Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
SA huishoudings sink in die skuld

Sowat 10% van Suid-Afrikaanse huishoudings het tussen Maart en Desember verlede jaar ’n betaling op hul huis- of voertuiglening gemis óf te min betaal.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Baie Suid-Afrikaners is agterstallig met hul skuldterugbetalings. Foto: Getty Images

Tot 40% het betalings op winkelkaarte gemis en sowat 60% het nie die maandelikse terugbetaling op persoonlike lenings bygebring nie.

Sebastien Alexanderson, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma National Debt Advisors (NDA), sê hul navorsing toon ook sowat 80% van huishoudings se geldsake is tydens die Covid-19-pandemie en -inperkings negatief geraak.

Dit volg nadat PayCurve in Augustus gesê het 80% van Suid-Afrikaners maak op ongesekureerde skuld (soos persoonlike lenings) staat om hul maandelikse uitgawes te help dek.

Alexanderson sê volgens die jongste indeks van Experian oor wanbetalings, is verbruikers laks met die terugbetaling op persoonlike lenings, maar beter met betalings op krediet- en winkelkaarte.

“Minder mense mis dié betalings omdat hulle steeds die kaarte moet gebruik. Baie gebruik nou hul krediet- of winkelkaarte om noodsaaklikhede soos kos en skoolklere te koop.”

Teen einde Desember het verbruikerskrediet meer as R2 000 miljard beloop, aldus die Nasionale Kredietreguleerder (NKR).

Die skuldberaders DebtBusters het onlangs gesê die betalingsvakansies wat banke in Maart verlede jaar aan sukkelende verbruikers gebied het, het ’n bykomende R20,7 miljard se skuldlas geplaas op die 1,6 miljoen Suid-Afrikaners wat daarvan gebruik gemaak het.

Luidens die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se jongste kwartaallikse bulletin het die verhouding van huishoudelike skuld tot besteebare inkomste in die vierde kwartaal van 2020 tot 75,3% gestyg, teenoor 74,9% in die derde kwartaal.

k

Geen noodfonds, besnoei op aftree-spaar

Intussen sê Sanlam hy is besorg dat 21% van respondente in ’n blitsopname aangedui het hulle besnoei op hul spaargeld vir aftrede en het hul finansiële produkte gekanselleer of hersien te midde van Covid-19-verwante finansiële druk.

Hoewel die pandemie baie huishoudings laat besef het hoe belangrik ’n noodfonds is, het net 49% van respondente genoeg spaargeld gehad om drie maande se rekeninge te kan betaal, sê Sanlam in ’n verklaring.

Krediet-kommer

Volgens die NKR se kredietburo-monitor het kredietburo’s einde Desember gegewens van 27,4 miljoen kredietaktiewe verbruikers gehou. Daarvan was net meer as 61% op datum met hul skuldbetalings.

In Desember was 16,8 miljoen verbruikers op datum, teenoor 17,52 miljoen in Maart 2020 toe Suid-Afrika se eerste Covid-19-geval bevestig is.

Van die 38,7% kredietaktiewe verbruikers wat teen Desember agterstallig was, was 23,4% drie maande agterstallig, in 12,1% gevalle is die rekenings oorhandig aan skuldinvorderaars of afgeskryf, en in 3,2% van gevalle is hof- of administrasiebevele teen hulle uitgereik.

Charnel Ernstzen, hoofbestuurder van die NDA, sê die stygende lewenskoste terwyl derduisende verbruikers nie in 2020 jaarlikse salarisverhogings of bonusse gekry het nie, het vier uit vyf kliënte se geldsake negatief geraak.

Soos die inperkingsmaatreëls verslap het, het dit effens verbeter, maar hulle sien steeds dat verbruikers betalings op kredietkaarte en verbandlenings eerste stel, sê sy.

Vra betyds hulp

Dis geen skande om kredietbetalings te mis nie en verbruikers wat agter raak, moet betyds hulp vra, soos skuldhersiening waarvoor die Nasionale Kredietwet voorsiening maak.

Ernstzen sê die doel van skuldberading is om verbruikers se skuldposisie te rehabiliteer. Onder dié formele proses kan jou verpligte maandelikse betalings met tot 50% verminder word, terwyl jou bates beskerm is teen krediteure. Jy moet egter nougeset die terugbetalings doen.

Sedert November het skuldberadingsaansoeke by die NDA met sowat 20% gestyg. Dít is buiten die aansienlike styging in navrae, sê sy.

Sydney Mbhele, uitvoerende hoof van Sanlam se handelsnaam-afdeling, sê in ’n verklaring syfers wys Suid-Afrikaanse huishoudings spaar van die minste in die wêreld.

Volgens die SARB het die nasionale spaarkoers in die vierde kwartaal tot 14,4% gedaal teenoor 16,4% in die derde kwartaal.

Mbhele sê jy hoef nie welgesteld te wees om te spaar nie. “Deur aftreespaargeld te prioritiseer voor die ouderdom van 25 jaar, sal jy die voordeel geniet van saamgestelde rente en die bedrag wat jy maandeliks wegsit, kan veel kleiner wees as wanneer jy eers later sou begin spaar vir dieselfde aftreebedrag.”

Meer oor:  Agterstallige Skuld  |  Lenings  |  Kredietkaart  |  Krediet  |  Skuld  |  Huishoudelike Besteding  |  Skuldberading  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.