Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Rus in luukse vrede

As jy gaan, gaan groot.

’n Vergulde kis in ’n Rolls-Royce-lykswa van die Britse A.W. Lymn-begrafnisonderneming. Foto: A.W. Lymn via Bloomberg

Dit blyk letterlik die neiging te wees onder ontslape superrykes wat vóór hul afsterwe reël dat hul finale reis op aarde ’n swierige affêre is. Vir van die welgestelde en magtige sterflinge onder ons word die finale afskeid ook die laaste geleentheid om met hul rykdom te pronk.

Veral oorsee raak oordadige begrafnis-seremonies al hoe meer algemeen onder die rykstes van die rykes: enigiets van ’n vergulde kis teen $60 000 tot ’n pasgemaakte Rolls-Royce-lykswa, van gospel-kore wat jou vir oulaas toesing tot geliefdes en vriende wat na ’n begrafnisbestemming gevlieg word om jou oorskot soos dié van die Viking-krygers van ouds ter see te laat op ’n brandende bootjie.

Die Britse begrafnisondernemer A.W. Lymn se doelgemaakte Rolls-Royce-lykswaens en ’n vloot van 25 bypassende Rolls-Royce-sedans is baie gesog. Nigel Lymn Rose, uitvoerende hoof, sê hy moes al die hele vloot as lugvrag na Rusland neem vir ’n begrafnis daar.

Maar Suid-Afrika se rykes bly nie ver agter nie. Sanlam Reality sê in ’n artikel op sy webblad www.sanlamreality.co.za die begrafnis van die Top Billing-aanbieder Simba Mhere, wat in 2015 in ’n motorongeluk dood is, het meer as R500 000 gekos en dié van die Bafana Bafana-held Senzo Meyiwa sowat R3 miljoen.

Spesiaal versierde kiste van Sonja Smith-begrafnisdienste.

Sonja Smith, besturende direkteur van die Sonja Smith-begrafnisgroep, sê sy moes op ’n keer skoenlappers invlieg om op ’n begrafnisdiens los te laat. Sy sê sulke unieke versoeke vir begrafnis- of roudienste gaan eerder oor die spesiale nagedagtenis aan ’n geliefde as om uitspattig te wees.

Sy en haar span help daarom graag om die situasie draagliker te maak vir geliefdes wat agterbly.

Op ’n dag het ’n pa wat ’n kis vir sy seun uitgesoek het, opgemerk hoe erg sy seun oor Alfa Romeo’s was en gesê dis jammer sy seun kan nie daarin begrawe word nie . . .

“Ek kon aan die wens voldoen. Ons het ’n kis gedrapeer in ’n groot rooi Alfa Romeo-ontwerp, kompleet met nommerplate voor (geboortedatum) en agter (sterftedatum), en die Alfa Romeo-embleem op die kis gemonteer. Dit was ’n betekenisvolle ervaring vir familie en vriende,” sê Smith.

Vir die begrafnisdiens van ’n taksidermis het sy die man se laaste werk per vragmotor laat aanry na die kerk. Dié besondere werk van ’n luiperd wat ’n rooibok vang, het begrafnisgangers in die portaal van die kerk begroet.

Van die rykste mense kies ’n Joodse kis van onverniste dennehout, as toonbeeld van eenvoud.
Sonja Smith

Smith sê in Suid-Afrika gee geliefdes maklik geld uit vir musikante soos ’n violis, harp- of panfluitspeler omdat dit ’n mooi atmosfeer skep.

Die keuse van ’n kis is baie persoonlik, sê sy.

Vir verpersoonlikte begrafnisse, word kiste dikwels versier met ’n tema wat die ontslapene na aan die hart gelê het, sê Sonja Smith, besturende direkteur van die gelyknamige begrafnisonderneming.

“Van die rykste mense kies ’n Joodse kis van onverniste dennehout, as toonbeeld van eenvoud.

