Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Resessie: Waar is my geld veilig?

Mense neem hul swakste beleggingsbesluite wanneer emosies hoog loop. Daarom moet almal versigtig wees om beleggingsbesluite op nuushooftrekke te grond. Kenners gee raad aan bekommerde verbruikers.

  

Jy is nie hulpeloos ten opsigte van jou spaargeld nie, al is die land se ekonomie in ’n resessie. Foto: iStock

Die nuus dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) nou twee agtereenvolgende kwartale op ’n kwartaalgrondslag gekrimp het en ons dus in ’n tegniese resessie is, is inderdaad somber.

Maar ons was nie te lank gelede nie in dieselfde situasie, en toe het dinge eintlik gou weer omgekeer, sê Christopher Eddy, senior beleggingsontleder by 10X Investments.

“Ons het verlede jaar ook kortstondig ’n tegniese resessie beleef, maar die BBP-syfers is later aangepas en dié resessie het uit die geskiedenisboeke verdwyn.”

Lees ook: Resessie: 7 dinge wat jy moet weet

Wat egter wel kommerwekkend is, is dat Suid-Afrikaanse verbruikers se besteding steeds onder groot druk is, en dat baie van ons wakker lê oor hoe ons in ons daaglikse behoeftes gaan voorsien, wat nog te sê vir ons oudag spaar.

Ons het die afgelope week ook geskrik toe die rand tot sy swakste vlak in twee jaar gegly het. As die rand langer swak bly en hoër inflasie die gevolg is, vererger ons pyn net soveel meer.

Sonder hoër ekonomiese groei gaan dit uiters moeilik wees om die staat se geldsake te konsolideer, en met volgehoue swak groei in belastinginkomste, beteken dit lae beleggingsvlakke, lae groei en lae spaarkoerse.

Maar dit beteken nie ons is hulpeloos en planloos om die situasie te hanteer nie.

Hier is vyf faktore wat beleggers en verbruikers in ’n “tegniese resessie” in gedagte moet hou om te oorleef en jou spaargeld slim te bestuur.

    

1. Hou jou oog op lang termyn

  

Dis makliker gesê as gedaan, maar ’n mens moet veral in tye van slegte nuus by jou langtermynstrategie bly om jou beleggingsdoelwitte te bereik, sê Kim Hubner, hoof van sake-ontwikkeling en bemarking by Laurium Capital.

“Wanneer belegger hul bates verskuif in ’n onderpresterende tydperk, maak hulle daardie onderprestasie vas.”

Wanneer belegger hul bates verskuif in ’n onderpresterende tydperk, maak hulle daardie onderprestasie vas.
Kim Hubner van Laurium Capital

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, sê langtermynbeleggers word altyd aangeraai om nie op korttermyn­prestasie te fokus nie, maar eerder op prestasie van minstens vyf jaar.

“Die geskiedenis van mark­prestasie wys vir jou dit is onmoontlik om te voorspel wanneer ons bo- of ondergemiddelde prestasie gaan kry – die kernboodskap bly om te fokus om jou langertermynstrategie en by die rasionele gesonde beginsels te hou.”

    

2. Moet ek nou my geld oorsee neem?

  

Rian le Roux, Sake se Ekonoom van die Jaar.

Beleggers moet hul geld oorsee neem net as deel van ’n langtermynstrategie, is die meeste kenners se raad.

Almal is dit eens dat buitelandse blootstelling deel moet wees van ’n gebalanseerde, gediversifiseerde portefeulje. Om skielik geld te skuif as die rand reeds begin verswak het, kan tot groot verliese lei.

“Kyk na die geld wat oorsee geneem is in Desember 2001 en in Januarie 2016, en die koers waarteen beleggers aandele verkoop het in 1998 en 2009.

“Pasop vir vrees en gierigheid wanneer dit by spaar kom, want albei kan jou ’n groot deel van jou kapitaal kos,” waarsku Rian le Roux, ekonomiese strateeg van die Old Mutual Investment Group en reeds verskeie kere wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.

Op sy beurt sê Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur, ’n mens moet deurentyd die groter prentjie sien en feite oorweeg.

“Die rand was die afgelope tyd te sterk, weens faktore soos Ramaforie en die dollar wat pap was.

“Byvoorbeeld, die dollar het in Februarie vanjaar teen R11,60 verhandel. Sedertdien verhandel die rand 25% swakker teenoor die dollar.

“Dis natuurlik om te dink dat ’n 25%-verswakking buitengewoon is, maar dit beteken nie dat die rand grootliks ‘moet’ herstel nie.”

Hy sê heelwat van die faktore wat bygedra het tot die verswakking, het nog momentum. “Só sal slegs ’n verlangsaming in die handelsoorlog (wat die VSA tans voer) sentiment jeens ontluikende markte laat verbeter.”

