Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Rente op skuld tap die middelklas

Dis nie net armes wat verswelg in skuld nie: Mense in die middelklas dok nou gemiddeld 25% van hul maandelikse besteebare inkomste op net om die rente op hul skuld te betaal.

Dit blyk uit FNB se jongste verslag oor hoe mense wat van R7 000 tot R60 000 per maand verdien, hul geld bestuur.

skuld, geld, depressie
Mense in die middelklas dok nou gemiddeld 25% van hul maandelikse besteebare inkomste op net om die rente op hul skuld te betaal. Foto: Unsplash

FNB sê al hoe meer mense gebruik krediet- en winkelkaarte en ander vorms van ongesekureerde skuld (dus skuld wat nie deur ’n bate soos ’n huis of motor gerugsteun word nie) en gebruik dit om van salaris tot salaris te kom.

Mense gebruik ook ’n verskeidenheid kredietverskaffers vir dié skuld.

Christoph Nieuwoudt, uitvoerende hoof van FNB se verbruikersafdeling, sê mense wat agterstallig raak met hul skuldterugbetalings, is meer geneig om nóg skuld aan te gaan.

Volgens Nieuwoudt is dit veral ’n probleem onder verbruikers wat in die laaste 18 maande meer as drie keer agterstallig geraak het. Onder dié verbruikers word 80% van alle geld wat op rente bestee word, gebruik om ongesekureerde skuld te probeer afbetaal.

Dié verbruikers moet ook al hoe duurder vorme van krediet gebruik waarop hulle die absolute maksimum rente moontlik betaal.

Raj Makanjee, uitvoerende hoof van FNB se kleinhandelafdeling, sê krediet bly ’n belangrike hulpmiddel vir verbruikers om hul finansiële posisie te verbeter – soos deur ’n huis te koop – maar die afhanklikheid van ongesekureerde skuld is kommerwekkend.

“Ongesekureerde krediet kan ’n belangrike buffer wees as huishoudelike begrotings nie voldoende is om onvoorsiene uitgawes te dek nie. Maar ons waarsku verbruikers om nie te afhanklik van ongedekte krediet vir daaglikse gebruik te word nie, aangesien dit hul vermoë om goeie geldbestuurspraktyke te handhaaf, soos om vir langtermyn- finansiële doelwitte te spaar of om te belê, beperk,” sê Makanjee.

Hier is FNB se wenke as jy ook in ’n skuldstrik verval het:

   

1. Betaal jou skuld af

   

Daar is een van twee maniere om dié doelwit te bereik, maar albei behels dat jy meer as die minimum terugbetaling op jou skuld moet doen en nie nuwe skuld moet aangaan nie.

Jy kan jou kleinste bedrag skuld eerste afbetaal, wat jou sal help motiveer om die volgende skuldhekkie oor te steek.

Jy kan die skuld waarop jy die hoogste rentekoers betaal, eerste afbetaal. Só verminder jy die rente wat jy moet betaal, op lang termyn.

   

2. Oorweeg konsolidasie van jou skuld

   

Om jou skuld in een eenvoudige betaling en rentekoers te konsolideer, kan baie moeite én geld spaar. Hetsy jy deur jou bank of ’n derde party so ’n diens benut, is daar baie maniere om dit in te span om jou skuldlas te verminder.

   

3. Bestuur jou kredietprofiel beter

   

As jy bewus is van presies waar die probleemgebiede op jou kredietprofiel is, kan jy dit vinniger begin oplos. Indien jy jou kredietprofiel wesentlik kan verbeter met doelbewuste aksie kan die rente wat jy op enige toekomstige lenings betaal, beduidend verminder en jou kontantvloeisituasie verbeter.

   

4. Vermy dit om nóg onnodige skuld aan te gaan

   

Sodra jou situasie begin verbeter vanweë ’n gesonder kontantvloei, is dit van die uiterste belang dat geen verdere skuld aangegaan word wat nie broodnodig is nie. Die versoeking is dalk groot, veral as geld nou goedkoper geleen kan word, maar dit sal mettertyd net weer die siklus van voor af begin.

   

5. Gebruik skuld op ’n goeie manier

   

Al is daar verskeie lokvalle om krediet vir verbruiksbesteding te benut, kan lenings wel in ander gevalle baie suksesvol ingespan word, en verbruikers behoort nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Lenings vir eiendom stel verbruikers in staat om nie net ’n bate te laat groei nie, maar ook om die koste van huurgeld te vermy, terwyl motorfinansiering in baie gevalle sin maak. Selfs lenings vir onderrig kan geregverdig word vanweë die langtermyn-voordele wat meer kwalifikasies vir ’n individu bied.

Meer oor:  Krediet  |  Skuld  |  Rente  |  Kredietprofiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.