Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Raak die pandemie jou lewenspolis?

Die onlangse aanvullende begroting het gewys dat Suid-Afrika se skuldlas net aanhou groei. Wat is die uitwerking hiervan op jou as individu?

Charné van der Walt

Hopelik sal belastingkoerse nie verhoog word nie, maar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gaan wel strenger raak met belastinginvordering.

En dit beteken jy moet meer as ooit tevore eerlik wees oor elke sent wat jy verdien. Ek sien reeds die SAID raak strenger met verifikasies (oudits) op belasting­opgawes.

Die tweede vraag is: Gaan rentekoerse styg?

Ek dink dit gaan uiteindelik. ’n Groot deel van ons land se skuld word gefinansier met lenings wat teen hoë rentekoerse aangegaan word (minstens 3 tot 4 persentasiepunte meer as die huidige prima uitleenkoers van 7,25%). Dit kan daarop dui dat die prima koers een of ander tyd gaan styg.

Dit is belangrik dat jy jou daarop begin voorberei as jy ’n huisverband, motor- of ander skuld het.

Intussen gaan die stryd vir baie mense voort om finansieel te oorleef te midde van die koronaviruspandemie. Ek kyk vandag na lesersvrae oor lewenspolisse.

  

Covid-19 en lewensversekering  

  

Vraag

Kan ek ’n lewenspolis uitneem as ek positief getoets is vir die koronavirus?

Antwoord

Ja, jy kan, maar wees voorbereid op meer mediese ondersoeke en verklarings. Die meeste van die mediese ondersoeke wat die versekeraar vereis, sal deur hom betaal word.

As jy reeds positief vir die koronavirus getoets is, en jy wil lewensdekking uitneem, sal jy ’n tweede toets moet laat doen om te bewys jy het dit nie meer onder lede nie. Foto: iStock

Onder “normale” omstandighede sal die versekeraar ’n negatiewe MIV-toets vereis (asook ’n nikotientoets as jy jouself as ’n nieroker aandui). Sommige maatskappye sal ook ’n nievastende cholesteroltoets vra as die dekking hoog is, as dit gesondheidsafslag beïnvloed of as jy ’n familiegeskiedenis van hipertensie aandui.

As jy enige mediese toestande verklaar of voorheen positief vir die koronavirus getoets is, is die kans goed dat jy ’n mediese ondersoek by jou huisdokter sal moet laat doen, asook ’n longfunksietoets en ’n EKG.

As jy voorheen positief getoets is, sal jy bewys moet lewer van ’n negatiewe tweede toets (waarvoor jy heel moontlik self sal moet betaal). Vervang jou voordele op grond van wat jy nou verdien.

  

Verlies van werk en groepvoordele

  

Vraag

Ek het my werk verloor weens die pandemie en gevolglik ook my groepvoordele (lewensdekking, inkomstebeskermer en bydraes tot ’n voorsorgfonds). Gelukkig het ek min skuld en is ek goed opgelei. Vir ekstra inkomste doen ek boekhouwerk van die huis af en dit sal hopelik elke maand groei. Moet ek al my vorige voordele probeer vervang op ’n ­nuwe polis? Moet ek my voorsorgfonds se geld onttrek en eenkant hou vir ’n noodgeval? Ek is redelik gesond. 

Antwoord

Jy kan jou dekking later verhoog, of ’n polis uitneem wat voorsiening maak vir toekomsdekking waar jy ekstra dekking kan opneem sonder ’n tweede stel mediese vereistes. Al is jy nou gesond, kan dit verander.

By doodsdekking sal ek eerste fokus op genoeg geld om jou lopende skuld en boedelkoste te kan dek. Jy kan ’n inkomstebeskermer oorweeg met ’n langer wagtydperk (byvoorbeeld drie maande) totdat jy ’n korter wagtydperk kan bekostig. Ek hou van maatskappye waar ek my dekking kan verdeel tussen verskillende wagtydperke, waar ek weet my heel belangrikste uitgawes met ’n siekte of ongeluk word gouer gedek.

As jy nie nou die geld van jou voorsorgfonds nodig het nie, dra die volle 100% oor na ’n bewaringsvoorsorgfonds en vermy om (vir die oomblik) enige onnodige inkomstebelasting daarop te betaal.

