Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Selfoondata: ‘Jy moet vergoed word’
Ebrahim Mohamed, nasionale verbruikerskommissaris, sê regulasies oor selfoondata word eersdaags verwag.

As jy nie al jou selfoondata teen die vervaldatum gebruik nie, behoort die randwaarde van die ongebruikte data aan jou terugbetaal te word.

Dít is een van die voorstelle wat die Verbruikerskommissie gedoen het in die oorlog oor Suid-Afrika se peperduur selfoondata.

In ’n voorlegging oor die kommissie se jaarverslag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid het Ebrahim Mohamed, die kommissaris van die Verbruikerskommissie, gesê die meeste klagtes wat die ombud vir verbruikersgoedere en dienste in die afgelope jaar ontvang het, was oor selfoondata wat ná 30 dae verval.

Mohamed het ook die jongste syfers oor motorklagtes en kopsere oor vakansieklubs bekend gemaak.

Lees ook: Vakansieklubs: Laaste kans om jou storie te deel

Die ombudsman het 1 518 klagtes – 25% van die altesame 5 999 – oor selfone ontvang.

Volgens Mohamed het die verbruikerskommissie nog nie die stryd laat vaar om te sorg dat databondels heelwat langer geldig bly as wat tans die geval is nie.

Dit moet volgens die Verbruikerswet trouens vir drie jaar geldig bly, sê hy.

Die wet bepaal dat ’n voorafbetaalde sertifikaat, kaart, krediet of bewys nie verval tot die vroegste tydstip van die datum waarop die volle waarde daarvan afgelos is in ruil vir goedere of dienste of toekomstige toegang tot dienste nie, of drie jaar ná die datum waarop dit uitgereik is, of by die einde van ’n langer of uitgebreide tydperk waartoe die verskaffer op enige tydstip ingestem het.

Die kommissie het weens die getal klagtes hieroor saam met die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) ondersoek ingestel na diensverskaffers se datapakkette.

Die uiteinde daarvan was die voorgestelde regulasies wat in Augustus gepubliseer is. Daarvolgens moet databondels van:

  • 1 MB tot 50 MB vir minstens tien dae geldig bly;
  • 50 MB tot 500 MB vir 30 dae;
  • 500 MB tot 1 GB vir 60 dae;
  • 1 GB tot 5 GB vir 90 dae;
  • 5 GB tot 10 GB vir 180 dae;
  • 10 GB tot 20 GB vir 12 maande; en
  • Meer as 20 GB vir minstens 24 maande.

Mohamed sê hulle is nie heeltemal tevrede met dié regulasies nie en het aan Okosa voorgestel dat die randwaarde van die bondel wat nie teen die vervaldatum gebruik is nie aan die klant terugbetaal word.

“Ons wag nou op die finale regulasies om te sien of ons voorstel daarby ingesluit is en sal daarna besluit of verdere stappe nodig is,” sê hy.

Dié regulasies word na verwagting later vandeesmaand gepubliseer.

Vakansieklubs

Openbare sittings oor mense se ander groot klagte – vakansieklubs – sluit ook dié maand met verhore op 9 en 10 Oktober in Pretoria af.

Die kommissie se verslag sal dan oor ses maande afgehandel word.

Vakansieklublede se grootste klagte is dat hul punte selde genoeg is om ’n vakansie mee te bespreek en dat hulle dan nóg punte moet koop.

Daar is ook dikwels geen plek op die datums waarop hulle blyplek wil bespreek nie.

Boonop kan mense slegs hul kontrakte beëindig as hulle bereid is om hul aanvanklike kapitaalbelegging prys te gee, selfs al het hulle die tyddeel geërf.

“Mense kry nie waarvoor hulle betaal nie,” sê Mohamed.

Motors

Die motor­ombudsman het altesame 1 970 klagtes ontvang. Hiervan was 652 (33%) oor onklaar enjins en 487 (25%) oor swak diens.

Mohamed sê die meeste van die klagtes oor enjins is van mense wat tweedehandse voertuie gekoop het en dan die enjin vervang.

Hy sê mense raak ook al hoe meer gesteld daarop dat hulle ordentlik behandel word.

“As ’n bestuurder van ’n motorhandelaar onbeskof is, kom lê mense deesdae klagtes.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.