Pasop vir vrees en gierigheid wanneer dit by spaar kom, want albei kan jou ’n groot deel van jou kapitaal kos.
Rian le Roux, ekonoom

Dus moet ’n mens oorsese blootstelling in jou portefeulje hê, maar dit moet omsigtig gedoen word.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, beveel aan dat beleggers sowat 35% van hul bates oorsee belê, hoewel hy nie nou skielik stappe sal doen nie.

“As jy bates uitskuif, dink ook net wat oorsee daarmee moet gebeur. Amerikaanse aandele is dalk aan die duur kant; versigtigheid ten opsigte van wat jy met jou geld doen, is ook van belang.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group en ook ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd, sê jy moet jou buitelandse belegging meet in die geldeenheid waarin dit gemaak word, byvoorbeeld dollar.

“Maak ook seker jy gebruik die korrekte strukture. Onthou dat ander wette en belastings in die buiteland van toepassing is. As jy sterf, kan jou boedel byvoorbeeld skielik aan baie hoë belastings onderwerp word.”

  

3. Wat moet ek met my skuld doen?

  

In tye van resessie is dit selfs belangriker om skuld onder beheer te hou as wat dit in die goeie tye is.

Die swak rand bring mee dat brandstof net al hoe duurder word. Dieselfde gebeur met kos, klere, selfone, yskaste, motors – bykans alle produkte word duurder.

Dit is deels omdat Suid-Afrika meer produkte in- as uitvoer en deels omdat die meeste produkte steeds per pad na fabrieke en uiteindelik na winkels versprei word. Duurder brandstof lei tot duurder produkte.

Net drie faktore bepaal hoeveel geld jy gaan hê vir ’n gemaklike aftrede: Hoe lank jy spaar, hoeveel jy spaar en jou beleggingsopbrengs. En hoeveel jy spaar is die enigste een van die drie waaroor jy regtig beheer het.
Rian le Roux, ekonoom

Die beste raad vir jou?

Leef spaarsamig en sny maar die luukses uit sodat daar ’n klein blaaskans in jou begroting is vir duurder kos, brandstof en algemene stygings in lewenskoste.

Moenie ophou spaar vir jou oudag omdat jou uitgawes styg nie.

“Net drie faktore bepaal hoeveel geld jy gaan hê vir ’n gemaklike aftrede: Hoe lank jy spaar, hoeveel jy spaar en jou beleggingsopbrengs. En hoeveel jy spaar is die enigste een van die drie waaroor jy regtig beheer het,” sê Le Roux.

    

4. Wat moet jy weet as jy wil huiskoop?

   

Banke pas deesdae baie streng reëls toe voordat hulle nuwe krediet goedkeur, en huisverbande is geen uitsondering nie.

Om oorsee te belê, moet deel wees van ’n berekende plan en nié ’n emosionele reaksie as die rand verswak nie.

Dit beteken ’n mens sal dalk ’n groter deposito moet neersit voor jy ’n huisverband kry.

Onthou ook dat jy as koper aanspreeklik is vir die betaling van alle koste verbonde aan die oordrag van eienaarskap (die transport) en die registrasie van jou finansiële instelling of bank se verband.

Spaar dus genoeg om dit ook te kan betaal.

Ernstige kopers maak seker hul finansies en kredietgeskiedenis is positief. Hulle betaal ook behoorlike deposito’s, sê Shaun Rademeyer, uitvoerende hoof van BetterBond.

In tye van swak ekonomiese groei sal banke ook strenger wees wanneer hulle eiendomme evalueer waarvoor die lening versoek word, waarsku Rademeyer.

   

5. ’n Laaste woord oor beleggings en slegte nuus

   

Moenie snags wakker lê as die markte skommel nie, sê Roodt. “Jy kan wel markrisiko bestuur deur die regte produkte te kies, maar jy kan nie daarvan wegkom nie. Aanvaar dit.”

Te veel mense verloor hul geld deur te swig voor mooipraatjies en beloftes.
Dawie Roodt, ekonoom

Maar, waarsku hy, jy mag nooit institusionele risiko neem nie.

“Dit beteken eenvoudig dat jy moet weet met wie jy sake doen en jy moet verstaan waarin jy jou geld belê. Te veel mense verloor hul geld deur te swig voor mooipraatjies en beloftes.”

Maak seker dat die persoon of instelling waarmee jy sake doen, vertrou kan word. Gaan sy registrasies of kwalifikasies na, doen navraag by kliënte en wees altyd op jou hoede.

Meer oor:  Rian Le Roux  |  Dawie Roodt  |  Oorsese Beleggings  |  Bbp1802  |  Bbp  |  Beleggings  |  Resessie  |  Rand  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1108,65 (2792)
  • Top 40 45929,03 (12363)
  • All Share 52146,04 (14659)
  • Resource 10 39470,3 (2238)
  • Financial and Industrial 30 69022,22 (28521)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.