By ’n bewaringsplan het jy ’n eenmalige opsie om vóór 55 jaar die volle bedrag of ’n gedeelte daarvan te onttrek. Van 55 jaar af het jy outomaties toegang tot die geld. Die belasting is aansienlik minder as jy 55 jaar of ouer is.

  

Raad met begrafnispolis

  Vraag

Hoe gaan ek te werk om begrafnisdekking uit te neem vir my en my gesin?

Kry by verkieslik nasionale en bekende begrafnishuise inligting oor watter pakkette hulle bied en wat dit kos. Foto: Pixabay

Antwoord

Kry by verkieslik nasionale en bekende begrafnishuise inligting oor watter pakkette hulle bied en wat dit kos.

Kinders bo 21 jaar word gewoonlik nie gedek nie. Hoe kleiner die kinders is, hoe kleiner sal die dekkingsbedrag wees.

As jy lewensdekking by ’n versekeraar het, maak seker of jy outomaties die voordeel het van ’n gedeeltelike en onmiddellike uitbetaling.

Byvoorbeeld, by een versekeraar kan jou gesin 10% van jou polis se lewensdekking tot ’n maksimum van R50 000 binne twee tot drie werkdae ná jou afsterwe ontvang. By ander versekeraars moet jy dit byvoeg, maar dit is gewoonlik goedkoop.

Maak seker of jy in hierdie geval ’n begunstigde vir die lewensdekkingvoordeel moet aanwys om ’n vertraging in die uitbetaling te voorkom. Jy wil miskien die aanvanklike uitbetaling aan ’n spesifieke persoon toewys, maar nie noodwendig die volle voordeel nie. Hierdie tipe “onmiddellike” dekking dek nie jou gesinslede nie.

’n Ander opsie is om spesifiek begrafnisdekking uit te neem waarby jy ook kinders kan byvoeg tot hulle 18 jaar of 21 jaar oud is.

Jy het die opsie om ’n groter bedrag uit te neem en is nie beperk om dit net vir ’n begrafnis-of verassingsdiens te gebruik nie.

  

Soort werk verander

  Vraag

Ek het my voltydse werk as sekretaresse verloor en werk gelukkig nog deeltyds by dieselfde werkgewer. Vir ekstra inkomste doen ek enige werk wat oor my pad kom: administrasie, tuinwerk en heelwat aflewerings en inkopies namens my bure. Sal dit my private lewenspolis beïnvloed?

Antwoord

’n Lewenspolis en die premies wat jy daarop betaal, word op jou algehele risiko gegrond. Jou beroep is veral belangrik as jy beroepsongeskiktheidsdekking het. Jy sal ook nie dekking kan kry vir ’n hoër bedrag as wat jy werklik verdien nie.

’n Sekretaresse is ’n kantoorgebonde werker en het dus ’n laer risiko. Nou ry jy meer (wat jou risiko verhoog) en het jy ’n bykomende inkomste uit newe-beroepe.

Dit sal afhang van die versekeraar se beleid of jy hulle hiervan in kennis moet stel, maar wees eerder ekstra veilig en laat dit aanteken.

Kontak jou makelaar en verklaar die newe-beroepe deur ’n beroepsvraelys per aparte “beroep” in te vul. Jou hoofberoep op die polis sal wees waar jy die meeste geld verdien, waar jy in ’n permanente hoedanigheid aangestel is en/of waar jy die meeste tyd deurbring.

Hou in gedagte dat die tyd wat jy tussen jou huis en werkgewer se perseel reis, nie as “reis” beskou word deur die versekeraars nie maar as “administrasie”. “Reis” beteken as jy namens die werkgewer en as deel van jou pligte moet rondreis.

Ek weet dis erg om hieroor te skryf, maar ek is seker daar is mense wat selfdood oorweeg sodat hul gesinne versorg word met lewenspolisse wat uitbetaal word. Ek hoop van harte jy is nie een van hulle nie.

’n Nuwe polis dek gewoonlik vir minstens twee jaar nie selfdood nie.

Praat asseblief hieroor met mense naby aan jou of met jou geestelike leier. In tye soos dié moet ons ons onsekerhede met mekaar deel. Wees eerlik, ook oor jou finansies, om tragedies soos selfdood te voorkom.

  • Charné van der Walt (bekend as The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn op Stellenbosch. Lesers kan ’n e-pos stuur aan info@lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke, maar persoonlike advies is ongelukkig nie beskikbaar nie. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.