Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Registreer by SAID voor jy in buiteland werk
Jan Taks wil steeds jou belastingopgawe hê, al verdien jy jou inkomste in die buiteland.

Suid-Afrikaners wat oorsee woon en werk, maar steeds hul burgerskap behou, moet vinnig hul finansiële status in orde kry, sê Claudia Apicella, kenner oor finansiële emigrasie by Tax Consulting.

Die tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het onlangs ’n duidelike waarskuwing gerig aan burgers wat in die buiteland woon en werk oor die vereiste om steeds plaaslik belastingopgawes in te dien.

Apicella verduidelik wanneer Suid-Afrikaners net in die buiteland werk en nie amptelik van burgerskap verander het nie, bly hulle steeds ’n Suid-Afrikaanse belastingbetaler wat aan die land se belastingwette onderhewig is.

Wanneer jy egter finansieel emigreer, word jy nie langer as ’n Suid-Afrikaanse belastingbetaler geag nie.

Volgens die huidige belastingwette gaan so ’n persoon dan nie belasting hoef te betaal op enige inkomste wat buite die land se grense verdien word nie.

Belasting is tans dan net betaalbaar op enige inkomste wat binne Suid-Afrika se grense verdien word.

’n Voorbeeld hiervan is mense wat ’n eiendom in Suid-Afrika verhuur terwyl hulle oorsee woon en werk. Belasting is betaalbaar op die huurinkomste.

Kapitaalwinsbelasting kan ook moontlik betaalbaar word sou sekere bates verkoop word.

Wat is finansiële emigrasie?

Wanneer jy finansieel emigreer, verander jy jou belastingstatus by die SAID van “inwoner” tot “nie-inwoner”.

Die nuwe status word vir ruilbeheerdoeleindes gebruik, verduidelik Apicella.

Wanneer jy finansieel emigreer, beteken dit nie jy gee jou burgerskap prys nie.
Claudia Apicella van Tax Consulting

“Wanneer jy finansieel emigreer, beteken dit nie jy gee jou burgerskap prys nie. Jy hoef ook geen van jou plaaslike bates soos jou eiendom of beleggings te verkoop nie.

“Die Suid-Afrikaanse Reserwebank en SAID vereis dat jy dié proses moet voltooi as jy nie in Suid-Afrika woon en werk nie,” verduidelik sy.

“Baie mense het die land verlaat sonder om die regte belastingopgawes in te dien. Hulle het ook nie finansieel geëmigreer nie.”

Die proses

As jy finansieel emigreer, is daar twee stappe wat gevolg moet word.

  • Jy moet jou status by die Reserwebank na nie-inwoner verander; en
  • Jy moet ’n belastingklaringsertifikaat by die SAID kry.

Apicella waarsku die moeiliker een van die twee is om die belastingklaringsertifikaat vir emigrasie by die SAID te kry.

Sy waarsku aansoekers se hele belastinggeskiedenis word nagegaan. Hulle moet dus seker maak al hul opgawes is bygewerk. Uitstaande aanslae sal bygewerk moet word voordat die SAID die klaringsertifikaat sal uitreik.

Nuwe reëls

Apicella verduidelik die nuwe reëls wat in September ter tafel gelê is, gaan van Suid-Afrikaners vereis om wel belasting te betaal op inkomste wat in die buiteland verdien is indien belastingkoerse in daardie land laer is as in Suid-Afrika.

Dié reël sal na verwagting van Maart 2020 toepassing wees.

Belasting sal op ’n inkomste en voordele wat meer as R1 miljoen per jaar beloop, betaalbaar wees.

“Baie mense wat ’n hoë inkomste in die buiteland verdien, voel die R1 miljoen-vrystelling neem nie hul hoër lewenskoste in ag nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.