Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Rykes, Jan Taks kóm vir julle

Talle superryk Suid-Afrikaanse belastingbetalers se spesiale briefie van die belastinggaarder is eersdaags in die pos.

Edward Kieswetter, commisioner of the South Africa
Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het die eerste van ’n groep welvarende belastingbetalers met “ingewikkelde finansiële reëlings” geïdentifiseer en hulle sal binne die volgende twee maande kommunikasie van die SAID ontvang, het Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy begrotingsrede gesê.

As deel van hervormings en modernisering by Jan Taks om doeltreffender te wees met belastinginvordering, belastingnakoming te verbeter en die belastingbasis te vergroot, sal die SAID vanjaar ’n spesiale eenheid vestig wat data oor welvarende belastingbetalers sal konsolideer. Hulle sal inligting ontvang van derdepartye soos banke, versekeraars of eiendomsagente, blyk uit die begrotingsdokumente.

Dit volg op aanbevelings van die Davis-komitee wat die belastingstelsel hersien, en sal onder meer gebruik word om die lewensvatbaarheid van ’n welvaartbelasting te bepaal.

Om al dié pogings te ondersteun, het die minister R3 miljard op mediumtermyn aan die SAID toegewys.

Die geld is bedoel vir die modernisering van tegnologiese stelsels, beter gebruik van dataontleding en kunsmatige intelligensie.

Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, het ná die begrotingsrede aan Newzroom Afrika gesê die inkomstediens kan nie sy bekwaamheid herbou sonder om datastelle, kunsmatige intelligensie en masjienleer in te span nie.

Kenners met die regte vaardighede moet ook teruggelok word, maar daarvoor is hulpbronne nodig. Die SAID het die laaste paar jaar tydens die staatskapingsprojek sowat 2 000 kundiges verloor wat die tegniese kennis gehad het om belastingvermyding en -ontduiking op te spoor, het hy gesê.

Belastingkenners waarsku al die laaste paar jaar die SAID verloor miljarde se moontlike inkomste weens belastingvermyding omdat hy nie genoeg vaardighede en kenners het om dié belastingoortreders vas te vat nie.

Kyle Mandy, hoof van belastingbeleid by PwC Suid-Afrika, het voor die begroting gesê die belastinggaping (die verskil tussen die totale belasting betaalbaar en dit wat betyds betaal word) kan tot R200 miljard beloop.

Dít terwyl die belastinginkomste vanjaar sowat R213 miljard minder kan wees as wat in Februarie 2020 voorsien is.

Mboweni het Woensdag gesê dit is die grootste belastingtekort wat aangeteken is.

Thomas Lobban, regskenner en belastingpraktisyn van Tax Consulting, sê die belastinggaarder se fokus op welvarende individue is bemoedigend vir belastingbetalers wat meen Jan Taks het voorheen op maklike teikens gefokus.

Geregistreerde belastingbetalers wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien, maak 1,6% van alle geregistreerde belastingbetalers uit, maar betaal 26,5% van alle persoonlike inkomstebelasting. Dié individue wat tussen R500 000 tot R1,5 miljoen verdien, maak 14,9% van geregistreerde belastingbetalers uit en betaal 40,9% van alle persoonlike inkomstebelasting.

Die staat verwag hy gaan in die 2021-’22-boekjaar R1 370 miljard insamel as die onderliggende aannames oor die ekonomie en belastingbasis verwesenlik word.

Carla Rossouw, hoof van belasting by Allan Gray, sê die begroting is beslis belastingvriendelik. Omdat die staat vanjaar ongeveer R100 miljard meer in belastinginkomste kan insamel en R86 miljard meer in 2021-’22 as wat voorheen verwag is, kon die tesourie afsien van bykomende belastings van R40 miljard oor die volgende drie jaar wat hy verlede jaar in die vooruitsig gestel het.

Mboweni het R2,2 miljard se belastingverligting aan individuele belastingbetalers gegee deur die belastingkategorieë met meer as die inflasiekoers aan te pas. As jy meer as die belastingvrye drempel van R87 300 verdien, kan dit vanaf 1 Maart minstens R756 ekstra in jou sak beteken.

Die verwagte verlies sal goedgemaak word deur die styging van 8% in aksynsbelastings op alkohol- en tabakprodukte.

Indien die belastingkategorieë nie aangepas is nie, sou dit R11,2 miljard vir die staatskas beteken het, maar dit is gedoen nadat navorsing gewys het belastingverhogings het ’n groter negatiewe uitwerking op groei as laer besteding deur die regering, blyk uit die tesourie se dokumente.

Volgens Nicholas Riemer, hoof van beleggingsinligting by FNB Wealth and Investments, is belastingbetalers verlig omdat belastingkoerse nie verhoog is nie, en die maatskappybelastingkoers van volgende jaar van 28% tot 27% verlaag is.

“Dit is positief vir Suid-Afrikaanse maatskappye omdat die laer koers hoër maatskappywinste beteken en buitelandse en plaaslike beleggers sal lok.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.