Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
SAID vasbeslote om taks-teiken te haal
Die SAID is vol vertroue dat hy vanjaar sy belasting-teiken sal invorder.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is diep bekommerd oor sy vermoë om vanjaar sy teiken vir die invordering van belasting te haal.

Die SAID mik om in 2019-’20 – die belastingjaar wat op 1 Maart begin het – sowat R1 422 miljard in te vorder, maar het al die afgelope vyf jaar sy teiken gemis.

“Die eerste kwartaal se inkrimping van die ekonomie, powere vooruitsig vir groei vir die res van die jaar en die interne uitdagings wat my in die gesig staar, sal beslis die hoeveelheid belasting wat ons teen die einde van die jaar kan invorder, beïnvloed,” het Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, per e-pos aan Netwerk24 gesê.

Kieswetter het op 1 Mei sy pos betree nadat hy by die waarnemende kommissaris, Mark Kingon, oorgeneem het. Kingon is deur pres. Cyril Ramaphosa aangewys nadat Ramaphosa in November 2018 vir Tom Moyane as kommissaris afgedank het ná die bevindings van die Nugent-kommissie van ondersoek na probleme by die SAID.

Kieswetter, wat ’n enorme omkeerplan by die SAID op die been probeer bring, is nog nie bereid om te voorspel dat hulle vanjaar se teiken sál misloop nie.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, het in Junie aan Netwerk24 gesê dat ’n fiskale afgrond dreig weens die beduidende wanprestasie van die ekonomie.

LEES OOK: BBP: Fiskale afgrond skeur oop weens tam groei

“As ons nie eens die groeiteikens kan haal wat as fondasie vir ons konserwatiewe begroting dien nie, gaan ons probleme net erger raak,” het Ackerman gesê.

As ons nie eens die groeiteikens kan haal wat as fondasie vir ons konserwatiewe begroting dien nie, gaan ons probleme net erger raak,
Maarten Ackerman

Ackerman voorspel die ekonomie sal in 2019 met net 0,5% groei, terwyl die tesourie met Februarie se begroting – waarop belastingteikens gegrond is – 1,5% verwag het.

Die meeste ekonome en finansiële instellings het hul groeivooruitsigte beduidend afwaarts aangepas nadat die 3,2%-inkrimping van die bruto binnelandse produk in die eerste kwartaal in Junie aangekondig is.

Volgens Kieswetter sal die SAID eers self die eerste helfte van die jaar se impak op invordering kan evalueer wanneer sy inkomstesyfers vir Junie beskikbaar word. Dié syfers sal einde Julie op Jan Taks se webwerf gepubliseer word.

Maar Kieswetter is vasbeslote om met hernude fokus die SAID se reputasie te herstel, sowel as hul invorderingsteikens te haal.

Met die aanvang van die belastingjaar Maandag het Kieswetter verskeie veldtogte en stappe aangekondig waardeur die SAID beoog om sy teikens vanjaar te haal.

Dit het ingesluit die bekendstelling van die SAID se nuwe mobi-app, waardeur individue nou volledig hul ganse opgawe kan indien en dokumente kan oplaai.

Die hele eFiling-stelsel is ook oorgedoen.

Kieswetter het opnuut beklemtoon hy wil hê soveel as moontlik Suid-Afrikaners moet wegbly van sy takke en eerder die nuwe digitale dienste benut.

Dié beroep is gemik op diegene wat wel opgawes móét indien.

Mense wat minder as R500 000 per jaar as gewone salaristrekkers verdien en nie mediese of ander uitgawes hoef te eis nie, word aangemoedig om nie die SAID se hulpbronne onnodig te benut nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.