Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
SA verbruikers sal eerder hul huis as motor verloor

As Suid-Afrikaners vasbrand met hul geldsake, is dit hul motors wat hulle eerste beskerm, nié hul huislenings nie.

TransUnion sê verbruikers beplan nie om agterstallig te raak met hul rekeninge nie - dit gebeur dikwels ná ’n krisis soos werkverlies, egskeiding of siekte. Foto: Pixabay

Dis die belangrikste bevinding in ’n studie wat die kredietburo TransUnion gedoen het oor die moeilike keuses wat verbruikers uitoefen wanneer hulle onder finansiële druk kom. Die studie gaan oor sogenaamde betalingshiërargieë, dus watter betalings mense as belangriker beskou as ander.

Vir die eerste deel van die studie het TransUnion nagenoeg 325 000 Suid-Afrikaners se betalingsgewoontes ontleed. Dit is mense wat minstens een van die volgende het: ’n kredietkaart, motorlening en huislening. Die studie het verbruikers se betalings oor ’n jaar (in 2016) waargeneem.

Volgens Carmen Williams, TransUnion se navorsingshoof wat die studie gelei het, is die konvensionele wysheid dat mense wat vasbrand, eerste ’n betaling op hul kredietkaart sal oorslaan, daarna op hul motorlening en eers dán op hul huislening.

“Die verwagting is dat verbruikers slegs in die uiterste geval die betaling van hul huispaaiement sal staak. Die rasionaal is, volgens konvensionele wysheid, dat jy geen belangrike bates in gevaar stel as jy ’n kaartbetaling oorslaan nie; motors is belangrik om doeltreffend by jou daaglikse bedrywighede te kan kom; en uiteraard is die huis die middelpunt van die gesinslewe en die belangrikste bate wat enige verbruiker kan besit.”

Die TransUnion-studie onthul egter dat verbruikers hul motorpaaiemente prioritiseer, en eers daarna hul huispaaiement. In pas met die verwagting, is dit wel kredietkaartbetalings wat eerste sneuwel.

TransUnion beklemtoon dat die studie nie ’n aanbeveling is van wat verbruikers in krisistye moet doen nie, maar bloot die waarneming van werklike keuses van Suid-Afrikaanse verbruikers.

In syfers

In November 2016 was 6,68% van die verbruikers wat TransUnion waargeneem het, meer as ’n maand agterstallig met kredietkaartterugbetalings; 2,53% was laat met huispaaiemente; en 1,64% was laat met motorpaaiemente.

Williams reken mense dink eenvoudig aan die grootte van die betaling, eerder as die risiko dat hulle hul huis gaan verloor. Die grootte van die huispaaiement teenoor die motorpaaiement speel dalk ook ’n rol, asook of hulle toegang tot ander vorme van krediet het.

Sy glo kredietkaarte word eerste oorgeslaan omdat mense reken die gevolge daarvan is nie so drasties nie – hulle sal byvoorbeeld nie hul motor verloor daardeur nie. Indien hulle nie meer op hul kredietkaart kan bestee nie, het hulle bes moontlik nog toegang tot ander vorms van betaling, soos persoonlike lenings of winkelkaarte.

Williams sê een van die redes waarom motorpaaiemente voorkeur kry, is bes moontlik omdat dit ’n kleiner bedrag is as die huispaaiement. “Om ’n huispaaiement oor te slaan, sal in die algemeen vir verbruikers meer verligting in kontantvloei gee ten einde ander verpligtinge na te kom.

“Daar is ook baie huur-alternatiewe tot huiseienaarskap; daarteenoor is openbare vervoer gewoonlik nie ’n doeltreffende alternatief tot motoreienaarskap nie.”

Williams sê verbruikers besef ook dat motorfinansiers baie vinniger beslag kan lê op hul motor nadat hulle so min as twee of drie paaiemente oorgeslaan het. Daarteenoor is uitsetting weens die wanbetaling van ’n huislening ’n langsame proses wat soms selfs jare kan duur.

“Laastens is ’n motor dalk die primêre vervoer werk toe, of vir die soektog na werk, as geskikte openbare vervoeropsies nie beskikbaar is nie, wat voortgesette toegang tot ’n motor belangrik maak vir die beveiliging van ’n verbruikers se inkomstebron.”

Kredietkaart, persoonlike lenings en winkelkaarte

In die tweede deel van die studie is gekyk watter vorm van ongesekureerde krediet voorkeur kry as verbruikers vasbrand.

Nagenoeg 375 000 verbruikers met ’n kredietkaart, winkelkaarte en persoonlike lenings is waargeneem.

“Die aanname was histories dat verbruikers hul terugbetalingshiërargie sal grond op die konsep van toekomstige nuttigheid, en dus kredietkaarte sal prioritiseer omdat dit vir toekomstige gebruik beskikbaar sal bly, vir gebruik by verskillende winkels. Winkelkaarte moet volgende wees, weer eens omdat dit in die toekoms weer nuttig sal wees, hoewel net by een handelaar. Persoonlike lenings sal laaste kom omdat die geld reeds ontvang en bestee is, en die lening dus geen toekomstige nut het nie.”

Die TransUnion-studie het egter bevind Suid-Afrikaners gee voorkeur aan die terugbetaling van persoonlike lenings. Tweede is kredietkaarte en derde winkelkaarte.

In syfers

In November 2016 was 25,2% mense meer as ’n maand agterstallig met hul winkelkaarte, maar net 11,9% vir kredietkaarte en 7,6% vir persoonlike lenings.

Volgens Williams kan dit dalk verklaar word deur die feit dat debietorders ’n voorvereiste vir persoonlike lenings is.

Nog ’n rede waarom wanbetalings laer is op persoonlike lenings is omdat daar ’n vaste afbetaaltyd is. Verbruikers kan dus die “lig aan die einde van die tonnel” sien. Met krediet- en winkelkaarte kan mense die minimum betaling doen en dan net weer skuld maak.

Williams beklemtoon dat die studie nie gaan oor mense wat doelbewus skuld aangaan wat hulle nie wíl terugbetaal nie. “Wanneer mense ’n terugbetaling misloop, is dit dikwels weens groot lewensgebeure – die verlies aan ’n werk, ’n verhouding wat in duie stort, siekte of ander onverwagse rekeninge.”

Die studie kan kredietverskaffers groter insig gee in die keuses wat verbruikers maak, maar Williams glo ook dis nie in yster gegiet nie.

“Betalingshiërargieë is uiters ingewikkeld en dinamies, en kan beïnvloed word deur eksterne aandrywers soos werkloosheidskoerse, inkomstevlakke en huispryse. Soos dié aandrywers verander, kan dit hiërargie verander – en die onlangse ekonomiese dwarswinde kan beslis potensieel verbruikers se prioriteite oor hul finansiële verpligtinge verander.

Meer oor:  Transunion  |  Carmen Williams  |  Kredietburo  |  Huisverband  |  Lenings  |  Krediet  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.