af te lei. Dit kan ’n aanduiding wees dat jy met ’n bedrieër te make het.

“Vanselfsprekend moet jy nooit persoonlik identifiseerbare inligting soos jou aanmeldbesonderhede of PIN oor die telefoon aan iemand gee nie.”

Banke sal jou ook nooit vir hierdie inligting vra nie.

Ander wenke
  • Moet nooit op skakels in e-posse, SMS’e of WhatsApps klik wat kwansuis van jou bank af kom nie;
  • Gebruik ’n sterk wagwoord vir jou bankdienste wat jy met niemand deel nie;
  • Moenie jou slimfoon probeer kraak (jailbreak) nie, dit maak jou kwesbaar vir virusse;
  • Banke se apps is veilig om te gebruik, maar is ook kwesbaar vir sosiale ingenieurs wat jou probeer bedrieg om inligting soos enkelgebruik-pinkodes (one time pins) te oorhandig; en
  • Hou ’n waaksame oog oor jou bankstate en meld enige verdagte transaksies dadelik by jou bank aan.


    Meer oor:  Experian  |  Kuberaanval  |  Tegnologie  |  Bedrog
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.