Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
R350-toelaag: Só werk aansoeke

Aansoeke vir die Covid-19-toelaag van R350 per maand, wat onlangs weer ingestel is, open Vrydag (6 Augustus) om 09:00.

Die eerste toelae behoort teen die laaste week van Augustus uitbetaal te word.

Aansoeke kan op die webwerf https://srd.sassa.gov.za óf deur die WhatsApp-nommer 082 046 8553 gedoen word. Mense word versoek om nie op albei plekke aansoek te doen nie.

Die toelaag word van Augustus tot Maart uitbetaal.

Die toelaag sal van Augustus tot Maart 2022 uitgedeel word aan mense wat geen ander inkomste het of reeds staatshulp ontvang nie. Die departement van maatskaplike ontwikkeling het R26,7 miljard van die tesourie hiervoor gekry, insluitend die administrasiegeld vir die uitbetalings.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Woensdag op ’n nuuskonferensie gesê die departement verwelkom dié toelaag en beskou dit as ’n tree in die rigting van ’n basiese inkomstetoelaag.

“Ons werk tans aan die beleidsaspekte hieroor,” het sy gesê. Konsultasie is met verskeie belanghebbendes aan die gang en meer inligting sal weldra bekend gemaak word.

Sy het beklemtoon mense wat steeds nie hul vorige toelaag, wat van Mei 2020 tot April 2021 gegeld het, gekry het nie, sal nie dié geld verloor as hulle wel daarop geregtig was nie. Hulle moet egter die agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) dringend kontak.

Altesame 45 414 toelae kon nie uitbetaal word nie omdat mense se kontakbesonderhede nie reg was nie en hulle nie opgespoor kon word nie.

Nog 571 724 toelae is goedgekeur, maar nog nie by die Poskantoor kom haal nie. Dié mense het net tot 31 Augustus om agterstallige toelae op te tel.

Die vorige keer is die toelaag aan meer as 6 miljoen mense uitbetaal. Dit het R24 miljard gekos.

Zulu het beklemtoon mense gaan nie outomaties die toelaag ontvang as hulle dit die vorige keer gekry het nie – hulle moet opnuut daarvoor aansoek doen.

Sy het ook herhaal dat die toelaag dié keer ook uitbetaal sal word aan primêre versorgers van minderjarige kinders, al ontvang hulle kindertoelae namens die kinders. Voorheen is dié mense, die meeste van hulle vroue, van die R350-toelaag uitgesluit.

Zulu sê die departement se stelsels is verbeter, insluitend die feit dat bankrekeninge nou van meet af aan geverifieer word. Dit sal help dat toelae gouer uitbetaal kan word indien aansoeke goedgekeur word.

Mense sonder bankrekeninge kan die geld by die Poskantoor of per mobiele geldoordrag ontvang.

Zulu het ’n pleidooi gerig dat mense wat die toelaag nie regtig nodig het nie, nie daarvoor aansoek doen nie. Sy het ook gemaan dat die departement se stelsel om bedrog op te spoor, baie verskerp is. Aanvanklik het baie mense wat nié vir die toelaag kwalifiseer nie, insluitend gevangenes, staatsamptenare en mense wat reeds ander staatshulp ontvang, daarvoor aansoek gedoen.

Navrae kan gerig word aan 0800 60 10 11 of per e-pos aan grantenquiries@sassa.gov.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.