Bedrieërs mag vir tien jaar ’n klad op hul naam by kredietburo’s behou en nie net ’n jaar nie, het die appèlhof nou beslis.

Daar is ’n reuseverskil tussen inligting dat iemand byvoorbeeld nie hul klererekening betaal het nie en iemand wat bedrieglik opgetree het.
Dié uitspraak volg op ’n jare lange hofstryd tussen die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) en die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS).
Die NKR het volgehou inligting oor bedrog is ook “kredietinligting” wat ingevolge die Nasionale Kredietwet net ’n jaar op iemand se kredietgeskiedenis mag wees.
Maar die SAFPS het gesê daar is ’n reuseverskil tussen inligting dat iemand byvoorbeeld nie hul klererekening betaal het nie en iemand wat bedrieglik opgetree het.
Die SAFPS is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat maatskappye en kredietverleners help om bedrieërs te vermy.
Die appèlhof het bevind deur reëls wat bedoel is om te keer dat verbruikers vir ’n onbepaalde tyd ’n negatiewe kredietgeskiedenis het, op bedrog van toepassing te maak, sal die finansiële bedryf se vermoë om homself teen bedrog te beskerm, ondermyn. Boonop sal dit bedrieërs beskerm en nie die slagoffers van bedrog nie.
Manie van Schalkwyk, uitvoerende direkteur van die SAFPS, sê dit maak nie sin dat bedrieërs ná ’n jaar weer met ’n skoon blaadjie kon begin, terwyl mense wat insolvent verklaar is tien jaar lank met dié geskiedenis gesit het nie. Hy sê die SAFPS het in 2017 sy kliënte minstens R2 miljard se bedrog gespaar.