Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
R230 mjd. se polisse in halfjaar uitbetaal
Vir die hele 2019 is eise en voordele van R491 miljard uitbetaal. Foto: Pixabay

Lewensversekeraars het in die eerste helfte van die jaar eise en voordele van R230 miljard aan polishouers en begunstigdes uitbetaal.

Dit is nie net vir eise weens sterftes aan Covid-19 nie, maar sluit in alle eise en voordele wat in die halfjaar aan polishouers en hul begunstigdes uitbetaal is, waaronder aftreeannuïteite en uitkeerpolisse asook polisse vir mediese ongeskiktheid, gevreesde siektes en inkomstebeskerming.

Vir die hele 2019 is eise en voordele van R491 miljard uitbetaal.

Die Vereniging vir die Spaar en Beleggingsbedryf van Suid-Afrika (Asisa) sê in ’n verklaring die lewensversekeringsbedryf het ook van Maart tot Julie R1 miljard se verligting gebied aan polishouers wat nie hul premies kon betaal het nie. Die verligting is aan amper ’n halfmiljoen polishouers toegestaan.

Genoeg bates vir eise

Hennie de Villiers, ondervoorsitter van Asisa se lewensversekeringskomitee, sê die data, wat elke halfjaar van die bedryf verkry word, wys dat ten spyte van die bystand met premies en die beduidende eise en voordele wat uitbetaal is, is lewensversekeraars goed gekapitaliseer om die moeilike ekonomiese toestande te deurwinter.

Die bedryf het einde Junie bates van R3 100 miljard gehou .

Die aanspreeklikhede van die bedryf om eise en voordele ingevolge poliskontrakte te betaal, het R2 800 miljard beloop.

Volgens hom laat dit die bedryf met bates van R330 miljard, wat meer as dubbeld die reserwes is wat gehou moet word ingevolge die nuwe kapitaalvereistes vir versekeraars.

Die lewensversekeringsbedryf is dus steeds in ’n goeie posisie om die ekonomiese druk te hanteer wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak word.

“Dit beteken polishouers en hul begunstigdes kan gerus wees dat die bedryf in ’n posisie is om die storm te oorleef en elke enkele geldige eis sal kan betaal.”

Volgens hom is gesonde reserwe-buffers van groot belang omdat dit versekeraars in staat stel om hul langtermynverpligtinge teenoor polishouers na te kom.

“Wanneer mense die polisse koop, verwag hulle dat die eise en voordele gaan uitbetaal, dikwels baie jare later, selfs al gebeur die ondenkbare soos ’n pandemie.”

Baie hou op betaal

Einde Junie was daar 41,3 miljoen polisse met ’n herhalende premie van krag, vergeleke met 42,5 miljoen einde Desember 2019. Dit kom neer op ’n effense daling van 2,8%.

Dit sluit in polisse met ’n herhalende premie vir risikodekking (lewensversekering, ongeskiktheid, gevreesde siektes en inkomstebeskerming) asook spaarpolisse (uitkeerpolisse en aftreeannuïteite).

In die eerste halfjaar is 4,6 miljoen polisse vir risikodekking verkoop. Daarteenoor het 5,4 miljoen polisse verval toe mense opgehou het om die premies te betaal. Die netto uitwerking hiervan was dat polisse wat risikodekking bied en geldig is, van 34,6 miljoen einde Desember tot 33,8 miljoen einde Junie gedaal het.

Spaarpolisse word ook gelos

Terselfdertyd was daar ’n 3,6%-daling in die getal spaarplanne (uitkeerpolisse en aftreeannuïteite) met ’n herhalende premie van 6,5 miljoen einde Desember tot 6,3 miljoen einde Junie.

Hoewel meer as 282 000 nuwe polisse in die halfjaar verkoop is, het kliënte op meer as 360 000 polisse opgehou om die premies te betaal en is die fondswaarde onttrek.

De Villiers sê hoewel dit kommerwekkend is, is dit nie verrassend nie gegewe die impak van die inperking op duisende Suid-Afrikaners se vermoë om ’n inkomste te verdien.

Die getal enkelpremie-polisse het ook effens gedaal van 2,9 miljoen einde Desember tot 2,8 miljoen einde Junie.

Makelaars kon nie rondry

Nog iets wat die bedryf se verkope benadeel het, is dat makelaars en adviseurs nie tydens die eerste deel van die inperking kon rondry nie omdat hulle nie as noodsaaklike dienste beskou word nie.

Dit het bygedra tot die wesenlike daling in nuwe polisse wat in die eerste ses maande van die jaar geskryf is. Spesifieke syfers hieroor is nie bekend gemaak nie.

Verligting met premies

Volgens De Villiers het Asisa se lede polishouers bygestaan wat op datum was met hul betalings en wat weens die pandemie nie hul maandelikse premies kon bybring nie.

Die polishouers is met premievakansies van tussen drie en ses maande op spaarpolisse bygestaan.

Hy sê die lewensversekeringsbedryf sal volhou met hulp aan polishouers wat sukkel, maar elke geval sal op eie meriete beoordeel word.

Polishouers wat steeds hulp nodig het, moet hul finansiële adviseur of versekeraar dringend kontak om oplossings te bespreek.

Meer oor:  Asisa  |  Hennie De Villiers  |  Versekering  |  Polisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.