Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
SA se spaarkoers vertel treurige verhaal
Suid-Afrikaners se spaarvarkies is leeg en dit knou ekonomiese groei nog meer. Foto: http://wallpaperfolder.com

Tensy Suid-Afrikaners meer spaar, gaan die land nie die inklusiewe ekonomiese groei behaal wat hy nodig het nie.

Investec en die Gordon Institute of Business Science (Gibs) se spaarindeks, wat Woensdag in die laaste week van Spaarmaand bekend gemaak is, wys presies hoe ver van die merk Suid-Afrika met sy spaarkoers is.

Die strukturele agteruitgang van die land se spaarkoers sedert 1990 was die beweegrede vir dié indeks, wat verlede jaar van stapel gestuur is.

Dit meet die land se spaarkoers uit ’n indekspunt van 100, wat die sogenaamde hoogwatermerk, oftewel die strukturele vermoë van die land se ekonomie, asook die gemiddelde syfers van die wêreld se top-spaarlande verteenwoordig. Dit is lande wat oor 25 jaar ’n ekonomiese groeikoers van 7% en hoër gehad het.

Die jongste indeks wys dat Suid-Afrika se indekspunt in die eerste kwartaal van 2017 op 60,7 was. 100 indekspunte word as die “slaagsyfer” beskou.

Suid-Afrika se punt vir die eerste kwartaal is wel beter as die 58,3 van die tweede kwartaal van 2016, die laagste vlak sedert 1990, wat so ver terug is as wat die indeks se data strek.

Die indeks kyk na drie onderafdelings:

  • Die omvang van spaargeld wat die ekonomie se beleggingsbasis finansier.
  • Die spaarkoers. Dit verteenwoordig die vloei van geld na die spaarpoel wat beleggingsvloei finansier.
  • Veranderinge in omgewingsfaktore wat die geneigdheid van die regering, maatskappye en individue om te spaar, kan beïnvloed. Dit sluit in aspekte soos die hoë werkloosheidskoers en lae finansiële geletterdheid.

Dr. Adrian Saville, professor in ekonomie, finansies en strategie by Gibs, sê die ondervinding in ander lande, in alle fases van ontwikkeling, identifiseer ’n hoë spaarkoers as ’n kritieke drywer van volgehoue, verhoogde en inklusiewe ekonomiese groei.

“Terwyl die versoeking daar is om verskeie redes aan te voer vir die swak groei in Suid-Afrika, is die oorsaak van lae ekonomiese groei dieselfde hier as in enige ander land – die gebrek aan spaargeld om die beleggings te finansier wat nodig is om ekonomiese groei en nywerheidstransformasie te ondersteun.”

Dit word geïllustreer deur die feit dat Suid-Afrika se hoogste indekspunt net 71,1 was – en dit is in 1990 behaal. Sedertdien boer die land se spaaromgewing deurlopend nog verder agteruit. As oor die 27 jaar na die indeks gekyk word, moet die land se spaarpoel permanent met sowat ’n derde toeneem. Die onderafdeling spaarvloei van die indeks was egter in die eerste kwartaal van 2017 op 55,9, wat daarop dui dat die spaarvloei van die huidige vlakke amper moet verdubbel om die vereiste spaarpoel te skep.

René Grobler, hoof van kontantbeleggings by Investec, sê dit is tyd dat Spaarmaand uitgebrei word na ’n verbintenis van alle rolspelers om dwarsdeur die jaar hul deel te doen.

Wat kan Suid-Afrika leer van ander lande waar ’n sterk spaarkultuur gevestig is?

  • Bevorder finansiële geletterdheid;
  • Vervang toegang tot krediet met fasiliteite wat spaar aanmoedig;
  • Skep aansporings wat mense aanmoedig om te spaar; en
  • Moedig hoër produktiwiteit, groei in inkomste en werkskepping aan deur beleggings in produktiewe bates aan te moedig.
Meer oor:  Gibs  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake  |  Muntslim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.