“Skuldgevoelens kan soms ’n rol speel wanneer daar nie genoeg gedoen is vir die oorledene terwyl hy/sy nog geleef het nie – en dan word meer geld uitgegee.”

Baie mense verkies deesdae ’n omgewingsvriendelike of “groen” begrafnis. Pleks van ’n houtkis, word ’n geweefde kis gebruik. Dit lyk soos ’n mandjie en word gemaak van seegras of klapperhaar.

Wat begrafnisse kos

Die begrafnisbedryf in Suid-Afrika word nie gereguleer nie en pryse vir ’n begrafnis kan wesenlik verskil, sê die begrafnisondernemer Sonja Smith.

“Dit is egter belangrik om appels met appels te vergelyk. In baie gevalle is dit ’n kwessie van keuse, waar goeie diens en geriewe meer gewig dra as geld. Om uitbuiting te voorkom, maak seker jy gebruik ’n onderneming wat geregistreer is by ’n vereniging wat geaffilieer is by die begrafnisfederasie van Suid-Afrika (FFSA).

Sanlam sê in Suid-Afrika bestee ’n Suid-Afrikaanse gesin met ’n maandelikse inkomste van tussen R3 000 en R10 000, enigiets van R6 000 aan ’n intreevlak-begrafnis.

Mense in die middelinkomstegroep is bereid om tussen R12 000 en R50 000 te betaal, terwyl welgestelde mense meer bestee. So byvoorbeeld kos ’n begrafnis in ’n private begraafplaas in Gauteng gemiddeld R40 000.

Belastingvoordele

Nico van Gijsen, finansiële beplanner en ’n rubriekskrywer vir Rapport, sê daar is mense wat heelwat aan begrafnisse uitgee om belastingvoordele te kry, maar hy maan teen dié “spookasem van ’n windgat”.

“Moenie dink jy gaan deur hoë begrafnisuitgawes Jan Taks uit die monetêre voordele van jou dood verneuk nie.

“Die Boedelbelastingwet is meer gebiedend as die Bybel. Die Bybel verkondig immers verlossing, die Boedelbelastingwet nie. Met ’n uitspattige tjank-en-traangeleentheid benadeel jy net jou naasbestaandes. Hulle erf minder en Jan Taks voel vere.

“Al sou jy alles kon aftrek vir boedelbelasting, gaan die begrafnisondernemer op sy beurt danksy jou spandabelrigheid in elk geval inkomstebelasting betaal teen ’n hoër koers as waarmee jy meen jy die belastinggaarder kon inloop.”

Hoewel die Boedelbelastingwet sekere aftrekkings toelaat voordat boedelbelasting gehef word op die netto waarde van jou boedel (en ná die korting van R3,5 miljoen), is dié aftrekkings beperk tot soveel as wat die inkomstekommissaris meen regverdig en billik is – en hy gaan beslis nie verspotte uitgawes toelaat nie, sê Van Gijsen.

Daar is wel voorsiening vir kulturele gebruike, soos as jy ’n bees moet slag. Duur grafstene is egter nie noodwendig billik en regverdig nie – en ’n begrafnispartytjie waarskynlik ook nie.

Pleks van begrafnisfoefies, gebruik eerder wettige maniere om boedelbelasting te vermy soos sekere bemakings. Kry raad hieroor, sê Van Gijsen. “My gevoel is dat dit ryk maar onnosel is as jy jou moet verlaat op ’n uitspattige begrafnis om die Boedelbelastingwet te systap.

“Daar is maniere om welvaart te skep vir jou en jou naasbestaandes waar belastingrisiko’s beperk kan word deur bloot tydige en sinvolle finansiële beplanning te doen.”

Meer oor:  Begrafnis  |  Boedelbelasting  |  Belasting  |  Graf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1080,73 (-281)
  • Top 40 45805,4 (-2780)
  • All Share 51999,45 (-11034)
  • Resource 10 39447,92 (-95050)
  • Financial and Industrial 30 68737,01 (53875)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.