Versekeraars en batebestuurders se werk – insluitende die uitbetaling van eise – sal ononderbroke voortgaan tydens die drie weke lange staat van inperking.

Pensioene, annuïteite en polisse sal steeds tydens die staat van inperking uitbetaal word.
Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), sê dienste wat Asisa se lede lewer, word beskou as “kritieke sake-kontinuïteitsdienste”.
Alle lede het bevestig dat hulle gebeurlikheidsplanne het en kan voortgaan om beleggers, polishouers en begunstigdes by te staan tydens die inperking, wat Donderdag om middernag begin en tot 16 April duur.
Dit beteken ook uitbetalings van pensioene, annuïteite, onttrekkings uit effektetrustfondse en versekeringspolisse sal soos gewoonweg voortduur.
Die JSE en banke is ook tot noodsaaklike dienste verklaar. Kitsbanke bly ook oop en banke mag met mekaar praat om te verseker genoeg kontant is oral beskikbaar.
- Asisa-lede doen daagliks gemiddeld R50 miljard se transaksies op die JSE. Hulle besit staatseffekte van R760 miljard en hou bankdeposito’s van nagenoeg R1 000 miljard, alles namens kliënte.
- Lewensversekeraars het in 2019 eise van R491 miljard uitbetaal, baie na aan R2 miljard elke werkdag van die jaar.
- Elke maand word 1,3 miljoen betalings gedoen ter waarde van R330 miljard per jaar.